AfriForum Jeug eis stappe teen ‘arrogante’ IVSR-lede van NWU

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

AfriForum Jeug het die raad van die Noordwes-Universiteit én prof. Dan Kgwadi, visekanselier, versoek om teen lede van die institusionele verteenwoordigende studenteraad (IVSR) op te tree.

Dít kom nadat lede van die IVSR gister by ʼn mediakonferensie aangevoer het dat Monica van Schalkwyk, ondervoorsitter van die ISVR en voorsitter van die studenteraad van die Potchefstroom-kampus, steeds geskors is en dat hulle hul nie sal steur aan Kgwadi óf die raad se besluit om haar skorsing op te hef nie.

“Ons kan die arrogansie van die IVSR-lede bykans nie glo nie. Ons het ʼn brief aan die NWU gestuur en optrede teen die studente geëis. Die studente tree buite hulle magte op,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

“Die mediakonferensie was ʼn politieke foefie. Die studente wil politiek by studentelewe en spesifiek die Potchefstroom-kampus van die NWU betrek. Dit kom voor asof daar ʼn vendetta teen die kampus en enige organisasie is wat die kampus probeer bystaan.”

Volgens AfriForum Jeug het dit ondertussen onder die organisasie se aandag gekom dat die ontbinding van die IVSR ernstig oorweeg word. “Dié besluit sal egter teweegbring dat daar geen studentestem op die raad sal wees nie, en AfriForum Jeug voel sterk dat studente se stemme gehoor moet word.”

Die studenteraad van die Potchefstroom-kampus het intussen ook ʼn verklaring uitgereik waarin hulle gesê het verteenwoordigers van die studenteraad van die Potchefstroom-kampus is nié na die perskonferensie uitgenooi nie. “Die feit dat hulle die SR-voorsitter se sogenaamde skorsing as motivering vir ons afwesigheid aanbied, is ʼn gerieflikheidsverskoning. Die Potchefstroom-kampus het ook naas Monica drie ander verteenwoordigers op die IVSR. Hoekom was hulle nie uitgenooi na die perskonferensie of die beplanning daarvan nie?”

Volgens die studenteraad blyk dit dat die perskonferensie ʼn poging ter ondersteuning en motivering vir die verandering van die universiteit se bestuursmodel was. Verder was dit ʼn poging om die NWU se bestuursmodel in die politieke arena in te trek.

“Dit het nié gehandel om die universiteit as akademiese instelling vorentoe te neem of om studentebelange te dien nie. Heelwat is op die konferensie oor transformasie gesê. As studenteraad en jongmense, gebore in die nuwe demokratiese Suid-Afrika, werk ons graag saam om transformasie te bewerkstellig, sodat die son oor ons almal kan skyn. In dié verband moet daarop gewys word dat 66% van alle studente (kontak- en afstandonderrig) en 54% van alle kontakstudente op die NWU reeds swart is. Voorts, dat die Potchefstroom-kampus die transformasie teikens, soos deur die raad van die NWU gestel is, behaal,” lui die studenteraad se verklaring.

“Wat ons voorsitter, Monica van Schalkwyk, se skorsing van die IVSR betref, neem ons kennis dat die IVSR die opheffing van dié skorsing vanaf die visekanselier, prof. Kgwadi, nié erken nie. Sy sal hierdie aangeleentheid deur middel van haar eie regsverteenwoordiging hanteer.”

Die studenteraad het gesê hy neem kennis van die IVSR se standpunt dat die saamgevoegde NWU moet ontbind, indien daar nie aan hulle eise voldoen word nie. “Ons is nie ten gunste van so ʼn ontbinding nie omrede hierdie universiteit na tien jaar, onder die top universiteite in Suid-Afrika ressorteer en die bestaande model tans werk.”

Lees ook:
IVSR sê Puk-SR-voorsitter is steeds geskors; NWU benadruk heraanstelling

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.