AfriForum help Limpopo-munisipaliteit met water, riool

Argieffoto

Die burgerregtegroep en die Mookgophong-Modimolle- plaaslike munisipaliteit in Limpopo het vandeesweek ʼn adviesooreenkoms gesluit, wat bepaal dat AfriForum dié munisipaliteit met raad oor water- en sanitasiedienste sal bystaan. AfriForum sal ook toegang tot die aanlegte en munisipale inligting hê.

Die DA het dié ooreenkoms verwelkom en dit beskryf as die soort inklusiewe benadering wat alle fasette van die samelewing moet nastreef.

“Die Mookgophong-Modimolle-munisipaliteit is die produk van ʼn samesmelting van twee verskillende munisipaliteite wat albei jare lank wanbestuur is. Die nuwe munisipaliteit het nooit die nodige ondersteuning ontvang om daarvan ʼn sukses te maak nie, maar dié ooreenkoms sal egter die munisipaliteit in staat stel om sy hulpbronne ten volle te benut,” het Cilliers Brink, die DA se skaduminister van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, gesê.

Volgens Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is dié ooreenkoms die eerste van sy soort vir die organisasie.

“Die munisipaliteit se gewilligheid om ʼn ooreenkoms met AfriForum te sluit, is ʼn groot stap na ʼn meer deelnemende bestuursmodel vir munisipaliteite en gemeenskapsgebaseerde organisasies. Ons het toegang tot uitgebreide spesialiskennis en -ervaring binne ons ledebasis en ons wil munisipaliteite help om uitnemende vlakke van dienslewering te bereik,” het hy gesê.

Marlene van Staden, burgemeester van die munisipaliteit, het gesê die tyd vir só ʼn ooreenkoms is lank uitstaande.

“Dit is ons doel om dienslewering aan alle gemeenskappe te verbeter. Dit vat egter tyd en kennis om jare lange verwaarlosing en ondoeltreffende stelsels om te keer en daarom huiwer ons glad nie om hande te vat met gemeenskapsorganisasies wat gewillig is om ʼn bydrae te lewer nie.”

Dit is nie die eerste keer dat AfriForum betrokke raak by munisipaliteite in nood nie. AfriForum en die dienstemaatskappy Pionier het meer onlangs die water- en rioolaanlegte van Koster en Swartruggens in die provinsie Noordwes suksesvol bestuur. Die hof het in Junie egter die bestuur van die waterwerke weer onder die munisipaliteit se beheer geplaas.

“Hopelik sal hierdie ooreenkoms ander munisipaliteite wie se water- en riooldienste in ʼn benarde toestand is, motiveer om saam met AfriForum te werk sodat behoorlike en betroubare dienste aan alle gemeenskappe gelewer kan word,” het Kruger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

En na die munisipale verkiesing sit die munisipaliteit met ‘n sterker ANC die mense moet sien en leer dat die ANC nie die vermoë het om te lei nie en sodoende ‘n beter lewe vir almal kry deur van hulle stem vir die regte party te gee.

Chris dupreez ·

En hier moet die ,, rassistiese,, afriforum weer uithelp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.