AfriForum gaan Zuma-appèl teenstaan

Oudpres. Jacob Zuma tydens ‘n vroeëre hofverskyning in Pietermaritzburg. (Foto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het aangedui dat hy oudpres. Zuma se aansoek om appèl in die hof in Johannesburg gaan teenstaan.

Die hof sal Zuma se appèl teen die besluit om hom terug tronk toe te stuur, Dinsdag om 10:00 aanhoor.

“AfriForum se regspan sal op 21 Desember 2021 redes aanvoer oor waarom Jacob Zuma se poging om appèl aan te teken teen die hof se beslissing dat die besluit om sy mediese parool toe te staan onwettig was, eenvoudig ’n mors van die howe se tyd is,” sê die organisasie in ʼn verklaring.

Zuma se regspan sal op dieselfde dag voor die hof verskyn om aan te voer waarom hulle teen die uitspraak wil appelleer. AfriForum se regspan is van mening dat Zuma se appèlaansoek geen redelike kans het om te slaag nie.

Die hof het Woensdag beslis dat Zuma se vrylating op mediese parool onreëlmatig was en dié besluit ter syde gestel. Die hof het voorts beveel dat Zuma moet teruggaan tronk toe om die res van sy tronkstraf uit te dien. Die tydperk wat hy op mediese parool vrygelaat was, mag boonop nie deel vorm van die 15 maande tronkstraf wat die Konstitusionele Hof hom vroeër vir minagting opgelê het nie.

Die burgerregteorganisasie Sanco het intussen sy misnoeë met die hof se beslissing verlede week uitgespreek en sê dit is duidelik dat die howe wil inmeng met die regerende gesag, in wie se mag dit is om gevangenes op mediese parool te plaas.

Hulle noem die besluit ʼn “volgehoue ongeregtigheid” teenoor die oudpresident en sê dat sy fundamentele regte as ʼn Suid-Afrikaner en ʼn pensioenaris hierdeur misken word.

Hulle het ook gewaarsku dat volgehoue aanslae op Zuma ʼn uitwerking op die “vrede en stabiliteit van die land in die algemeen” kan hê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.