AfriForum Jeug wil hof toe oor opskort van NSFAS-uitbetalings

Virseker_student_rekenaar_pixabay.jp

(Foto: pixabay)

AfriForum Jeug het die hof genader nadat hy klagtes ontvang het van verskeie studente aan tersiêre instellings landwyd oor die uitbetaling van hul beurse deur die nasionale skema vir finansiële bystand vir studente (NSFAS).

Die organisasie sê ongeveer 5 000 studente se NSFAS-uitbetalings is om verskeie redes gestaak.

Hy sê van hierdie redes sluit in dat studente nie eerlik was in hul aansoeke nie of dat hulle nie hul ouers se werklike inkomste verklaar het nie. Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het in Augustus vanjaar aangevoer sommige studente was oneerlik in hul aansoeke. Ná ’n toetshofsaak in die Kaapstadse hooggeregshof het die hof egter bevind dit is nie waar ten opsigte van alle studente nie en dat minstens een student van sy beurs ontneem is omdat NSFAS nie geld het om hom te betaal nie.

AfriForum Jeug sê hy het reeds ʼn brief in dié verband aan NSFAS gerig, maar sê die instelling se “onvoldoende antwoorde” het hom gedwing om ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) te bring.

“Die regering speel met ons jeug se toekoms deur ná soveel maande skielik hul beurse te kanselleer en te beweer dat hulle bedrog gepleeg het. Weens dié besluit dwing hulle jong mense om skuld aan te gaan wat hulle nie voorheen sou gedoen het as hulle van meet af geweet het dat hulle nie vir beurse sou kwalifiseer nie,” het Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir tersiêre instellings, gesê.

“Ons gaan nie toelaat dat jong mense wat aan hul toekoms bou deur die regering gepootjie word nie. AfriForum Jeug sal voortgaan om hierdie studente te help en te verseker dat hulle ontvang wat aan hulle belowe is.”

Du Preez sê AfriForum Jeug het studente tot dusver aangemoedig om die NSFAS-appèlproses te volg sodat alle interne remedies uitgeput kan word voor hulle as ʼn groep in ʼn hofsaak verteenwoordig kan word.

Die organisasie sê hy het ook ʼn aanlyn platform geskep vir studente wat die korrekte prosesse gevolg het en nie hul ouers se finansiële posisie vervals het nie. AfriForum Jeug sal elke aansoek afsonderlik oorweeg om te besluit of die betrokke student by die klas-aksie teen NSFAS en die betrokke tersiêre instelling gevoeg kan word.

Om te kwalifiseer, moes studente die korrekte NSFAS-proses en dié van hul tersiêre instelling gevolg het en die aansoek feitlik korrek en betyds ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie J ·

Dit is sommer twak en nonsens dat n lening gedurende die studiejaar gekanseleer word. Weereens n bewys van kader onbevoegdheid. Kom ons raai. Die oorgrote meerderheid studente wie se beurse nou skielik gekanselleer is, het toevallig Afrikaanse name en vanne.

Martie Smartie ·

En kan Afriforum sommer uitvind waarom slegs studies aan publieke instellings gefinansier word. Waarom word privaat instellings uitgesluit???

Dries ·

Hoe vorder die hofsaak teen die student van Umtata wat miljoene van NSFAS se geld uitgemors het? Dis ook al 3 jaar terug, en onlangse berigte maak dit duidelik dat sy nog lank nie geboet het nie.

Jakes ·

Miskien moet Afriforum ondersoek instel of n student of 2 dalk skielik mljoeners geword het. Wat van die student wat sommer 800,000 in haar rekening ontvang het?

Racheltjie Debeer ·

Ten tyde van my seuns se aansoek was ek werkloos, dus ons besluit om by Nsfas aansoek te doen. My seun se beurs is gekanselleer omdat Nsfas beweer my inkomste vir die 2019-2020 belastingjaar, kwansuis die limiet oorskry het, maar ek het net 5 maande van die jaar gewerk en die aansoek was vir 2020. Sonder rede is dit gekanselleer en nou wil die universiteit ons oorhandig oor ons nie die geld kan betaal nie. Ons sukkel al meer as ‘n maand om ‘n studielening te kry. Asseblief AfriForum, help?

JohanR ·

Sal seker van alle kante gekap word, maar as jy vir enigeiets wil leer sekerlik moet JY daarvoor kan betaal? As universiteit vir jou onbekostig is laat jou oe dan ietsie anders soek. My niggie is reg uit skool uit in ‘n 3 jaar grafiese ontwerp kursus in wat sy kon bekostig. Sy het soe goed gewaar dat toe sy klaar is, het ‘n paar maatskappye haar ge “headhunt.” Sy het nou ‘n lekker werk, en kry ‘n lekker salaris en sy is net 22. Ek self het terug gegaan kollege toe om my A vlak te voltooi. Ek het nooit verwag dat iemand anders moet vir daai jaar betaal nie. Ek het gesukkel en geswoeg maar deurgekom, en ALLES is deur ekke betaal. Goed en wel as jy ‘n beurs losslaan, maar nie, en as jy wil leer dan betaal self! Suid Afrika het te gewoond geraak aan bak hand staan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.