AfriForum nader hof oor Tshwane-kragverhogings

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag hofstukke op die Tshwane-metro en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) beteken nadat die munisipaliteit tariefverhogings vir elektrisiteit in dié metro ingestel het.

Dit volg na Nersa glo die metroraad se elektrisiteitsverhogings verlede Vrydag afgekeur het omdat die reguleerder gemeen het hulle het meer inligting nodig oor hoe daar op die nuwe verhoogde tariewe besluit is.

ʼn Herrie het ontstaan na mediaberigte in Junie uitgewys het dat die metroraad dit oorweeg om ʼn vaste heffing van R200 vir elektrisiteitspunte in te stel saam met die jaarlikse verhoging van elektrisiteittariewe. Sake het egter nog verder vertroebel nadat dit bekend geword het dat daar inderwaarheid drie verskillende bedrae vir dié vaste tarief gepubliseer is.

Ná ʼn hewige geskarrel van die metro se kant het hulle Nersa opnuut genader om ʼn nuwe vaste tarief voor te lê vir die elektrisiteitspunte maar bronne sê dit is nie goedgekeur nie.

Voorafbetaalde elektrisiteitsverbruikers het wel vroeër die week bevestig dat die verhoging toe wel ingestel is aangesien hulle nou veel minder eenhede as voorheen ontvang as hulle voorafbetaalde elektrisiteit aankoop.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria‑streek, hou die Tshwane-metro vol dat hulle die uitvoerende gesag is en daarom die verhoogde tarief sonder die nodige goedkeuring mag implementeer.

“Kragtens die wet is die Tshwane-metro egter nie by magte om die tarief in te stel nie en ons organisasie sal teen dié onbillikheid optree. Aangesien nie Nersa of die Tshwane-metro tot dusver nog op enige van AfriForum se skrywes geantwoord het nie, het ons geen ander remedie as om dringend die hof te nader nie,” het Grobbelaar gesê.

Grobbelaar het verder ook gesê dat talle inwoners reeds by AfriForum kom om hulp aanklop het omdat hulle nou reeds ʼn basiese tarief van R56 betaal. Inwoners het volgens hom ook hul kommer oor die verhoging, wat boonop tot groot verwarring gelei het, op sosiale media uitgespreek.

“Dit is onbillik van die Tshwane-metro om die verhoging te implementeer sonder die goedkeuring van Nersa of sonder om die publiek van die regte nuwe tariewe in kennis te stel. AfriForum sal die saak beveg om te verseker dat geregtigheid geskied.”

Maroela Media het berig dat die Vryheidsfront Plus (VF Plus) hom ook van die nuwe kragtariewe gedistansieer het. Die party het vroeër die week gesê die metro moet oop kaarte met sy inwoners speel en die pad vorentoe duidelik uiteensit.

“Die VF Plus is nie gekant teen ʼn verhoging in kragtariewe nie, maar die verhoging moet billik wees en binne Nersa se riglyne val. Daar moet ook ʼn wettige en deursigtige proses gevolg word.

“Daar bestaan tans ʼn enorme kommunikasiegaping tussen die metroraad en inwoners,” het Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die Tshwane-metroraad se openbarerekeningekomitee, gesê.

Raadslid Abel Tau, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die metro, was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie, maar het onderneem om later Vrydagmiddag met Maroela Media te gesels om duidelikheid oor die stad se elektrisiteitstariewe te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ouvrou ·

Presies dieselfde het in die Johannesburg metro gebeur maar niemand kla daaroor nie. Is ek al een wat woedend hieroor is?

Willie ·

So lyk my maak nie saak of DA of ANC in beheer is, ons word letterlik deur die ore gewerk.. Die ware betalers van elektrisiteit sal maar opdok… TSHWANE skakel die ligte wat so brand in die dag af…dit alleen sal julle n pakkie vol spaar… UIT MET DIE DA, dis n verskanste ANC

CHarris ·

Ek weet nou van mense wat nie weer DA gaan stem asgevolg van die vaste tariewe. Almal speel woer woer met ons swaar verdiende pensioene.

Wonder maar net! ·

Ek is in geheel daarteen dat daar n “vaste heffing” moet wees. Hoe kan daar n vaste heffing wees op n diens waarvoor jy alreeds deur jou nek betaal? Gepaardgaande, al begin hulle die vaste heffing op een Rand sal die heffing binne n oogwink R1000. wees. Die idee van n vaste heffing druis teen alle beginsels van regverdigheid in en is niks anders as nog maar net nog n gewettigde diefstal en struik rowery. Die Stadsraad moet liewers sy wettige werk doen en nie betalers en krag diewe hof toe vat. Mnr Mandela het gese dat “almal in die land moet toegang kry tot basiese dienste”. Dus krag, water en sanitasie. Hy het nooit gese dat dit sal gratis wees nie. Betaal vir wat jy gebruik!

Bert ·

Die betaal van ‘n vaste heffing is nie onderhewig aan prestasie nie, al kan hulle nie krag voorsien nie kry hulle nog steeds die heffings, die ‘ou’ prestasie gebonde betalings werk nie in die nuwe suid afrika nie.
Ek vermoed ook as die heffing eers bestaan sal dit baie gou R1000 of selfs meer word.

Jean ·

Stem saam Wonder maar net en Willie!
Ons betaal dan eintlik die gelde wat orals so verkeerd “aangewend” was terug…melk die koei ! Erg !

Linda ·

Dank aan AfriForum dat hulle toegetree het. Ek kan nie verstaan hoekom ons ‘n heffing moet betaal nie. Dié wat nog steeds dink dat die DA ‘n oplossing is, dink weer!

Riaan ·

Ha ha ha!

Lekker da. Kom ons sien wat gebeur in volgende verkiesing (as julle nog in beheer is)?

Het 3 maande laas ‘n rekening gekry tenspyte dat ek elke maand self my lesing vat en vir die onbevoegde skelm spul stuur.

GM ·

Laat die informele nedersettings dan maar eerste opdok. Ek kan nie sien hoekom net sekere mense die hele tyd ten duurste vir dienste moet betaal sodat ander gratis onderhou kan word nie. Ek dog ons almal is gelyk?

Gert van Wierdapark ·

Tussen Awie en Abel is my geld op eersgenoemde se geloof-waardigheid! Die DA-stadsraad moet ook dringend aandag skenk aan die Skelms wat miljoene Rande skuld rakende Stadsraad-huise se Wanbetaling aan huur en dienste geld = deur voormalige politici en huidige amptenare. Die betrokke berig het gister die lig gesien, nadat dit al jare sloer! Wat n helse skande is!

Riaan ·

Stem 100%. Tau is nuut in die CoT en het reeds die da arrogansie ( ek praat van 1ste handse ondervinding). Blink suit, blink nuwe kar en visite kaartjies is so NB!

Manie ·

Ek is bly dat die arrogante da hof toe gesleep word. Hulle is besig om die bietjie mense wat die stadsraad betaal uit te buit terwille van duisende wat weier om enige iets te betaal.

Jan ·

Maar julle ou afrikanerkies het darem so maklik vir die DA geval wat einlik maar n joodse oarty is…

Riaan ·

So jammer jy is nie ‘n ou Afrikaner nie!
Vir die rekord, ek het NIE en SAL nie da stem nie!

Carl Jordaan ·

Ons betaal reeds R2.48 per eenheid vir n produk wat Eskom teen net meer as R1.00 aan die stadsraad verkoop. Hierdie melkooi kan nie meer nie. Die vaste heffing is om die mense te straf wat hulle eie sonkrag opwek omdat hulle nie die buitensporige tarierwe kan bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.