AfriForum gaan Tom Moyane vervolg vir ‘aanranding’ van kleinkind se ma

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gedurende vanoggend se mediakonferensie. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het Donderdagoggend aangekondig dat die eenheid Tom Moyane, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), privaat gaan vervolg vir die beweerde aanranding van die ma van sy kleinkind in 2018.

Moyane was ten tyde van die voorval aan die stuur van sake by die inkomstediens.

Volgens Nel het sy eenheid ʼn nolle prosequi-sertifikaat bekom om Moyane privaat namens Lerato Maila te vervolg op ʼn klag van aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer. Hy word ook van saakbeskadiging aangekla. Maila was ten tyde van die voorval in Mei verlede jaar in ʼn verhouding met Moyane se seun.

Maila voer aan dat Moyane haar op 14 Mei verlede jaar in sy huis in Roodepoort, Gauteng, op haar maag gekrap, rondgestamp en in die gesig geskop het. Die voormalige kommissaris het glo ook voor die beweerde aanranding haar selfoon teen ’n muur stukkend gegooi toe sy hom op dié selfoon opgeneem het.

Nel vertel dat gemeenskapslede sy eenheid kort ná die voorval genader het om ondersoek in te stel.

“Die tydlyn rakende die saak is baie belangrik. Die voorval het op 14 Mei 2018 plaasgevind. Op 28 Mei 2018 is die saak reeds teruggetrek en die staat het geweier om te vervolg,” het Nel gedurende ʼn mediakonferensie gesê.

Volgens Nel het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit om nie Moyane te vervolg nie, weens ʼn tekort aan bewyse en die oortuiging dat daar geen redelike kans op suksesvolle vervolging is nie.

“Die sertifikaat wat AfriForum bekom het, is egter slegs drie maande geldig en die eenheid het slegs 90 dae om vervolging in te stel. Die eenheid beplan dus om Moyane ‘eerder gouer as later’ in ʼn hof te kry,” verduidelik Nel.

Op ʼn vraag waarom Nel se eenheid glo hulle wel Moyane suksesvol sal kan vervolg, het Nel geantwoord: “Ons is besig om ʼn konsep van privaatvervolging te vorm. Dit is vir ons opwindend. Hierdie saak is vir ons groot. Hierdie saak doen ons sonder aansiens des persoons. Ons kyk nie wie dit is nie, vir ons gaan dit oor die beginsel.”

Tom Moyane (Foto: Sizwe Ndingane/ANA)

Dié beginsel is die onreg van geweld teenoor vroue en kinders.

“Die NVG se versuim om hom te vervolg, is ook ʼn growwe skending van hul grondwetlike plig om geregtigheid in die samelewing na te streef.”

Daar is gedurende vanoggend se konferensie ook bekend gemaak dat Nel se eenheid ʼn mandamus-aansoek op die NVG beteken het om die NVG deur die hof te dwing om te besluit of hulle Julius Malema, leier van die EFF, gaan vervolg op aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery.

Dié aanklagte hou verband met die destydse On-Point Engineering-skandaal.

Maroela Media het vroeër berig die staat het destyds aangevoer Malema en familielede het hulself valslik voorgedoen aan die departement van paaie en vervoer in Limpopo. Dit het daartoe gelei dat ʼn tender van R52 miljoen aan On-Point Engineering, ʼn maatskappy wat deur Malema besit is, toegeken is.

Die saak is in 2015 van die hofrol geskrap en AfriForum spook sedertdien om die saak weer in te stel. Hoewel die NVG ingestem het om teen Augustus 2018 te besluit oor ʼn herinstelling, is daar tot op hede geen besluit geneem nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gedurende vanoggend se mediakonferensie. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

Die datum vir die opponering van die aansoek is eers vir 20 Julie 2020 op die hofrol geplaas. Die NVG het nou 20 dae om die aansoek teen te staan.

“Dit gaan nie net oor Malema nie. Dit gaan daaroor dat niemand in hoë posisies moet dink dat hulle onaantasbaar is nie. Dit maak nie saak wat jou van is nie. Of jou van Kriel of Malema is, jy moet weet as jy die wet oortree, jy vervolg gaan word. Ons gaan toesien dat Malema sy dag in die hof kry,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

ap ·

kry hom eerder agter tralies vir die guptas se geldwassery , wat alles uit die land is , net hy kon dit fasiliteer/goedkeur dis hoekom zuma hom daar aangestel het.

oelof van wyk ·

Ag shame. Is daar nie ernstige sake waaraan julle kan aandag gee nie.

Jaco ·

Rerig AF!,Julle hou julle met bollie besig. Gebruik eerder hierdie geld om omstandighede op plattelandse dorpe te verbeter.

Abe ·

Jaco,
Net sake waarin jy direk belang by het is vir jou belangrik. Ander sake is vir jou bollie. Lees die berig weer

Andrea van Vuren ·

Gerrie Nel, jy werp jou kosbare pêrels voor die swyne. Gaan groter. Wat het van oorle Mugabe se vrou se saak geword?

Mooi Gert ·

Goed so. ek wou eers se wat de dinges, ons het mos genoeg mense wat sy hulp nodig het. Maar hy het my vraag beantwoord. Dit gaan oor beginsel en nie oor die arme maila nie.

Johan Etz ·

Ek lees redelik baie – sien egter niks wat daarop dui dat Gerrie enige suksesse met sy sake behaal nie?

Tom ·

Hulle het daarin geslaag om die staat te dwing om Duduzane Zuma te vervolg.

sweis ·

Ek waardeer Afriforum se poging om wet en orde aan te help ,my vraag is net wanneer vat julle die regering na die wêreldhof om die apartheid wette teen wít minderhede agv hulle velkleur te stop en te skrap.

Pieter ·

Ja so mors afriforum ons geld en zuma het niks oor gekom nie ons almal weet mos nou al daai spesie word beskerm

daleen ·

@Johan Etz – stem volkolme saam met jou, hy’s net meer bek as binne goed

Abe ·

BenvR,
Ja, Ben, goed geantwoord. Ek is bly iemand verduidelik aan die kommentators wat nog nie verstaan nie, die doel en waarde van ‘n onafhanklike vervolgingsgesag.
My dank en waardering aan Gerrie Nel en AfriForum.

BenvR ·

Dit lyk my Gerrie hulle se doel dring nie deur tot sommige mense nie. Hulle poog om aandag te vestig op belangrike persone wat nie dieselfde as ons gewone burgers deur die regstelsel hanteer word nie. Dit gaan nie oor die aard vd oortreding nie! Kyk hoeveel skelmstreke kom nou al uit al die kommissies maar niemand sit nog in die tronk nie!
Dankie Gerrie, my bydra word goed spandeer

Abe ·

Wessel,
Ag, my liewe vader, Wessel. Wat op aarde beteken “smoke and mirrors”? Of is jy nou so witty dat niemand jou moet verstaan nie?

Feite ·

Plaas was julle so beginselvas toe afriforum “vreeslik hard” geveg het om afrikaans te behou by universiteite, maar ja toe nou nie en nou is die afrikaanssprekendes een van hulle waardevolste erfenisskatte kwyt danksy afriforum. Afriforum se beginselsake het die afrikaanssprekendes gefaal, maar snaaks dat julle beginsels nie die Mailas faal nie. Ek dink julle moet eerder julle prioriteite teenoor die afrikaanssprekendes begin uitsorteer, want julle skuld die afrikaanssprekendes “big time”, juis agv n gebrek aan beginsels!

Tom ·

Rêrig? Jou kritiek is kwalik geregverdig. Die universiteit het hulle beleid verander. Niemand anders het iets gedoen nie.

Daan Erasmus ·

As ‘n AfriForum lid is ek trots op Gerrie se werk. Wat Afrikaans op universiteite betref is daar baie, maar baie ingeligte mense wat beweer dit is in AfriForum se finansiële belang dat Afrikaans afgeskaf word. Dit is meer studente vir AfriForum se eie Universiteit

Die uwe, Realiteit ·

Haai @Feite my innige en opregte simpatie. Die wêreld is darem maar ‘n wrede plek nê. Maar moet asseblief nie alleen voel nie.

Die wêreld skuld al die onderpresteers.
;-)

Patch ·

@Johan Etz – sekondeer. Altyd groot nuus as hy iemand vervolg en dan hoor en lees jy amper nie weer daarvan nie.

staaksaam ·

Gee net kans, julle sal nog gevra word om per sms n bydra te maak vir die saak.

Pieter ·

Stem saam afriforum moet dink aan n plan hoe ons die ANC kan stop om ons belasting geld so te mors nou spandeer hulle ons lede geld op nonsens los die goed daai spesie is so gebore ek gaan my lede gestop

ChrisE ·

Ek weet nou wragtag waar nie wat Afriforum met die saak gaan bereik nie. Bepaal julle eerder by die doel en missie van jul organisasie. Los die ander mense uit. Julle gaan jul naam met ‘n plank slaan.

Tom ·

Monyane sal in die hof moet verskyn en sy saak verdedig. Dit kos geld. As hy getuig sal hy kruisverhoor word. Dit sal baie onaangenaam wees want Gerrie gaan dit doen. En uiteindelik dalk ‘n skuldigbevinding en straf. Hoe klink dit?

Arak ·

Hoe meer ek van ons regstelsel sien, hoe minder vertroue boesem dit in. Ek hoop AF is suksesvol, maar wie gaan regspraak verseker met regters wat tans so partydig is?

Tom ·

Afriforum het geen skool gebou nie. Hulle het die gemeenskap gehelp om te slaag met hulle eis teen staat dat lg die skool moet bou.

stormrider ·

Ek vra nederig en sonder die bedoeling van ‘n konfrontasie of Afriforum dit dalk asseblief net vir ons gewone mense wat bydraes lewer kan duidelik maak waarom noodsaaklike hulpbronne bestee word op sake wat weinig impak het op die struikelblokke wat ons in die gesig staar. Wat presies is Adv Nel se mandaat by Afriforum?

Db ·

Sien hierdie wese gisteraand op die nuus en glo ek nou dat Mr Min alle stof kan verwyder as ek so na daardie blink kop van hom gekyk het. Daar is geen einde aan hom nie en hoop ek Gerrie Nel gee hom al sy hel

Feite ·

@Tom en sommer ook Realiteit. Indien julle tweetjies reken dat my kritiek nie geregverdig is nie, dink weer mooi vir n slag oor die feite van die hofuitspraak van afriforum vs UV. Die regter se uitspraak asook verskeie kenners was dit eens dat afriforum tydens die hofsaak met hulle argumente alles in hulle vermoe gedoen het om n ongunstige uitslag vir afrikaans te bewerkstellig. Inderdaad kon die regter nie anders as om n ongunstige uitspraak teen afrikaans te lewer. Hierdie uitspraak was die begin van die einde van afrikaans deurdat owerhede en hofsake wat daarna gevolg het, hulle op die uitspraak beroep het en beleid by universiteite begin aanpas het. Selfs universiteitspersoneel het in die media kommer uitgespreek dat afriforum in onderhandelinge met universiteitsowerhede geensins gepoog het om hulle saak gunstig te stel nie, maar juis ongunstig. Wanneer alles en ek bedoek letterlik alles in ag geneem word vanaf die ontstaan van afriforum dan bestaan daar geen twyfel dat afriforum inderdaad aandadig is aan die uitfassering van afrikaans by universiteite ten einde n sakeryk te bou uit afrikaans met private universiteite as enigste heenkome vir afrikaanssprekendes. Afriforum het dus veroorsaak dat afrikaanssprekendes hulle afrikaanse universiteite erfenis kwyt is deurdat die forum nie geveg het om afrikaans te behou by universiteite nie, maar geveg het om afrikaans te laat sneuwel. Julle tweetjies is welkom om die teendeel te bewys, maar pasop daar is nog meer kritiek gebaseer op feite oppad!

Andrea van Vuren ·

Feite, jy het ‘n gordyn oopgeskuif wat my die lig laat sien het. As Afrikaner huil ek in my hart dat my kleinkinders nou in Engels moet studeer by my alma mater UP….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.