AfriForum help koninklike familie met historiese oorwinning

Barend Uys (middel) saam met lede van die Barolong Boo Seleka- koninklike familie

Die Barolong Boo Seleka- koninklike familie het met die ondersteuning van die burgerregte-organisasie AfriForum ’n historiese oorwinning behaal.

Die appèlhof het Donderdag ’n historiese bevel in die guns van die koninklike familie van die Barolong Boo Seleka- tradisionele gemeenskap van Thaba ’Nchu toegestaan. Die koninklike familie is deur AfriForum ondersteun in hul aansoek om verlof tot appèl en dié appèlsaak.

Dít volg nadat ’n dispuutgroep ontstaan het ná die koninklike familie kgosatsana (prinses) Moipone Moroka aangewys het om haar broer, kgosi Gaopalelwe Moroka, ná sy afsterwe as kgosi op te volg. Dié groep was na bewering ontevrede met die aanstelling van ’n vrou in hierdie senior tradisionele leiersrol.

Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, het die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -eise destyds opdrag gegee om die saak te ondersoek.

Tydens hierdie ondersoek het die dispuutgroep die gronde van hul beswaar gewysig en aangevoer dat die regerende koninklike familie se aanspraak op die leierskap ongeldig is weens die beweerde onbehoorlike opvolging van kgosi Moroka II deur kgosi Tshipinare in 1880, ongeveer 140 jaar gelede.

Op grond van ’n baie gebrekkige verslag deur die kommissie het Magashule besluit om die leierskap van die regerende koninklike familie van die Barolong Boo Seleka te beëindig, wat aanleiding gegee het tot die regstryd.

Die hof het beslis dat die appèl met koste toegestaan word, die bevindinge en aanbevelings van die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -eise rakende die senior tradisionele leiersposisie van die Barolong Boo Seleka hersien en tersyde gestel moet word en die besluit van die premier van die Vrystaat, wat die bevindinge en aanbevelings van die kommissie aanvaar, hersien en tersyde gestel moet word.

Die premier van die Vrystaat is ook beveel om die koste van die aansoek te betaal.

Barend Uys. Foto: Verskaf.

“Sommige glo in strydwaens, ons het en glo steeds in God. Ons gee Hom die eer van hierdie oorwinning. Dit was ’n baie hartseer en pynlike reis, maar die God van geregtigheid het geseëvier! Ons het die lang stryd vir ons opperhoofskap gewen. Ons stort trane van blydskap, ons het nie genoeg woorde om AfriForum te bedank vir hul ondersteuning gedurende hierdie uitdagende tyd nie,” sê kgosatsana Gabo Moroka, woordvoerder van die koninklike familie.

“Hierdie saak dien as bewys dat kulturele gemeenskappe dít wat goed en mooi is in die verlede kan soek en dan daardie wysheid van ons voorouers kan gebruik om saam ’n toekoms te bou. Kgosi Moroka II het die Afrikaners tydens die 1830’s gehelp in ons uur van nood en in die dekades daarna was hy ook ’n belangrike bondgenoot en vriend. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om ’n ou vriendskap te laat herleef en dieselfde koninklike familie in ’n tyd van nood by te staan,” sê Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Die saak het verder ’n belangrike regspresedent geskep met betrekking tot die gesag van die Kommissie vir Tradisionele Leierskapdispute en -eise.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.