AfriForum, SOS eis uitstel oor skoolplasings in Gauteng

(Foto: pixabay)

AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die Gautengse departement van onderwys in ’n prokureursbrief dringend gevra om die uitstuur van kennisgewings oor skoleplasings tot 16 Oktober 2019 uit te stel. Dié kennisgewings word per SMS aan ouers van voornemende graad 1- en graad 8-leerders gestuur.

Die organisasies sê verskeie skole en beheerliggame het hulle oor die plasings om hulp genader.

Hulle meen daar is talle teenstrydighede en onreëlmatighede in die plasingslyste wat die departement aan hulle voorsien het. Sommige mense sê selfs dat die probleme reeds verskeie kere onder die departement se aandag gebring is, maar dat sogenaamde hersiene lyste weer dieselfde, of nuwe probleme ingesluit het.

Volgens Carien Bloem, AfriForum se bestuurder vir onderwys, sluit van die probleme in dat Afrikaans as medium van onderrig oënskynlik nie ʼn rol gespeel het in die besluit oor plasings nie, dat daar geen duidelikheid is oor wanneer ʼn skool sy kapasiteit bereik het nie, en dat leerders wat aansoek gedoen het om plasing in ʼn skool waar ʼn broer of suster reeds skoolgaan, in sommige gevalle nou na ander skole verwys is.

Die departement het die datum waarop hy met die plasing van gr. 1- en gr. 8-leerders by skole sou begin einde Augustus tot 18 September uitgestel, nadat die proses aanvanklik al op 30 Augustus sou begin.

“Op 27 Augustus 2019 het die departement in ’n skrywe onderneem dat alle teenstrydighede uitgesorteer sou word, alvorens die plasingsinligting aan ouers gestuur word. Dit is egter duidelik dat die tyd nou te min is om alle probleme uit die weg te ruim, wat beteken dat groot ongelukkigheid en verwarring onder ouers sal volg indien plasinginligting, gebaseer op die huidige lyste, versend sou word,” het Bloem gesê.

AfriForum en die SOS het in vandag (Dinsdag) se skrywe die departement tot die einde van die werksdag gegun om te reageer.

Indien hulle teen dan geen reaksie of bevestiging van uitstel kry nie, gaan die organisasies die dringende hof vra om die uitstuur van die inligting te verhoed totdat die probleme uitgestryk is.

Bloem het gesê die departement het vanmiddag kort voor 16:00 laat weet dat hy dringend aan die probleem aandag gee en dat hy teen 18:00 ʼn beter aanduiding sal kan gee of daar Woensdag voortgegaan word met die uitstuur van plasings-SMS’e.

Enige verdere klagtes rondom Gauteng se skoleplasings vir 2020 kan na [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yolandi ·

Dis belaglik! nou gaan ons nog n maand moet wag om te hoor of ons kinders n plek gekry het? en dan wat? waar moet jy nou rond hol in 1 maand om n ander skool te soek indien jou kind nie plek gekry het nie?

Jared ·

Uiteraard pure wraaksug en rassisme vanuit die oord van kader Lepoefie en sy kadertrawante. Hoe gouer ons en die kaders ‘n egskeiding ondergaan en Afrikaners selfbeskikking verkry, hoe beter.

Gert van Wierdapark ·

Onder-wys, maar ongelukkig nie ook bo nie!!! Gauteng-a-leng, jou lekker deng!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.