AfriForum Jeug help NSFAS-studente registreer

(Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

AfriForum Jeug sê sy regspan is Woensdag in kennis gestel dat 51 van die 132 studente wat deur die organisasie verteenwoordig word, toegelaat is om vanjaar by verskeie universiteite te registreer terwyl hul NSFAS-saak nog hangend is.

AfriForum staan die studente by in die saak rakende hul finansiering van die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) wat glo onregmatig opgeskort is.

AfriForum Jeug se regspan het Maandag briewe aan verskeie universiteite gestuur om te vra dat hulle die studente wat deel vorm van die saak, toelaat om te registreer tot die saak afgehandel word.

Chantelle du Preez, nasionale koördineerder van kampusstrukture by AfriForum, sê terugvoer van die Nelson Mandela-universiteit, die Universiteit van die Wes-Kaap, Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria is ontvang om te bevestig dat hulle die studente sal toelaat om te registreer.

Twaalf ander instellings moet nog terugvoer oor die kwessie gee.

“Ons is dankbaar dat die universiteite ons lede tegemoetkom en hierdie studente die kans gee om met hul studie aan te gaan. Die afgelope paar maande se onsekerheid het baie studente moedeloos gelaat en ek glo hulle sal nou weer asem kan haal,” sê Du Preez.

Sy sê AfriForum Jeug sal aanhou optree namens studente wat as “pionne in die politieke spel op kampusse misbruik word”.

Die organisasie se saak teen NSFAS word later vandeesmaand in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.