AfriForum staan gestrandes by tydens ‘spanningsvolle’ repatriasieproses

Argieffoto ter illustrasie (Foto: HomeAwayFromHome, Facebook)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gesê hy gaan voort met stappe, insluitend regsaksie, om te verseker dat Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland gestrand of in kwarantyn is nadat hulle uit die buiteland na Suid-Afrika teruggekeer het, onder minder spanning verkeer.

Alana Bailey, die organisasie se hoof van kultuursake, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê sy en die bestuurder van Suid-Afrikaanse Diaspora by AfriForum, Sue-Ann de Wet, het sedert Maart vanjaar kontak gemaak met honderde Suid-Afrikaners in die buiteland wat na Suid-Afrika moes terugkeer.

Bailey het gesê dat die Suid-Afrikaners se lot in die hande geplaas is van die betrokke owerhede in die lande waar hulle gestrand is, lande waardeur hulle in sommige gevalle moes reis, die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) asook die betrokke lugrederye.

Dié belanghebbendes moes toe eers tot ʼn vergelyk kom wat reëlings betref voordat die Suid-Afrikaners gerepatrieer kon word – ʼn proses wat geweldige spanning op gestrande Suid-Afrikaners geplaas het, het Bailey gesê.

“Wanneer een van die groep belanghebbendes skielik van plan verander, kan dit beteken dat ’n vlug op kort kennisgewing gekanselleer of herskeduleer word, wat groot spanning by die gestrandes en hul geliefdes tuis veroorsaak. AfriForum is dus deurentyd besig om inligting tussen gestrandes, owerhede en geliefdes uit te wissel en die betrokkenes te herinner dat hulle met Dirco kontak moet behou. Gereelde kontak met hulle van Dirco se kant is verder noodsaaklik en AfriForum probeer ook daarvoor bemiddel, het Bailey bygevoeg.

Die jong groep Suid-Afrikaners is verlede week gerepatrieer (Foto: Lynne Sladky, AP)

Volgens De Wet moes AfriForum in enkele gevalle al berading reël waar gestrandes só angsbevange geraak het dat hulle ’n gevaar vir hulself begin raak het.

Maroela Media het vroeër berig dat Dirco reeds duisende Suid-Afrikaners uit die buiteland gerepatrieer het en in die proses is om nog honderde terug te bring huis toe.

“Die afgelope twee weke kon al meer groepe terugvlieg of self terug ry na Suid-Afrika. Die proses wat in Maart en April nog vol haakplekke was, verloop nou al gladder, maar ons wil die publiek ook maan om kalm te bly en nie paniekerig te raak wanneer herbeplanning soms nodig is nie,” het De Wet op haar beurt gesê.

“Ons vra ook familie en vriende tuis om kontak te behou met hulle en hulle moed in te praat. Wanneer ’n mens sit en wag om huis toe te kom gaan tyd ongelooflik stadig verby en voel dit maklik asof almal van jou vergeet het, maar ons kan hulle gerusstel dat baie mense, insluitend ons by AfriForum, onverpoosd werk om hulle huis toe te bring,” het De Wet gesê.

Suid-Afrikaners in kwarantyn

‘n Groep Suid-Afrikaners wat onlangs vanuit Doha na Johannesburg gevlieg het. (Foto: Verskaf)

Wat diegene betref wat tans in kwarantyn is, gaan regsaksie voort om te verseker dat Suid-Afrikaners wat by hul aankoms kan en wil selfisoleer, toegelaat word om dit te doen, het Bailey benadruk.

Volgens Bailey behoort repatriërende Suid-Afrikaners hulself egter op kwarantyn voor te berei aangesien daar nog nie regsuitsluitsel oor die verpligte 14 dae kwarantyn in ’n staatsfasiliteit is nie.

“Dit is wel so dat die meeste mense nie eens die volle 14 dae daar hoef te bly nie. Die tydperk hang tans van die diskresie van die betrokke owerhede af,” het sy gesê.

Enige spesiale vereistes of omstandighede soos die aanvulling van voorgeskrewe medikasie of spesiale dieetvereistes moet voor repatriasie onder Dirco se aandag gebring word.

Bailey moedig Suid-Afrikaners aan om AfriForum te kontak indien hulle regte in die fasiliteite geskend word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

waarom wil Suid-Afrikaners in die buiteland so graag terugkom? Meeste van hulle is dan juis hier weg weens goed soos regstellende aksie, BEE, misdaad, subtiele en openlike diskriminasie teen wit mense, swak of geen munisipale dienslewering.
My lys van alles wat fout is in hierdie sleg land, is LANK.
Asseblief mense, MOENIE terugkom nie. Dinge is nou seker 100 maal erger as toe julle weg is. Julle gaan die een traumatiese ervaring en terleurstelling na die ander he wanneer julle terug is in SA.