AfriForum rig ‘simboliese monument’ op vir Zuma

Foto: AfriForum

AfriForum en die burgerregte-organisasie se jeugvleuel het vandag ’n simboliese monument opgerig vir die 783 korrupsieaanklagtes teen pres. Jacob Zuma by Groot Marico in Noordwes.

Dié optrede kom nadat die provinsiale regering in Noordwes onlangs met bouwerk aan ’n monument vir Zuma begin het wat sowat R1,7 miljoen gaan kos.

Die Noordwes-regering het op dié kleiner monument besluit nadat sy planne vir ’n 6 meter hoë standbeeld ter waarde van R6 miljoen vroeër weerstand van opposisiepartye en die gemeenskap ontlok het.

AfriForum het vroeër ná die aankondiging van die aanvanklike groot beeld ingegryp en ’n PAIA-aansoek ingedien om sekere inligting aan te vra rakende die oprigting van die beeld.

Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes, meen die organisasie se ingryping het direk daartoe gelei dat die projek gestaak is.

“Ons is vandag weer hier om kapsie te maak teen Noordwes se planne om steeds ’n monument vir Zuma op te rig. Zuma het nog niks goeds vir die land beteken nie en die geld wat op ’n standbeeld vir hom gemors gaan word, kon eerder gebruik geword het om infrastruktuur in die dorp te herstel en dienste aan die gemeenskap te lewer.”

Verteenwoordigers van AfriForum en AfriForum Jeug is kort nadat hulle die simboliese monument aanmekaar gesit het deur omstanders gedreig dat hulle aangerand en hul toerusting gebreek sal word. Die plakkate en banier is daarna verbrand.

Wat die nuwe monument vir Zuma en 44 ander rekrute van Umkhonto weSizwe betref, is die platform reeds gebou.

’n Woordvoerder van die departement van kuns, kultuur en tradisionele sake in Noordwes, het vroeër gesê die monument sal die vorm van ’n staalstruktuur met ’n vuurbal wees waarop die gesig van Zuma is.

Die idee om ’n monument vir Zuma op te rig, is klaarblyklik dié van Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, wat ’n stoere ondersteuner van die president is.

Terwyl inwoners van Groot Marico nie veel dink van die beoogde monument nie, meen die departement dit moet toerisme bevorder.

Oosthuizen meen die oprigting van ’n standbeeld is totaal onvanpas gegewe die hoë vlakke van korrupsie en armoede in die land.

“’n Standbeeld van pres. Zuma kan nie opgerig word nie omdat hy onder meer 783 klagtes van bedrog en korrupsie teen hom het, in ’n Nkandla-skandaal betrek is waar miljoene rand onregmatig aan sy huis bestee is en hy verantwoordelik is vir ’n enorme hoë werkloosheidsyfer wat tot haglike omstandighede en armoede bydra.”

Benewens Mahumapelo se steun vir Zuma, lê die rede waarom die standbeeld juis by Groot Marico opgerig word, waarskynlik ook in die geskiedenis.

Die verbanning van die ANC in 1960 het tot die stigting van uMkhonto weSizwe (MK), die gewapende vleuel van die ANC, gelei. Zuma het aan sabotasie-aksies van MK in Natal deelgeneem en beplan om Suid-Afrika vir militêre opleiding in die buiteland te verlaat. MK het in 1963 beplan om 45 nuwe rekrute vir opleiding te stuur waarvan Zuma een was.

Die plan was dat hulle die sogenaamde “Vryheidstrein” na Zambië sou neem. Die veiligheidspolisie het egter van die plan te hore gekom en ’n operasie beplan om hulle in hegtenis te neem. In Junie 1963, toe die groep waarvan Zuma deel was na Botswana op pad was, is hulle in Groot Marico naby Zeerust gearresteer. Zuma is 90 dae alleen by die polisiestasie in Hercules aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wille Willem ·

Ek wil net weer die vraag rig: Hoe kan iemand wat een aanklag van bedrog teen hom het opgesluit word vir ‘n aantal jare maar ‘iemand anders’ wat 783 klagtes teen hom het skotvry daarvan afkom? Uitstekende regstelsel Suid-Afrika!!!

Eish ·

Sjoe, baie waaghalsige optrede in n land waar jy lid van n minderheidsgroep is wat met passie gehaat word! Dankbaar dat niemand seergekry het nie buiten die plakkaat wat verbrand is. Tien uit tien vir heldhaftigheid!

Margaret ·

Stem saam! Dit is brawe mense dié. Hul monument is presies wat ons almal voel.

Albaster ·

Slim plan om Z ondersteuners die plakkaat van hulle ei held te laat brand.

Swartkat ·

Standbeeld van miljoene rande en hulle wil die belastingbetaler se korting op mediese fonds bydraes wegvat om te gebruik.vir die Regering se Nasionale Gesondheidsplan – belaglik hoe geld net gemors word

Abie ·

Laat hulle in vrede voortgaan met hul beeld. Dit sal gesien word as die beeld van die grootste skelm in die land se geskiedenis. Dan moet hul voortgaan en elke skelm politikus daar plant en dit sal bekend word as die land se skandvlek.

Koebaai ·

“I put it to you mr Zuma” kom nader…
Welgedaan Afriforum.

FM ·

Daardie soort van zuma beeld gaan nie lank staan nie. Mark my words.

Alida ·

Dit is mos nou anargie uitlok en moeilikheid soek met die simboliese monument. Ons wil tog nie tot op hulle vlak daal nie. Wil ons? Die hele wereld weet wie en wat Zuma is.

Cas ·

Mooi so Alida, wat ‘n sinvolle opmerking. Dit is iemand met integriteit wat so praat.

Alida ·

Ja Marlene hoeveel onskuldige mense gaan nou weer vermoor word uit wraak. Kom by asb.

Stiena ·

Die vuurbalstorie met die prez se gesig laat my dink: o vuurtjie vuurtjie aan die brand, hier is die skelmste skelm in die land.

davoz ·

Hy lyk beter agter tralies as agter die podium en mikrifoon. Goed gedoen!!!!

Bissch ·

En dié monument het hulle net n skamele driehonderd en duisend-vyftig en drie rand gekos.

John ·

Eerlikwaar die onnoselste taak wat Afrikaners nog op hulself geneem het. Nee regtig. Kook, maak musiek, gaan stap of le en slaap… Wat gaan julle hiermee regkry buiten om haat te ontketen. As een van my kinders daarby betrokke sou wees, het ek hom sowaar onterf… dis dwaas verby in so ‘n kritiese tyd soos vandag… Stap liewers oor die Suidpool in Speedo’s wat meer nuuswaardig sal wees…

Swartkat ·

Koop ‘n stortkop en dra by tot die fonds insameling vir die Zuma standbeeld

Pieterlewismuts ·

Laat die owerhede in Groot Mario maar eers sorg dat diens lewering en ander munisipale aktiwiteite(soos goeie boek houding en geen korrupsie) in orde is, dan kan ons daaraan BEGIN dink om n standbeeld vir Z op te rig so oor vyf tot tien jaar van nou af. Dit wil sê as hoegenaamd IEMAND hom op daardie stadium nog kan onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.