AfriForum Jeug vier nie vanjaar Jeugdag nie

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug

Die burgerregte-organisasie AfriForum Jeug vier nie vanjaar Jeugdag nie omrede die ANC-regering toenemend sy onbevoegdheid ten toon stel en die omstandighede in Suid-Afrika gevolglik ’n al hoe swakker toekomsverwagting vir die Suid-Afrikaanse en Afrikanerjeug daarstel.

Toenemende rasgedrewe en diskriminerende beleide, die weerhouding van geleenthede, asook gruwelike dubbele standaarde het tot gevolg dat die Afrikanerjeug al hoe meer vervreemd in hul geboorteland voel.

“Miljoene rande van belastingbetalers se geld word op Jeugdag aan partytjies spandeer, terwyl talle jongmense van die geleentheid ontneem word om te studeer. Om dié rede sal AfriForum Jeug as deel van die Solidariteit Beweging voortgaan om aan ’n toekoms te bou waarin jong Afrikaners weer tuis in Suid-Afrika sal voel,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Die afgelope jaar is gekenmerk deur betogings deur talle ongelukkige studente en jongmense regoor Suid-Afrika. Minder geleenthede vir jongmense, leë beloftes van ’n beter toekoms en ’n krimpende ekonomie is slegs ’n paar van die oorsake waarom daar geen rede tot feesviering is nie.

“Wanneer die jeug weer ’n toekoms in Suid-Afrika het waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees, sal AfriForum Jeug dié dag vier,” sluit Maree af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leendert ·

Jeugdag 16 Junie, word jaarliks herdenk te nagedagtenis aan die jeug, wat in 1976 opgestaan het teen ongeregtigheid wat teen hulle gepleeg is, dus die swart jeug. Dus 40 jaar gelede. Dus is dit die swart jeug se dag vandag, maar ook nie, want die swart jeug is nou al oor die 40 jaar oud, dis nou al uitgedien, want dit word misbruik teen die ander rasse, so kan die herdinking van daardie dag nog jeugdag genoem word?

Dan wat van jeugdag wat nie ander rassegroepe en kulture uitsluit nie, wat van ‘n “neutrale” jeugdag wat op die jeug van die dag gemik is en nie verdelend en rasgedrewe is soos tans nie. Dit verdeel die land en bring niks na die tafel toe nie.

Adam ·

Leendert, ek geniet jou kommentaar en ek dink daar word hopeloos te veel deur die ANC gewroeg oor die verlede en Jeugdag word verseker misbruik vir rasgedrewe doeleindes. Dod is ek van mening jy maak ‘n basiese denkfout deur te redeneer dat omrede dit 40 jaar gelede gebeur het dit uitgedien is, want dit sou beteken dat Afrikaners Sarel Celliers se gelofte ook moet ignoreer weens die feit dat dit lank gelede plaasgevind het. Ek dink die Afriforum jeug behoort juis Jeugdag te gebruik om die jong mense wat sinvol kan dink te mobiliseer om oor ‘hul toekoms te besin. Indien almal eenkant in ‘n hoekie in sak en as gaan sit, sal ons weinig bereik. Ek dink die Afrikaner het nog steeds ‘n groot rol te speel in die toekoms en die gety sal vir ons draai. Die geskiedenis wys egter dat wanneer bevrydingsbewegings aan bewind kom daar minstens 40 jaar verloop alvorens daadwerklike verandering plaasvind. Die politieke gespuis van vandag sal waaragtig nie vir ewig op die trant kan voortgaan nie.

Leendert ·

Dankie Adam, gaan lees gerus wat ek onder Herman Toerien se artikel “Nuuskommentare en die jeug”, ook van gister se datum, geskryf het. Die ANC het die dag gekaap vir eie gewin en hou alle ander rasse in die land gevange, met wat eintlik “Sowetodag” is. Die Jeug van daardie tyd is nou oor die 50 jaar oud.

Dus sê ek daar, gee die jeug vleuels, gee hulle ‘n toekoms van hul eie, gee Jeugdag aan die jeug om te vier. Die polikuste gebruik daardie dag, 16 Junie (Sowetodag) om die mense tereg aan ongeregtigheid te herinner, maar gee die jeug, alle jeug, dan ‘n ander dag. En moenie dit kaap nie, want dan sluit julle ander rasse uit, julle verpolitiseer dit. Gaan lees gerus daardie skrywe van my. Groetnis, en dankie weer.

Leendert ·

Adam, miskien moet ek hier ook toelig wat ek onderaan Herman Toerien se artikel impliseer het, terwyl jy van Sarel Cilliers praat, 16 Desember is ook mos sedert 1994 deur die ANC gekaap, hulle noem daardie vakansiedag mos versoeningsdag.

Adam ·

Dankie Leendert. Ek stem volkome saam. Dit is ongelooflik om te sien hoe alles gekaap word. Die regering toon geen besef van wat nodig is om die land se wiele behoorlik te laat draai nie, vandaar my voorstel dat die jeug almal wat sinvol kan dink moet mobiliseer om ‘n positiewe bydrae te maak. Die gety sal erens draai en dan kan ons nie weer in ‘n situasie beland soos nou waar ons post 1976 se “no education without liberation” met ‘n geslag van ongeletterdes belas is nie.

Piet Pille ·

Leendert so reg saamgevat. Dankie Afriforum vir jul standpunt

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.