AfriForum nou by VN as NRO geregistreer

(Foto: Mat Reding/Unsplash)

Die burgerregtegroep AfriForum sê hy het bevestiging van die Verenigde Nasies (VN) ontang dat hy nou amptelik as nieregeringsorganisasie (NRO) met spesiale raadgewende status geregistreer is. Die organisasie sê dié status bied aan hom verskeie geleenthede en voorregte om sy werk op groter skaal by die VN voort te sit.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê die Suid-Afrikaanse regering se verteenwoordiger by die VN-hoofkantoor in New York het hom destyds meegedeel dat hy uit Pretoria opdrag gekry het om te verhoed dat AfriForum by die VN se afdeling vir nieregeringsorganisasies (’n onderafdeling van ECOSOC) geregistreer word. Volgens Roets het die verteenwoordiger sover gegaan as om te sê dat die regering se pogings in dié verband nie persoonlik is nie, maar bloot politiek gedrewe.

“Die verteenwoordiger het in 2015 aan my verduidelik dat die Suid-Afrikaanse regering AfriForum se registrasie in dié verband teenstaan omdat AfriForum volgens die regering ‘te veel praat’ en ‘te arrogant’ is,” sê Roets.

“Hy het toe gesê dat hy met Suid-Afrika se alliansievennote in verbinding gaan tree om toe te sien dat AfriForum se aansoek nie slaag nie. Hy het dié alliansievennote by name genoem: China, Zimbabwe, Kuba en Soedan.”

Roets sê hy het die verteenwoordiger gevra om te verduidelik waarom AfriForum volgens die regering te arrogant is. Dié het volgens hom verwys na AfriForum se veldtog teen plaasmoorde, asook die feit dat AfriForum beswaar gemaak het teen die uitnodiging aan die voormalige Zimbabwiese president, Robert Mugabe, om die inhuldiging van oudpres. Jacob Zuma by te woon.

Roets sê AfriForum het sy eerste registrasieaansoek in 2011 ingedien en sê die regering het die proses jare lank vertraag.

“Ons is egter bly om vandag te kan aankondig dat die regering se pogings om minderhede by die VN te sensor, uiteindelik misluk het.”

Volgens AfriForum sluit sommige voorregte en geleenthede wat met spesiale raadgewende status verband hou in die lewering van insette aan ECOSOC, die benut van die forum om deskundige raad in te win, beraadslaging met die onderskeie kantore van die VN se sekretariaat, die geleentheid om aan informele gesprekke met VN-rolspelers deel te neem en toegang tot die VN se biblioteek.

AfriForum sê hy moet ook elke vier jaar aan die VN verslag lewer oor die werk wat die organisasie doen.

Roets sê AfriForum beskou die stap as ʼn oorwinning.

“AfriForum sal by hierdie vergaderings veral sterk standpunt inneem oor onteiening sonder vergoeding, plaasmoorde, korrupsie en minderheidsregte. Ons sien daarna uit om ons netwerke in die internasionale sfeer uit te brei en ons kennis en ervaring met ander organisasies te deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Willempie ·

Wel gedaan AfriForum. Wens julle sterkte toe om die minderheid op hierdie platform te verteenwoordig. Ek ondersteun julle ten volle.

Adam Adriaan ·

Hoop daar kom iets van. In retrospek, as ‘n mens terug dink en onthou hoe dieselfde organisasie voor 1994 SA verafgruis het, laat vrae ontstaan, wat beweeg hulle om nou ‘n handomkeer te maak. Draai seker die mantel na die wind.

Sarel ·

Geluk julle vrugte op baie lang en harde werk
Op ‘n stadium baie getwyfel oor julle besoeke maar nou werp dit vrugte af dn sal seker ook nou meer deure Internasionaal oopmaak. Voorspoed en mag julle van krag tot krag gaan.

Althes ·

Baie geluk! Ons is trots om lid te wees van jul. Dit gee mens nuwe moed vir die toekoms.

Sonia ·

Uitstekend! Welgedaan Afriforum! Ons is trotse lede van julle organisasie en trots op wat julle vermag namens ons

Pieter J ·

Aanhouer wen. Baie goeie werk en goeie nuus. Miskien raak dinge nou makliker.

Riana ·

Dis nou net hier wat ek my van Agriforum distansieer en my lidmaatskap staak. As hulle ook nou met die VN saam werk laatsak ek my kop in skaamte omdat ek ooit gedink het hul is hier vir ons land se voordeel.

JM ·

Riana, om te begin: dit is nie aGriforum nie, maar aFriforum. Wat laat jou dink dat Afriforum NIE hier is vir die land se voordeel nie? Jou redenasie is belaglik!

Wakkerslaper ·

Riana, jy mis die punt totaal. Hierdie registrasie by die VN is net nog ‘n boksie wat ons MOET aftik om ons hoofsaak – i.e. ons vryheidstryd te regverdig in die oë van die wêreld.

Wakkerslaper ·

Hierdie is baie goeie nuus! Baie dankie aan AfriForum! Let egter wel op die volgende:
Die anc terroriste staat se pogings om AfriForum se registrasie by die VN teen te staan bewys weereens dat ons as Afrikaner-Boerevolk ‘n teiken (nie net polities nie) vir die regime is.
Die rede vir die regime se teenkanting – AfriForum se veldtogte teen PLAASMOORDE EN AANVALLE. Hiermee gee die anc en sy vennote dus hulle indirekte goedkeuring aan plaasaanvalle en moorde.
Die anc se steun deur China, Kuba, Zimbabwe en Soedan – hoeveel vyande gaan ons Boere se 3de Vryheidstryd insluit en hoe ver gaan ons stryd strek?
Ons as volk behoort die VN nou te nader met die redenasie dat ons die reg het op selfverdediging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.