AfriForum: Lorgat moet leuenverklikkertoets ondergaan oor raskwota-debakel

Haroon Lorgat. Foto: Krieket Suid-Afrika se webtuiste

Haroon Lorgat. Foto: Krieket Suid-Afrika se webtuiste

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn beroep op Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), gedoen om ʼn leuenverklikkertoets te ondergaan waarin hy moet bevestig of ontken dat rasvoorskrifte gestel is vir die saamstel van die Protea-span tydens die pas afgelope Wêreldbekerkriekettoernooi.

AfriForum het aangebied om die koste van só ʼn toets ten volle te betaal. Dit volg nadat Lorgat ontken het dat hy rasvoorskrifte gestel het vir die saamstel van die Proteas vir dié span se Wêreldbekerhalfeindstryd teen Nieu-Seeland se Swartpette.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Lorgat se ontkenning nie geloofwaardig nie, aangesien dit duidelik uit die spankeuses afgelei kan word dat die huidige spelpeil van spelers nie die enigste kriteria is wat gevolg is om die span saam te stel nie. “Lorgat het die geleentheid om met ʼn leuenverklikkertoets sy naam in ere te herstel en sou hy die waarheid praat, het hy geen rede om te weier om ʼn leuenverklikkertoets te ondergaan nie,” het Kriel gesê.

Kriel voer aan dit is belangrik dat krieketondersteuners wêreldwyd klarigheid kry oor of die Wêreldbekertoernooi werklik ʼn vertoonvenster van die wêreld se beste spelers was en of politiek en ras ʼn rol in spankeuses gespeel het. “Veral Suid-Afrikaanse krieketliefhebbers het die reg om te weet of die span wat ondersteun word, op meriete gekies is,” het Kriel bygevoeg.

Indien Lorgat weier om ʼn leuenverklikkertoets te ondergaan, gaan AfriForum volgens Kriel volstoom voort om ʼn amptelike klagte teen Krieket Suid-Afrika (KSA) by die Internasionale Krieketraad (IKR) in te dien weens die rasvoorskrifte wat gestel word vir die saamstel van die nasionale span.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

zahn ·

Kom ek maak ‘n voorspelling, Moroon Loergat sal nie instem vir die toets nie.

zahn ·

Maroela, hoekom is my kommentaar gemodereer? Omdat ek ‘n voorspelling gewaag het, of omdat ek, soos in ons kele afgedruk word deur daardie simpel sepie, 7de Laan, die man se naam effens verdraai het? Die man se walgooiery nou, is moronies, vandaar Moroon, en Oubaas van Zyl sal hom ook sekerlik Loergat genoem het? Moroon Loergat. Is dit so ver van die waarheid af?

Andre ·

Vra die man wat na bewering die sms gekry het. Hy behoort te weet.

Christie van Jaarsveld ·

Wat kan ek sê? Het die SA kriekertbaas gejok of die waarheid gepraat toe hy oor televisie-nuus ontken het dat hy die gewraakte sms na die Protea-krieketspan gestuur het? As ek moet raai, sou ek sê hy het wel gejok, want net soos sy kamerade het hy by die beste geleer.

Christi ·

Die betrokke lid van die Protea-krieketspan aan wie die sms gestuur is, kan nie eers waag om uit te kom met die waarheid nie. Dit sal die einde van sy krieketloopbaan beteken. En ‘n einde aan sy brood en botter. Dit weet ons ook nou al.Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.