AfriForum sal help om grond teen ‘Malema-faktor’ te beskerm

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

AfriForum sal gemeenskappe mobiliseer en bystaan teen die algemene tendens in Suid-Afrika waar grond onwettig aan besetters verkoop word. Die organisasie meen grondeienaars moet hul eiendomsreg ten alle koste beskerm. AfriForum skryf dié soort aksies toe aan die onverantwoordelike uitsprake wat gemaak word deur partyleiers soos die EFF se Julius Malema.

“Dit is juis Julius Malema se besettingspraatjies en pres. Jacob Zuma se Jan Van Riebeeck-opmerkings wat gemeenskappe polariseer en grondsake onstabiel maak,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê. “Wettige grondeienaars het nie die grond gesteel nie.”

AfriForum se kommentaar volg nadat daar die afgelope naweek naby Diepsloot in Gauteng weer ʼn geval was waar ʼn onbekende persoon begin het om private grond aan plakkers te verkoop.

Daar is reeds op 17 Desember 2014 deur AfriForum ʼn strafregtelike saak teen Julius Malema aanhangig gemaak ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond.

AfriForum het op 12 Desember 2014 geslaag in die verwydering van plakkers van ʼn plaas in Bultfontein, naby Soshanguve, waar grond deur EFF-lede aan plakkers verkoop is.

“Ons vra gemeenskappe om na vore te kom as hulle bewus is van grond wat onwettig verkoop en beset word. Waar ons ons lede kan bystaan, sal ons veiligheidstrukture skep en klagtes opneem teen die betrokke partye,” het Cameron bygevoeg.

AfriForum skep landwyd veiligheidstrukture wat misdaad drasties verminder en die organisasie sal aanhou om mense op te lei in hoe om onwettige grondbesetters te hanteer. Die burgerregte-organisasie het ook daarop aangedring dat die kopers hul geld terugeis en moontlike bedrogsake indien teen diegene wat hul geld onregmatig gesteel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Drieks ·

Sluit aan by Afri Forum.
Saam kan ons iets doen uit een bank rekening uit.
Een, een kan ons niks doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.