
Vullis word te midde van die staking onder ‘n wakende oog verwyder. Lede van AfriForum het ingespring om met die vulliskrisis te help. (Foto: Verskaf)
Lede van die burgerregteorganisasie AfriForum in Pretoria het ingespring om inwoners met die voortslepende krisis met onder meer vullisverwydering in die stad – wat lamgelê is deur ʼn onwettige staking van sommige Samwu-lede – te help.
Inwoners is raadop weens gebrekkige dienslewering wat deur die staking veroorsaak word.
Betsie Basson, die raadslid vir wyk 45, het AfriForum se Garsfontein-tak wat Faerie Glen insluit, gevra om met die vullisverwyderingskrisis te help nadat verskeie gebiede se vullis sowat ʼn maand laas verwyder is.
Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, sê terwyl die Tshwane-metro probeer om dienslewering voort te sit, maak stakende werkers dit haas onmoontlik.
Talle werkers van die metro staak ná ʼn raadsbesluit om nie salarisverhogings in sy 2023-’24-begroting toe te staan nie. Verskeie stakers is reeds afgedank, onder wie verskeie wat as aanhitsers van die onregmatige optrede geïdentifiseer is.
“AfriForum verstaan dat die onwettige staking enorme druk plaas op die Tshwane-metro se diensleweringsvermoë, en daarom het die Garsfontein-tak besluit om raadslid Basson en die breër gemeenskap te help,” sê Ungerer.

‘n Private kontrakteur verwyder vullis in die ooste van Pretoria nadat AfriForum ingespring het om te help. (Foto: AfriForum)
Die tak het ná oorweging van verskeie moontlikhede besluit om ʼn private maatskappy te gebruik om die vullisverwydering te behartig en inwoners só te help.
“Hierdie inisiatief is slegs ʼn tydlike oplossing, maar AfriForum-strukture in die Tshwane-metro sal met ander rolspelers saamwerk om oplossings te vind om gemeenskappe binne ons vermoë te help. Ek wil ook graag Forum Sekuriteit en Golan Tactical bedank dat hulle seker gemaak het dat almal veilig is,” sê Ungerer.
Basson het ook AfriForum se Garsfontein-tak bedank vir hul steun.
“Hulle het in hierdie buitengewone tye sonder huiwering ingestem om die gemeenskap tegemoet te kom. Dit is goed om te weet dat ons kan saamwerk om verandering te bring tot voordeel van ons gemeenskappe,” sê Basson.
- Die DA in Tshwane het Vrydagoggend strafregtelike klagte aanhangig gemaak teen die onwettige Samwu-stakers weens aantygings van sabotasie, sameswering om te ontvoer en die opset om ernstig te beseer. Die klagte volg nadat ʼn fluitjieblaser na vore gekom het met Telegram-boodskappe waarin bekende Samwu-lede glo verskeie sabotasieplanne bespreek oor die voortslepende onwettige staking. Lees hier meer oor die staking.
Hulle is n goeie voorbeeld vir anders.
Is daar ‘n beurtlys beskikbaar wat aandui wanneer AfriForm vullis in die verskillende buurte in Pretoria gaan verwyder?
Bel jou Afriforum tak in Pretoria
Dankie AF
Ek dink AfriForum se Garsfontein tak is beslis die beste. Dis nie die eerste keer dat ons van hulle hoor nie.
Baie baie dankie en welgedaan.
Ek gaan moot stem,ek het n huis in waverley en sien hulle gereeld besig met munisipale werk.
Ek hou daarvan as verkiesings tyd naderkom want vir n slag sien jy sien jy die lot war net praat en bedel iets doen Nie dat hulle veel doen nie maar beter as hulle gekla en kerm
Dankie Afriforum! Julle stel ñ goeie voorbeeld.
Hopelik betaal die munisipaliteit Afriforum vir die diens gelewer, siende dat
(1) ons die stad betaal vir die diens
(2) dat die raadslid Afriforum versoek het om te help
(3) dat die stad die fondse wat aan lone uitbetaal sou word eenvoudig kan hertoewys.
Glo my, dierbare Lourens, al is die stad DA-bestuur … daai fondse t.o.v. lone sál her-toegewys word ……….. in die naaste, beste, ANC-kader munispale stadsraadslid se sak!
Ek sien al vir 16 dae GEEN diens nie. Ons asblikke begin al stink.