AfriForum: ‘Ons sal Jiba steeds privaat vervolg’

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Die burgerregte-organisasie AfriForum is steeds van plan om adv. Nomgcobo Jiba, ’n voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), privaat te vervolg ondanks ’n uitspraak deur die appèlhof wat haar en adv. Lawrence Mrwebi se skrap van die rol van advokate ter syde gestel het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn meerderheidsuitspraak in die appèlhof het ’n uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof opgeskort wat vroeër gelas het dat Jiba en Mrwebi van die rol van advokate geskrap moet word.

Dit beteken dat Jiba na haar pos by die NVG kan terugkeer nadat sy in 2016 op spesiale verlof geplaas is. Drie regters, Jerry Shongwe, Willie Seriti en Connie Mocumie, het ten gunste van Jiba beslis en bevind dat die Suid-Afrikaanse Balieraad nie wangedrag kon bewys in terme van Jiba se hantering van die vervolging van Richard Mdluli, voormalige intelligensiebaas, nie.

Die meerderheidsuitspraak het ook die vorige uitspraak verwerp wat bevind het dat Jiba nie geskik is om as advokaat op te tree nie. Luidens die uitspraak is daar in die omstandighede van dié saak nie rede om ’n waardeoordeel te vel oor Jiba se geskiktheid om as advokaat op te tree nie.

Regters Eric Leach en Christiaan van der Merwe het egter nie met die meerderheidsuitspraak saamgestem nie en was ten gunste van die Balieraad se besluit dat hulle geskrap moet word.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, meen die uitspraak vandag hou geen struikelblok vir die beoogde strafregtelike klagte teen Jiba in nie.

AfriForum en adv. Gerrie Nel het in November 2017 aangekondig dat Jiba privaat vervolg sal word. AfriForum se private vervolgingseenheid tree namens genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op en wil Jiba vir bedrog en meineed vervolg.

Jiba is allerweë bestempel as iemand wat in oudpres. Jacob Zuma se binnekring was. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in Desember 2017 beslis dat die NVG se besluit om Jiba nie te vervolg nie, onregmatig was.

AfriForum het Dinsdag gesê indien adv. Shaun Abrahams, hoof van die NVG, nie binne ’n redelike tyd besluit om Jiba te vervolg nie, sal aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat gedoen word. “Indien die NVG nie dié sertifikaat wil uitreik nie, sal ’n mandamus-aansoek gebring word om die staat te dwing om sy werk te doen. Abrahams kan sodoende gedwing word om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik,” het die organisasie gesê.

“Vandag se appèlhofuitspraak sal Abrahams noop om vinniger ’n besluit te neem oor of Jiba vervolg moet word al dan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Lyk my Zuma is nog nie ‘n flou makou nie, erens het hy nog ‘n houvas.

Daan Erasmus ·

Die uitspraak van die Appèl Hof is “interesant” 3 regters van ‘n sekere kleur het beslis Jiba is onskuldig. 2 wit regters het beslis sy is skuldig.
Dit spel onheil vir die Reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.