AfriForum se eie kragmaatskappy op hande

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: AfriForum)

Die burgerregteorganisasie AfriForum beraam planne om sy eie kragmaatskappy op die been te bring, maar meen dat hy hoegenaamd nie alleen die voortslepende kragkrisis kan oplos nie.

Met bystand van private kundigheid en kapitaal hoop AfriForum om ʼn energiemaatskappy te stig wat elektrisiteitsverskaffing uit die regering se hande laat.

“Dit het duidelik geword dat ons toekomshoop nie in die hande van Eskom of die regering lê nie, maar in ons eie,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Die oplossing is daarom om die privaat sektor te betrek om ʼn onafhanklike kragvoorsiener te begin.”

Volgens Kriel is AfriForum reeds in gesprekke met rolspelers, soos die energiemagnaat André Pienaar, oor die moontlikheid om kernenergie-tegnologie te gebruik om Suid-Afrika se uitdagings met kragvoorsiening op te los.

Die langtermynplan is eindelik om die eerste modulêre korrelbedreaktor in Suid-Afrika te ontwikkel wat in staat is om oor jare heen dorpe en stede van krag te voorsien.

“Sonkrag, batterye en windkrag is ʼn reusehulpbron, maar die voorsiening daarvan is wisselvallig, so jy het ʼn basislading nodig. Ons glo die modulêre korrelbedkerntegnologie, wat aanvanklik in Suid-Afrika ontwikkel is, maar verder in die buiteland ontwikkel word, sal ʼn veilige en skoon oplossing daarvoor bied,” sê hy.

AfriForum sal grotendeels toesien dat die nodige beleggings en kundigheid ingewin word sodat die ontwikkeling van die reaktors kan geskied.

Hoewel die installering van dié soort reaktors moontlik eers oor tien jaar ʼn werklikheid sal wees, het AfriForum intussen kort- en mediumtermynplanne opgestel om die weg te baan hiervoor.

Die korttermynplan, of sogenaamde eerste fase van AfriForum se omvattende kragplan bekend as Projek AfriEnergie, is om die energiereguleerder te dwing om die regulasies rakende kragopwekking te verslap.

“Die president het vantevore aangekondig dat die regulasies hieroor verslap moet word, maar nou is die tyd om die woorde in praktyk om te sit sodat private rolspelers ook ʼn hand hierin het.”

Hiermee saam beplan AfriForum om in die komende weke ʼn handleiding bekend te maak wat mense sal help om onafhanklik van Eskom te word.

“Die handleiding sal raad gee oor hoe om byvoorbeeld sonkragstelsels te installeer en wie om daarvoor te gebruik,” sê Kriel.

Die tweede fase beoog om dorpe en stede se munisipaliteite los te maak van Eskom en hul kragvoorsiening wesenlik te privatiseer. Die Mafube-munisipaliteit, wat gebiede soos Frankfort in die Vrystaat bedien, kry dit reeds langer as tien jaar reg om met behulp van ʼn private kragmaatskappy die dorp se elektrisiteitstoevoer te bestuur.

“Die model wat in hierdie dorp gevolg word – om kragverspreiding uit te kontrakteer om die proses in stand te hou – moet ook elders toegepas word,” sê hy.

“Ons besef dat die hele plan, van fase 1 tot 3, nie ʼn kitsoplossing is nie, maar ʼn langtermynprojek wat bloed, sweet en trane gaan verg. Ons glo wel dit is moontlik om dit reg te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

My kommentaar is nie bedoel om negatief te wees nie. Dis net gebaseer op harde werklikhede van SA:
1. So ‘n kragmaatskappy gaan nie ‘n klein besigheid soos ‘n hoekkafee wees nie. Groot geld en baie wrkers gaan betrokke wees. Bestaande wetgewing sê dat as ‘n besigheid se aantal personeel 50 of meer is en as die finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, móét regstellende aksie toegepas word. So hoe gaan Afriforum by dít verbykom?
2. Wat van goedkeuring om so iets te bou? Vir iets so eenvoudigs soos ‘n extra garage op my eie erf moes ek toestemming kry by die munisipaliteit en al die bure rondom my. LANK gewag.
3. As die kragstasie nou klaar is, gaan die staats(ANC)beheerde eskom dan wel krag by Afriforum koop? Dieselfde ANC het in die verlede reeds vir Afriforum uitgekryt as verkramp en onder beheer van wit rassistiese mans.

TruthDealer ·

Ja daar is daardie uitdagings,maar dis beter dat Afriforum ten minste probeer. As die kragnetwerk totaal ineenstort, is Suid Afrika verby. Dan is alles verlore. So n situasie in Hierdie land, sal enige “post apocalyptic” fliek laat lyk na n dokumenter oor die weelderige lewensomstandighede van biljoeners.

Herman L ·

Dit is ‘n groot hap vir Afriforum. Hulle skrik egter nie vir ‘n uitdaging nie en verdien al die steun wat moontlik is. Ek sal nie verbaas wees as die regering hulle mettertyd steun nie. Aangesien dit egter ‘n langtermyn projek is, sal daar heel moontlik ‘n ander regering as die huidige wees wanneer die projek belowend begin lyk.

domheks ·

Kry maar solank Generators en Son panele. Doen jou eie ding!

Papsak ·

Kom Afriforum julle kan weet dit ons nie almal ryk om sonpanele te koop nie !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.