AfriForum gee Vrystaatse regering se webtuiste by OB aan

vrystaat webwerfAs deel van ʼn ondersoek na beweerde onreëlmatighede in die toekenning van ʼn tender aan Cherry Ikamva Jugganaut Joint Venture (CIJ) om die Vrystaatse Provinsiale Regering se webwerf te herontwerp, het die burgerregte-organisasie AfriForum op 29 April 2014 ʼn verslag aan die Openbare Beskermer oorhandig.

AfriForum het ʼn evaluering van die webwerf gedoen ten einde dit met bedryfstandaarde vir webontwikkeling en pryse te vergelyk. Volgens Johan Nortjé, ʼn navorser by AfriForum, is dokumentasie van die Vrystaatse Provinsiale Regering ingevolge artikel 18 (1) van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting aangevra en verkry.

Die ondersoek het ten doel gehad om die volgende te bepaal: (i) of die dienste wat CIJ gelewer het in ooreenstemming met die tenderspesifikasies was; (ii) of die Vrystaatse Provinsiale Regering, en by implikasie die fiskus, bewus was van die omvang van die voordeel soos in die tender bepaal; en (iii) of die koste in ooreenstemming met bedryfstandaarde is.

Volgens CW Els, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Vrystaat, dit is hoogs onwaarskynlik dat CIJ veel tyd bestee het aan die funksionaliteit van die ontwerp aangesien die template pasklaar gekoop is. Dit wil voorkom of CIJ gewoon die beskikbare templaat gebruik het om die inligting weer te gee eerder as om ʼn templaat te skep.

Els sê dat die OB die saak met die nodige erns benader en dat AfriForum met die OB se kantoor in gesprek sal bly sodat die saak tot voordeel van die belastingbetaler opgelos kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.