AfriForum Jeug bou voort aan Afrikaans ongeag teenstand

Foto: AfriForum Jeug

Foto: AfriForum Jeug

AfriForum Jeug het vandag as deel van sy #AfrikaansSalBly-veldtog en om Afrikaans se 91ste bestaansjaar te vier tydelike taalmonumente uit Jenga-blokke gebou waarop daar Afrikaanse woorde gedruk is. As deel van dié vieringe is daar ook 91 ballonne losgelaat. Dié simboliese aksie is op die hoofkampusse van die Universiteit van Pretoria (UP), Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU) gehou, maar is egter verskillend op die onderskeie kampusse ontvang.

Talle studente en dosente aan die UV en NWU het aan die aksie op dié kampusse deelgeneem en die uitbou van Afrikaans verwelkom. Die aksie het sonder ontwrigting en in goeie gees plaasgevind.

Op die US- en UP-kampusse is dié aksie egter ontwrig.

Lede van die EFF het by Rooiplein op die US-kampus opgedaag, ʼn sinkhuis opgerig, braaiers aangedra en vure aangesteek wat nie deur die kampussekuriteit gemagtig is nie. Lede van die AfriForum Jeug-tak by die universiteit het die brandweer en die kampussekuriteit in kennis gestel, waarna dié sekuriteit die vure geblus het en die studente aangesê het om die perseel te verlaat. AfriForum Jeug mag egter met hulle aksie voortgegaan het, wat deur talle studente ondersteun is.

Op die UP-kampus is die tydelike monument wat uit die Jenga-blokke en woorde gebou is deur kampussekuriteit afgebreek en gekonfiskeer, hoewel AfriForum Jeug geen universiteitsreëls oortree het nie.

“Ongeag die voorvalle by US en UP is AfriForum Jeug van mening dat die aksie ’n reusesukses was. Afrikaans het ’n plek in hoër onderwys en die doel van dié aksie was om Afrikaans as taal te vier en uit te bou. Dit was wonderlik om te sien hoeveel studente steeds ’n liefde vir Afrikaans toon en ook vir die behoud van die taal staan,” het Janli Sonntag, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder, gesê.

Studente wat in Afrikaans studeer, staan ’n kans staan om ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 te wen. SMS jou naam en die naam van jou kampus na 32687 (R1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

humor ·

Waars die massa?? Die getal op die fotos is maar baie teleurstellend.

Sarie ·

Dis kwaliteit en nie kwantiteit wat hier ter sprake is. Die Gideonsbende was ook min, maar het met integriteit vir dit wat reg is, geveg . Hierdie studente het nie afgebrand nie, maar hulle saak op ‘n beskaafde wyse gestel.

Ben Prinsloo ·

Mooi so Afriforum jeug, baie mense staan agter julle. Hou so aan.

Irene ·

Wys jou hoe dom eff is grbruik nog sinkhuise as polity oohou om op te hou om jalooooers te wees op ons en aan beweeg vorentoe sal daar dalk a beter saaa wees

Gerrit ·

Ons taal ons kultuur ons opvoeding. Moet nooit terugstaan nie en hou aan om ons taal te bevorder. Goed gedaan.

Gerrit ·

Praat afrikaans of hou jou mond. Afrikaans is nou maar net lekker.

Reinhardt ·

Baie trots op my mede Maties. Iets wat ek graag wil uitwys is die feit dat nie almal by die US-kampus stalletjie blank is nie. Dit my vriende, is hoe ons Afrikaans bou. Deur alle dialekte van Afrikaans in te sluit. Niks meer van hierdie “standaard Afrikaans is die enigste Afrikaans nie.”

Nicolise ·

Die probleem van mense wat nie opdaag nie sal altyd daar wees. Natuurlik is die kritiek eerste daar van wat doen Afriforum vir ons. Maar ek kan vandag sê dat ek is trots op hierdie jong mense wat opstaan vir ons taal. Ongelukkig bly ek bietjie ver anders was ek daar maar ek sal ondersteun vir altyd. Kom ons wens hierdie studente sterkte toe vir hulle taak vorentoe en verseker hulle ons sal altyd daar wees vir hulle.

Truidie ·

Ek werk op die UV kampus, en het nie `n woord hiervan gehoor nie. Dalk kom die getalle probleem in by bemarking?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.