AfriForum Jeug pak NSFAS in hof

AfriForum Jeug het Maandag briewe aan verskeie universiteite in die land gestuur waarin hy vra dat die groep studente wat AfriForum in ʼn hofsaak teen die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) verteenwoordig, wel kan registreer. Die organisasie glo hierdie studente se NSFAS-finansiering is verlede jaar onregmatig onttrek.

NSFAS het verlede jaar finansiering aan sowat 5 000 goedgekeurde studente om verskeie redes onttrek. AfriForum Jeug verteenwoordig 130 van dié studente wat bewyse kon lewer dat hulle onregmatig van hul finansiering ontneem is.

Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture, sê een van die redes waarom die finansiering onttrek is, was dat die studente wat vir die hulpfonds aansoek gedoen het na bewering bedrog gepleeg het deur valse inligting in te stuur. “Ons kan bewys dat dit egter nie waar is nie,” sê Du Preez.

Nóg ʼn rede wat NSFAS aangevoer het, was dat van die studente se ouers meer as R350 000 per jaar verdien en dus nie kwalifiseer vir die fonds nie. Du Preez sê dit is weereens valse stellings, omdat die ouers op hul betaalstrokies kon aandui dat hulle wel minder as daardie bedrag verdien.

In die briewe aan die universiteite vra AfriForum Jeug dat hierdie groep studente toegelaat word om te registreer sonder om te betaal, aangesien die hofsaak nog nie afgehandel is nie. Boonop is die saak reeds twee keer uitgestel, wat die hele proses verder laat sloer het.

“Met die eerste uitstel was die hof te vol gewees en ander sake is voor ons sʼn ingepas. NSFAS het ook vir meer tyd gevra om al die nodige dokumente vir die saak saam te stel.”

Die saak word nou eindelik op 14 April in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

Du Preez sê intussen moes baie van die studente en hul ouers alternatiewe finansiering probeer kry. Party het selfs hul voertuie verkoop om seker te maak die studente kan registreer.

“Ons vra die universiteite dat hierdie studente nie gestraf moet word vir iets wat buite hul beheer is nie.”

Maroela Media het vroeër berig studente wat verlede jaar sonder finansiering gelaat is, kan steeds nie hul skuld vereffen nie en dus nie voortgaan met hul studie vir vanjaar nie. Studente met uitstaande skuld mag nie registreer tensy ʼn sekere bedrag betaal word nie en hulle mag ook nie toegang tot hul akademiese rekords kry nie, selfs al het hulle hul studie voltooi.

Dit het daartoe gelei dat die registrasietydperk verleng is ná verskeie protesoptredes by tersiêre instellings die afgelope paar weke.

Die jeugorganisasie wag nou vir terugvoer van die verskillende instellings om te hoor of hulle studente tegemoet sal kom totdat die hofsaak afgehandel is. Verdere navrae van studente in verband met NSFAS kan aan [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

akkedismis ·

Dit is ñ hartseer saak vir n briljante skolier wat verder wil studeer. maar nie geld het om sy studies en drome te vervul nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.