AfriForum Jeug: “Tuks-bestuur begrawe nóg ’n tradisie”

Tuks-studente. Argieffoto

Tuks-studente. Argieffoto

Die Universiteit van Pretoria (UP) se bestuur het besluit om die jaarlikse Pot & Pons-koshuistradisie, ’n instelling van TuksJool in samewerking met TuksRes, te kanselleer.

“Nadat ons talle klagtes oor die moontlike afskaffing van Pot & Pons ontvang het, het ons ʼn skrywe aan prof. Mosia, visekanselier van studentesake, gerig waarna die departement van studentesake ʼn vergadering tussen AfriForum Jeug en TuksJool geroep het,” het Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Volgens Oosthuyse het die departement aangevoer dat alkohol tydens vorige Pot & Pons-aksies misbruik is en dat dít die hoofrede was vir die besluit om die tradisie af te skaf.

Oosthuyse het gesê die uitvoerende bestuur van TuksJool het ʼn voorlegging saamgestel met veiligheidsmaatreëls om alkoholmisbruik te beperk, wat tydens die vergadering bespreek is. “Een van die voorstelle in die voorlegging was dat pons slegs elke twee ure tydens die aksie bedien sou word. Die alkoholpersentasie in die pons is ook drasties verminder. Die voorlegging is egter die volgende dag deur prof. Mosia van die hand gewys.”

Oosthuyse het gesê ondanks die feit dat hulle met nuwe idees rakende verantwoordelike alkoholverbruik na vore gekom het, was daar geen tegemoetkoming of akkommodering van die bestuur se kant af nie. “Waar daar vantevore ’n dag van kultuur, pret en eenheid was, is daar nou ’n groot leemte,” het een van die lede van TuksJool gesê.

Luidens ’n brief wat deur prof. Mosia uitgereik is, sien die universiteitsbestuur nie die waarde van die geleentheid in nie. “Die tradisie is volgens die brief ook nie in lyn is met die visie, missie en waardes van die UP is nie. Die brief sê ook dat die UP voortaan in die beste belange van hul studente sal optree, selfs al stem studente nie met die besluite saam nie,” het Oosthuyse gesê.

Cassie Rossouw, Jool HK-lid van die Mopanie-manskoshuis, het hierop geantwoord dat: “Tukkies streef na een van hulle eie doelwitte sonder om die studente se reaksie in ag te neem.”

Volgens Oosthuyse is daar groot ontevredenheid omdat besluite weereens deur die UP-bestuur geneem is sonder enige kommunikasie of bespreking met die studente wat deur die besluit geraak word. “Ons kan nie sien waarom so ’n tradisieryke dag weggeneem moet word nie. Ons belofte aan studente is om te baklei vir gesonde studentetradisies en dus sal ons aanhou vra vir meer gegronde redes, veral omdat maatreëls in plek gestel is.”

Daar is reeds sprake van verdere veranderinge wat by die Jool gaan plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Griet ·

‘n Hartseer dag wanneer die afskaffing van ‘n tradisie wat gebasseer word op die misbruik van alkohol, soveel teenkanting ontlok. By menige unversiteite is die doel en gees van jool jare reeds vervang met die misbruik van onmeetbare hoeveelhede alkohol en die gepaardgaande wangedrag. En dit is ons leiers van môre………”scary thought”!

veronica ·

Hartseer dag as die tradisies sommer so van die tafel gevee word, sommer om ‘n oog te knip! Laat mens net wonder wat eintlik die motief van die verwydering is?? Ek sê maar net!

VerVanRyn ·

Ek dink dit is duidelik ‘n verdere stap om die “ou Afrikaanse tradisies” by die UP te stop. Die misbruik van alkohol kan nie ontken word nie, by talle studente aksies kyk baie studente ongelukkig te diep in die bottel. Hierdie selfde studente kyk immers by elke geleentheid wat hulle kan so diep. Om ‘n aksie bloot te stop sonder om die alternatiewe te ondersoek spreek van ‘n ander agenda wat niks met die alkohol te doen het nie. Dit is goed dat die UP die misbruik van alkohol teenstaan, maar die wyse waarop hulle dit doen wek net te veel agterdog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.