AfriForum reik verkiesingsverslag uit

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy tevredenheid uitgespreek dat die verkiesingsuitslag ʼn regverdige weerspieëling is van die mening van kiesers wat aan 2014 se verkiesing deelgeneem het.

Die organisasie het egter ook gesê dat die dominansie van die regerende party en die tyd wat dit opposisiepartye gaan neem om hierdie dominansie te verbreek, die nodigheid vir ʼn aktiewe en lewendige burgerlike samelewing gebiedend noodsaaklik maak.

Dit was die gevolgtrekking van AfriForum se waarnemerspan wat die verkiesing en stemtellery die afgelope week gemonitor het. AfriForum het ʼn beroep op sy meer as 90 000 lede gedoen om, wanneer hulle gaan stem, waar te neem dat belangrike vereistes nagekom word. ʼn Spesiale e-posadres sowel as SMS-lyn is vir die doel geskep, waar lede van die publiek ongerymdhede kon aanmeld.

74 klagtes is per SMS ontvang en 164 is ge-e-pos. Die klagtes het hoofsaakllik verband gehou met probleme en frustrasies sowel as stemwerwing deur politieke partye op stemdag.

AfriForum het die diens van ʼn statistikus verkry om die organisasie behulpsaam te wees met die verifikasie van die stemtellery in die onderskeie uitslagsentra.

Ten tye van die uitreik van hierdie verslag is die volgende diskrepanse waargeneem en aan die OVK en ander partye gerapporteer:
• In een kiesafdeling in die Wes-Kaap blyk die aantal stemme vir die ANC kunsmatig verhoog te wees
• In een kiesafdeling in die Noord-Kaap is die aantal stemme vir die EFF en DA omgeruil
• In een kiesafdeling in KwaZulu-Natal is die ANC en Azapo se stemme omgeruil
• In 29 kiesafdelings het daar diskrepanse voorgekom met betrekking tot stemme vir die EFF
• In 8 kiesafdelings het daar diskrepanse voorgekom met betrekking tot stemme vir die DA
• In 1 kiesafdeling het diskrepanse voorgekom met betrekking tot stemme vir die ACDP
• In 30 kiesafdelings het die aantal provinsiale stemme die aantal nasionale stemme oorskry, wat hoogs onwaarskynlik is.

Daar moet in gedagte gehou word dat bogenoemde diskrepanse baie klein is as ʼn mens die werklike aantal kiesafdelings in ag neem. Soortgelyke diskrepanse het egter in die verlede die finale toekenning van setels in een of twee gevalle geraak. Die finale berekening en uitwerking van hierdie diskrepanse op die toekenning van setels sal later in ʼn aparte verslag bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.