AfriForum sê oor sake teen Bizos, Zuma

Duduzane Zuma Foto: africa.widmi.com

AfriForum sê dis jammer dat diegene vir wie hulle respek gehad het, probeer inmeng in die vervolging van mense wat die organisasie glo vir hul dade moet boet.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Donderdag gesê die eerste prioriteit vir die organisasie is steeds dat die NVG en die polisie hul werk goed doen sodat daar geen rede vir hul private vervolgingseenheid sal wees om individue privaat te vervolg nie.

“Maar dikwels spoor die eenheid se blote voorneme om privaat te vervolg die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) juis aan om wel hul werk te doen en mense te vervolg,” het Kriel gesê.

In ʼn oorsig van die onlangse sukses van die eenheid vir privaat vervolging onder leiding van adv. Gerrie Nel, het Kriel met betrekking tot die privaat vervolging van Alexi Bizos vir die beweerde aanranding in 2015 van sy vrou, Monique van Oosterhout, gesê die NVG het agt maande gelede besluit om Bizos jr. nie te vervolg nie.

AfriForum het Van Oosterhout se saak in Februarie opgeneem en onlangs terugvoer van de NVG gekry dat hulle hul besluit heroorweeg het. Bizos, die seun van die gesiene menseregte-advokaat George Bizos, sal nou wel teregstaan op aanklagte van aanranding.

Kriel het gesê AfriForum is tevrede met dié wending, maar as die NVG weer laat slaplê, sal hulle nie huiwer om opnuut in te gryp nie.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het gesê die organisasie wil toesien die polisie en nasionale vervolgingsgesag doen hul werk so goed dat daar geen rede is om in te gryp nie. Foto: Reint Dykema

Hy het gesê dis ʼn jammerte dat mense in die regsberoep vir wie AfriForum respek gehad het, hulle probeer oorreed het om nie die ikoon uit die vryheidstryd se seun te laat vervolg nie. “Dis jammer, want dis presies waarteen ons eenheid gekant is: enige soort politieke inmenging in die regsproses.”

In nog ʼn hoëprofielsaak, dié teen oudpres. Jacob Zuma se seun Duduzane Zuma, het AfriForum se betrokkenheid verseker dat hy wel vervolg word. Hy verskyn weer op 26 Oktober in die hof.

Zuma jr. word aangekla in verband met die dood van twee passasiers van ʼn minibustaxi in Februarie 2014. Hy staan tereg op twee aanklagte van strafbare manslag, asook ʼn aanklag van nalatige bestuur.

Die NVG het in April bekend gemaak dat hulle Zuma jr. vir strafbare manslag vervolg nadat hulle aanvanklik besluit het om hom nié in verband met ’n noodlottige motorongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng te vervolg nie.

Hy het met sy Porsche teen ʼn minibustaxi gebots. Phumzile Dube (30) is dood en nog twee mense, ʼn 72-jarige vrou en die taxibestuurder, is kritiek in dié ongeluk beseer.

In die geregtelike ondersoek wat daarna plaasgevind het, is bevind Zuma jr. was nalatig en kan vir strafbare manslag vervolg word.

“Ons staan nog die Dube-familie by,” het Kriel gesê. “Die goeie nuus is ons het nie net sukses gehad met die saak wat voortgaan nie, maar ook om die Dube-familie met hul eis by die Padongelukkefonds te help.

“Dit sal nie die slagoffer terugbring nie, maar kan help met die versorging van haar kind, wat sedert haar ma se dood in armoedige omstandighede by haar ouma woon. Die bedrag moet nog vasgestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Ek ondersteun alle stappe om reg en geregtigheid te laat geskied.

Sarie ·

Bid vir geregtigheid. In die afgelope tyd het ons gesien hoe onreg teen individue en ook groepe deur woord en daad gepleeg word. Selfs ons regters is skuldig.

Johan H. ·

Jammer ek kanselleer einde van die maand my bydrae.. Die sake vat te lank. Sal nie in my leeftyd enige van die kabinetskelms in die tronk sien nie..Dis n feit!!!

Daan Erasmus ·

En sonder ons almal se bydraes gaan daar niks gebeur nie. Ten minste gebeur daar ‘n paar goed. Eendracht maakt Macht. As ek dit reg spel.

AW ·

“I wouldn’t want to go back now, to how it is now. The criminal justice system is dysfunctional. There are no consequences to not doing your job. It is very sad to see.” (Page 33)

(Rule of Law by Glynnis Breytenbach with Nechama Brodie : 2017)

AW ·

“Daily we witness the spectacle of people in high office escaping judicial scrutiny and retribution because they are able to manipulate the levers of office to deflect any scrutiny of their action.

In South Africa, the ruling party under Jacob Zuma has routinely manipulated the National Prosecuting Authority to deflect the criminal trail of Zuma for fraud.

The ruling party has saturated the bench with minions and political cronies often of mediocre talent in order to achieve its political will. (Page 170)

(Justice Denied – The Role of Forensic Science in the Miscarriage of Justice by David Klatzow – 2014)

AW ·

“There are Three elements to Ministry of Crime.
The first is Political interest protected through the abuse of the criminal justice system.
The second is the protection afforded to these individuals by those at the police and the Hawks.
The third element is the transactional relationship between the police, particularly in Crime Intelligence, and the organised criminals through the information system.

Many of the experts I have spoke to have shared their insights and reflections on the nexus between these three worlds and the patterns that repeat themselves as politics, policing and organised crime collide.”

(MINISTRY OF CRIME – An Underworld Explored – Mandy Wiener – Page 443: 2018)

aj ·

Wat het geword van die ANC se leuse ..?. ” justice delayed is justice denied!”

Die regstelsel is hopeloos!

Niemand het meer vertroue in die regstelsel nie.

Al wat sedert ’94 vooruitgegaan het is die skatryk regsmoguls in hulle nuwe Sandton wolkekrabbers! (uit belastingbetalers se geld!)

Skors al die ‘regsverydelaars’ wat die staatskapers (landsverraaiers) vir so lank beskerm het teen vervolging.

Onteien hulle weelderige ‘paleise van justisie’, verkoop dit en verdeel die opbrengs onder die welsynsorganisasies.

PJC ·

Ongelukkig neem hierdie tipe ding lank om resultate te lewer juis omdat die vervolgings gesag probeer om dit so lank as moontlik uit te rek en omdat mense dit nie verstaan nie word Afriforum daarvoor blameer. Dankie Afriforum vir uitstekende werk.

Eish ·

Dit is n uitstekende idee om terugvoering te verskaf, baie dankie. Ook die terloopse kommentaar daarby is nuttig. Soos die beïnvloeding om Bizos se seun se vervolging op te skort. Altyd die weerloses wat moet ly in die proses. Sterkte met die goeie werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.