AfriForum kry hofbevel teen Vhembe-distriksmunisipaliteit

Wally Schultz, voorsitter van AfriForum se Louis Trichardt-tak, Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder van Limpopo en Johann Weber, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Oos

Die AfriForum-tak in Louis Trichardt het vandag ’n hofbevel in die Pretoriase hooggeregshof teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit en die burgemeester gekry.

Die hof het gelas dat die munisipaliteit die hofbevele binne 30 dae moet nakom. As dit nie gebeur nie, sal AfriForum ’n minagtingsaansoek bring wat tot inhegtenisneming van die skuldiges sal lei.

Die hofbevel behels onder meer dat die munisipaliteit die dorp se watertoevoer moet herstel, die boorgatprojek weer op die been moet bring, asook die boorgate teen vandale moet beveilig. Die munisipaliteit sal ook kennis moet gee oor wanneer die gemeenskap sonder water gaan wees en vir hoe lank só ’n droogtetydperk sal duur.

Die aansoek is gebring omdat die munisipaliteit misluk het om Louis Trichardt se boorgatinfrastruktuur te onderhou en te beveilig. Die gemeenskap ervaar reeds jare lank ’n probleem met konstante watertoevoer.

“Toegang tot water is ’n basiese grondwetlike reg en belastingbetalers betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Dit is onaanvaarbaar en ons is bly dat die hof dit so ingesien het,” het Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo, gesê. “Die feit dat die munisipaliteit nie opgedaag het om die aansoek teen te staan nie, is ’n verdere aanduiding dat hulle nie vir die gemeenskap omgee nie.”

Volgens Wally Schultz, voorsitter van die AfriForum-tak in Louis Trichardt, vestig desperate inwoners van Louis Trichardt al hulle hoop op hierdie hofsaak sodat die watertoevoer na die dorp ten volle herstel kan word. “Die distriksmunisipaliteit het talle geleenthede gehad om ’n eenvoudige boorgatplan uit te voer wat die waterkrisis sou stuit, maar dit het nie gebeur nie. Ons hoop dat die uitspraak daartoe sal lei dat amptenare nou hul werk begin doen,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ww ·

Ek hoop dat al die inwoners van die dorp ingeskryf is en so hulle deel bydra tot oplossings

Boerseun ·

Net on uit te vind daar is nie geld om die plan uit te voer nie.

Christa ·

Dan moet die belastingbetalers ‘n trust skep en hulle belasting maandeliks daarin inbetaal en al die herstelwerk en onderhoud daaruit finansier!!!

Bittereinder ·

Iemand sal moet hoes, anders is dit minagting van die hof. Hulle sal hulle daaruit natuurlik ook ‘wiggle’.

Scalla ·

Hoekom tot n hof wend, dit is mos deel van die posbeskrywing en pligte, daarvoor ontvang hul ruim vergoeding, wys weereens die onbevoegdheid en comrades wat aangestel word. Hoop hul ore word oopgemaak.

Hierdie keer ·

Hierdie keer stem ek saam met die spelling ‘burgermeester’ instede van ‘burgemeester’ want dit het seker iets te doene met ‘n hamburger. Vol punte MM en los die spelling asb. soos dit huidig is want dis tyd dat dié wat hulle werk doen geskei word van die slappes.

Janie Monsieur ·

Dagsê Hierdie keer,

Dankie vir jou kommnentaar. Jammer vir daai foutjie! Dankie dat jy ons daarop gewys het, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

buks ·

Dankie AfriForum Ltt ons hoop hierna hoef ons nie meer winkel water te gebuik om die toilet af te spoel nie. Vra net dat alles terug moet keer na normaal want na n lang warm dag wil jy die sweet van jou aangesig af was en onthou jy daar is nie water nie.

Versigtig ·

Verstaan dat mense kort water, maar regtig, boorgate. Verstaan ons mense dan nog nie waar al die sinkgate so skielik vandaan kom nie.

Tammy ·

In Witbank gaan dit net so treurig. Kan Afriforum nie groot groot asseblief daar ook n saak maak nie. Party dae is daar nie krag en water nie. Ander dae net een van die noodsaaklike dienste waarvoor betaal word.
Ja, en die munisipale amptenare word enorme salarisse betaal vir pligte waaraan hulle gladnie aandag gee nie. Hulle voel nie eers sleg om daardie salarisse te ontvang nie. Sies man!!!!

Jacqui ·

Knap gedaan Afriforum. Elke regdenkende persoon behoort by julle aan te sluit. Sonder julle was ons land al oor die afgrond

Rabes ·

Afri Forum baie geluk met jul oorwinning, maar rerig boorgate word geplunder? Hoe stupid kan ‘n mens wees om jou noodsaaklike te vernietig. Ek dink die gemeenskap sien dit, maar gee nie om nie.

snoefie ·

asof die suid afrikaanse werker n keuse het of hy/sy belasting WIL betaal. maar sies. kyk net hoe lyk witbank se strate ook.

Arie ·

Die land verval! Hoe lank gaan zumpie nog daar wees om alles verder ten gronde te laat gaan?
‘hierdie keer’ is seker ‘n afgetrede onderwyser, moet almal op hul foute wys

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.