AfriForum in hof oor Kuba-skenking

(Foto: Yamil LAGE/AFP)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Donderdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria verskyn om ʼn dringende interdik te bekom om die regering se reuseskenking aan Kuba te stuit.

Die uitspraak hierin is voorbehou.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het vroeër onderneem om R50 miljoen aan Kuba te skenk in ʼn poging om die voedseltekort in dié land te takel.

Dié besluit is wyd veroordeel in die lig van stygende werkloosheid en armoede op eie bodem.

AfriForum het in die lig hiervan onderneem om die hof oor die “irrasionele en onwettige” skenking te nader.

Volgens Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, is die aansoek om ʼn interdik daarteen te bekom die eerste deel van AfriForum se aansoek.

Die tweede deel behels ʼn hersieningsaansoek om die besluit om die gelde aan Kuba te skenk eerder om te keer. Dié deel van die aansoek sal op ʼn latere datum aangehoor word.

“AfriForum het hierdie aansoek ingedien om te keer dat die broodnodige geld op Kuba verkwis word,” sê Duvenage.

“Die beplande skenking is skandelik en beledigend, veral in die lig daarvan dat die regering byvoorbeeld nie eens die huurgeld vir kritiek noodsaaklike staatsdepartemente se kantore kan bekostig nie.”

Die regering skuld glo miljoene rande aan huurgeld vir kantore in die middestad van Pretoria.

AfriForum voer aan dat sy regsargument gegrond word op ʼn reeks ongerymdhede in die verkryging van die geld vir die skenking.

“Eerstens het Dirco surplusfondse van 2020 na 2021 oorgedra, hoewel die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) bepaal dat geld nie na ʼn volgende jaar oorgedra mag word nie,” sê Duvenage.

“Aangesien dit reeds 2022 is, moes die geld aan die nasionale tesourie terugbetaal word.”

Ingevolge die PFMA moes die nasionale wetgewer ook elke betaling van meer as R100 000 goedkeur, maar omdat dit nie plaasgevind het nie, is die behoorlike parlementêre proses nie gevolg om die skenking te behartig nie.

“Die regering moet vergeet van skenkings aan hul ideologiese trawante in Kuba en daarop fokus om probleme in Suid-Afrika, wat deur hul eie onbevoegdheid en korrupsie veroorsaak is, op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
domheks

Mooi so!!!

Fran

Mooi Afriforum! Dom, dommer,domste.

Manie

Wanneer skenk die regering dieselfde bedrag vir humanitêre hulp aan die burgers van Oekraine wat ook dringend kos en mediese hulp benodig?

henndrik

Het Maroela media nie onlangs berig dat Dirco in die parlement aangedui het die geld is reeds oorbetaal nie?

Bernard

Die ANC se optredes word gekker by die dag. Is dit dié misdaadsindikaat se laaste stuiptrekkings?