AfriForum na VN oor geweld teen minderhede

Ernst Roets en Alana Bailey tydens verlede jaar se besoek aan die VN

Ernst Roets en Alana Bailey tydens verlede jaar se besoek aan die VN

AfriForum gaan Dinsdag en Woensdag die sewende sitting van die Menseregteraad van Verenigde Nasies (VN) se Forum oor Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, bywoon om insette rakende die stand van minderheidsregte in Suid-Afrika te lewer.

Dit sal die vyfde keer wees wat AfriForum die sitting van hierdie forum bywoon. Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, handel vanjaar se byeenkoms oor die voorkoming en hantering van geweld en wreedhede gerig teen minderhede. Sy sal by die geleentheid ʼn verslag indien wat fokus op die gebrek aan beskerming van minderhede in Suid-Afrika.

Bailey sal spesifiek ook die krisisafmetings wat aanvalle en moorde op lede van minderheidsgemeenskappe op Suid-Afrikaanse plase aanneem, uitwys. “Nog ʼn knelpunt wat aandag sal geniet, is die gebrek aan respek vir die taalregte van onder andere Afrikaanssprekendes, wat slagoffers van misdaad van hulle regte ontneem.”

AfriForum se omvattende verslag oor plaasmoorde wat vroeër vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oorhandig is, sal in aansluiting aan die VN se Menseregteraad oorhandig word.

Die Forum oor Minderheidsaangeleenthede se fokus is nie die indien van klagtes nie, maar die vind van oplossings. Vanuit ons Suid-Afrikaanse ervaring, stel AfriForum voor dat minderhede beskerm en hulle regte bevorder kan word deur:

• die burgerlike gemeenskap toe te laat om betrokke te wees by die voorkoming van magsvergrype teen minderhede en die bevordering van hulle regte;
• die vryheid en onafhanklikheid van die media en regbank te verseker;
• instellings soos die Suid-Afrikaanse Artikel 9 instellings* te skep, maar verder te verseker dat hulle vry van inmenging (byvoorbeeld deur kaderontplooiing) en intimidasie deur owerhede, politieke partye en ander belangegroepe funksioneer. Hulle moet oor afdwingingsmagte en voldoende befondsing beskik. Finansiële bestuur moet deurgaans gekontroleer word en wanadministrasie moet vinnig en ferm hanteer word;
• internasionale druk uit te oefen waar dié maatreëls nie in plek is nie.

Volgens Bailey is AfriForum se teenwoordigheid by die byeenkoms deel van die omvattende strategie waarmee AfriForum toenemend die skending van mense- en minderheidsregte in Suid-Afrika internasionaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boesman ·

Sterkte Afriforum en dankie vir dit wat julle vir ons wit mense in SA doen.

Drieks ·

Dankie Afriforum. “” Sluit aan mense, saam kan ons swem””

Piet ·

Drieks

Dankie, maar nee dankie. Beslis nie na Kalie Kriel se uitsprake oor Dan Roodt nie. Ek weet van ‘n paar mense wat bedank het by hulle na hierdie aanval op hom. Hul eie mense is nie hulle prioriteit nie.

Grassie ·

Piet – ek begin ook nou om Afriforum se prioriteite in twyfel te trek. Wanneer twee Afrikaanse organisasies oor iets verskil kan die geskil mos op ‘n beskaafde manier onderling besleg word. Dit is nie nodig dat dit in die openbare media op beledigende wyse uitbasuin word soos wat Kallie Kriel gedoen het nie. Die twee organisasies het tog immers meer raakpunte (saamstem punte) as geskilpunte. Dit is soos Drieks hierbo sê “saam kan ons swem”- mnr Kriel verstaan duidelik nog nie hierdie beginsel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.