AfriForum gekant teen hersiening van Gautengse beheerliggaamregulasies

(Argieffoto: Unsplash)

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan nie terugsit en toekyk hoe voorgestelde wysigings aan beheerliggaamregulasies vir openbare skole in Gauteng ongesiens aangeneem word nie.

AfriForum het Vrydag kommentaar op die voorgestelde wysigings ingedien nadat die voorstelle reeds op 1 November in ʼn buitengewone uitgawe van die Provinsiale Staatskoerant gepubliseer is.

Die wysigings het onder meer betrekking op die samestelling van beheerliggame van skole met leerders met spesiale behoeftes. Verder fokus dit ook op kwessies soos kworumvoorskrifte en waarnemers by verkiesings.

Daar word ook voorgestel dat ʼn persoon nie op die beheerliggaam van meer as een skool mag dien nie, wat volgens AfriForum veral moeilik in kleiner gemeenskappe is. Dit word boonop nie eens in die nasionale riglyne vir beheerliggame verbied nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is die tydsberekening vir die hersiening van die regulasies vreemd.

“Die nasionale beheerliggaamverkiesings sal vroeg volgende jaar plaasvind en dit is duidelik dat van die hersieningsvoorstelle daarop gerig is, maar indien daar probleme met die vorige verkiesing was, was daar meer as twee jaar waarin die probleme uitgestryk kon word,” sê sy.

“Nou word ʼn raadplegingproses onderneem in een van die besigste maande van die jaar, met beperkte kennisgewing aan belanghebbendes.”

Belanghebbendes het geleentheid tot 30 November om skriftelike kommentaar op die voorgestelde wysigings in te dien.

In AfriForum se kommentaar oor die wysigings word beklemtoon dat die huidige kworumvereistes werk en nie aangepas moet word nie. Verder word gewys op voorskrifte wat nie met die nasionale riglyne strook nie, en terme wat nie behoorlik gedefinieer word nie.

“Daar word byvoorbeeld bepaal dat beheerliggame liasseerstelsels moet byhou, maar die formaat word nie bepaal nie, wat die langtermynbewaring van dokumente op risiko kan plaas,” sê Bailey.

AfriForum het ʼn beroep op alle onderwysinstellings en belanghebbendes gedoen om op kennisgewings oor die hersiening van bestaande wette en regulasies bedag te wees en aan raadplegingsprosesse deel te neem.

“Dít sluit geleenthede vir kommentaar in die onderskeie provinsies op die omstrede Bela-wetsontwerp in.”

Die ANC en EFF het reeds vroeër vanjaar tydens ʼn vergadering van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys om die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette te bespreek, geëis dat skoolbeheerliggame van hulle magte gestroop word.

Solidariteit het destyds aangevoer dat die regerende party besig is om ʼn kaping van Suid-Afrikaanse skole te probeer deurvoer.

  • Skriftelike kommentaar oor die voorgestelde wysigings aan beheerliggaamregulasies vir Gautengse openbare skole kan by [email protected] ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Kern korrup, desperaat voor die leë vreet krippe, desperaat vir elke moontlike omkoop bare stem…voer hulle anargie beleid bloot deur. ANC LEGACY van verwoesting!

koos10 ·

Wat verstaan wie nie. Die ANC gaan enige iets en alles doen om die verkiesing te wen, ongeag die gevolge en nagevolge. Hulle sal die land en sy burgers verwoes ter wille van ‘n paar stemme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.