AfriForum, Solidariteit Helpende Hand nou ook hof toe oor verbod op kerke

Argieffoto (Foto: sspiehs3/Pixabay)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Solidariteit Helpende Hand gaan die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg op ’n dringende grondslag nader om die verbod op godsdienstige byeenkomste – soos vervat in die Covid-19-regulasies – tersyde te stel. Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies MSW, en individuele gemeentes van verskeie kerke maak ook deel uit van dié aansoek.

In die hofstukke vra dié twee organisasies dat die verbod tersyde gestel word om godsdienstige byeenkomste toe te laat mits daar aan riglyne voldoen word om die verspreiding van die virus te voorkom. As alternatief vra die organisasies dat godsdienstige byeenkomste toegelaat word met beperkinge wat nie strenger is nie as dié van teaters, kasino’s, gimnasiums en restaurante.

Dit volg nadat die Freedom of Religion South Africa (FOR SA) hom Maandag tot die Johannesburgse hooggeregshof gewend het om die regering te dwing om die huidige en onbepaalde verbod op godsdienstige byeenkomste op te hef. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum (SANCF) het ook verlede week ʼn afsonderlike aansoek by die Johannesburgse hooggeregshof ingedien.

Onder die huidige vlak 3-inperkingsregulasies word alle godsdienstige byeenkomste, met inbegrip van kerkdienste, verbied. Dié regulasies is vroeër vandeesmaand weer ingestel weens die tweede vlaag Covid-19-infeksies.

AfriForum en Helpende Hand voer aan dié regulasie maak inbraak op burgers se reg tot geestelike welstand.

“Dit is verregaande dat kasino’s, rolprentteaters, gimnasiums en ander instellings toegelaat word om onder sekere voorwaardes bedryf te word, maar lidmate van kerke word verbied om dienste by te woon,” sê Monique Taute, hoof van veldtogte by AfriForum.

“Dit is burgers se volste reg om hul geloof vry en sonder vrees te beoefen.”

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit was van die begin af duidelik dat ’n maatskaplike krisis op die ekonomiese krisis sou volg.

“Die maatskaplike krisis het reeds begin. ’n Mens kan egter nie só ’n krisis hanteer sonder om mense geestelik te voed en te versterk nie, en die kerke speel ’n prominente rol daarin,” sê Noëth.

“Ons besef mense en kerke moet veilig en verantwoordelik wees, maar kerke moet die vryheid hê om sonder vrees vir die regering te kan kerk hou. Kerkrade en -besture is verantwoordelik genoeg om veilig en versigtig byeen te kom. Die regering moenie die mag hê om te besluit of kerke oop of toe is nie.”

Volgens dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond, gaan dié instituut ook sy stem by die hofaansoek voeg omdat hy glo die kerk moet self kan besluit of sy deure oopbly of nie. Begrond het ten doel om Christelike uitgangspunte in of vir die Afrikaanse gemeenskap te bevorder deur Bybels-begronde nadenke oor aktuele sake, veral in onderwys en opleiding.

“Begrond wil die kerk se verantwoordelikheid vir sy lede beklemtoon, veral in die besluitneming of die deur van die kerk moet oop bly of toemaak ter wille van die lidmate. Ons glo in die historiese beginsel van skeiding tussen kerk en staat en wil benadruk dat die staat nie besluite namens die kerk moet neem nie,” sê Buys.

“Ons is veral bekommerd dat die staat die indruk kan skep dat hulle hierdie mag herhaaldelik kan gebruik soos hulle goeddink, gegrond op hulle gevoel en nie Bybelse beginsels nie. As gelowiges glo ons dat God meer as die staat geëer moet word, veral as die staat wederregtelik besluite teen die kerk en eredienste neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

PH ·

Die kommuniste doen dit bloot om moeilikheid te maak en vernietigingswerk voort te sit.

Samuel ·

Die kerke moet opstaan vir dit waarin hulle glo en hul Bybelse opdragte uitvoer.

Yolandi ·

Ek is so bly, dankie! Ander gelowe smeer hulle af aan die inperkings reel en beoefen elke dag hulle geloof (moskees is oop)!

JohanR ·

Waaneer is daar enige hof uitspraake? Ek het al soe baie hof toe gaan berigte gesien vandat ons weer na Vlak 3 toe is maar nie een uitslag nie. Is die regters aan die slaap, op vakansie, net stadiger as 2020…..WAT!

Baardman ·

Waarom het die kerke nie self die regering hof toe gevat nie. Hulle skitter in hulle afwesigheid. Vroeer jare was die kerk (spesifiek NGK) n organisasie wat redelik seggenskap gehad het. Deesdae lyk dit vir my, is hulle so besig om onderling te stry oor aardse goed, dat hulle die groter doel van die kerk miskyk. Dankie AfriForum en Solidariteit dat julle ruggraat het.

Francois ·

Neewat vergeet daarvan. Kerke is nie belangrik. Die regering gaan besoek eerder tradisionele dokters vir raad oor Covic. Onosel verby.

Jakes ·

Die huidige inperkings wat selfs kerke verbied om kerk te hou kom daarvan wanneer die regering bewys dat daar n groot gebrek aan brein funksie onder sy lede bestaan.

Peter ·

Dit is met leedwese in my hart dat ek, ‘n 80 jarige “born again Christian” Afrikaans= verloste navolger van Jesus Christus, so moet gemuilband word deur’n regering wat al hoe meer neig, as hulle nie alreeds daar is nie!-na ‘n sosialistiese staat waar ‘n klompie bevooregtes net hulle eie agendas koester-selfs hulle eie mense ly!-en dan ook die wetteloosheid wat nou al hoe meer posvat-tipes van ‘n sosialistiese bedeling en wetstoepassers het in so ‘n staat geen beheer nie-resultaat die grusame moord in Parow Welegelegen-ek het self daar gewoon vanaf 1988 tot 1992. El uiters ontsteld!!!
PeterJ

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.