AfriForum staan Glencoe-boer by met moordklag

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, en die strafregkenner dr. Llewellyn Curlewis. (Foto: AfriForum)

Die burgerregtegroep AfriForum sê nadat hy ʼn onafhanklike voorlopige ondersoek na die verloop van gebeure gedoen het wat gelei het tot die inhegtenisneming van Garth Simpson, het hy besluit om Simpson voortaan met regshulp by te staan.

Die 68-jarige Simpson, ʼn boer van KwaZulu-Natal, sit sy borgtogaansoek vandag in die Glencoe-landdroshof voort nadat hy einde verlede maand op ʼn aanklag van moord in hegtenis geneem is.

ʼn Skoot het tydens ʼn struweling tussen Simpson en die 17-jarige Qiniso Dlamini afgegaan en Dlamini is dood. Maroela Media het vroeër berig op die dag van die skietery het Simpson ʼn trop beeste op sy plaas aangetref en die diere in ʼn kraal toegemaak om te probeer vasstel aan wie dit behoort.

Simpson se buurman het glo gesê dat sommige van die beeste gesteel is en die diere op Simpson se plaas het met ʼn beskrywing van die ander boer se diere ooreengestem. ʼn Groep jong mans het glo op die plaas aangekom en volgehou dat die beeste aan hulle behoort.

Simpson het in daardie stadium reeds die polisie ontbied en het met sy haelgeweer, wat hy glo vir selfverdediging gaan haal het, ʼn waarskuwingskoot geskiet. Die mans het hom glo oorrompel. Op ʼn video van die gebeure, wat Simpson se seun gemaak het, kan gesien word hoe Dlamini vir Simpson ʼn skop teen die bors en ʼn hou deur die gesig gee, voor Dlamini glo die vuurwapen probeer afneem en ʼn skoot klap.

Dlamini stort daarna ineen.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, het Donderdag gesê die organisasie het dr. Llewellyn Curlewis, ʼn strafregkenner, aangewys om ʼn ondersoek na die gebeure te doen. Curlewis is verlede week self na die gebied om hom van die situasie te vergewis en AfriForum het op grond van sy bevindings by die saak betrokke geraak.

Roets sê AfriForum raak nie gewoonlik by individuele kwessies betrokke nie en konsentreer op kwessies wat die breër gemeenskap raak – soos in dié saak die geval is.

“Ons is bekommerd, nie soseer oor wat in die hof gebeur nie, maar dat mense die saak vir politieke of populistiese redes gebruik en dit probeer voorhou as iets wat dit nie is nie.”

Daar moet verhoed word dat die aanname geskep word dat Simpson reeds skuldig is, terwyl die saak nog nie eens aangehoor is nie, sê hy.

“ʼn Praktiese manier vir AfriForum om betrokke te raak, is met regshulp. Die beskuldigde het ons genader; ons het eers die ondersoek laat doen en daarna besluit om betrokke te raak.”

Roets het die gebeure as tragies bestempel en sê dit is belangrik dat die saak deeglik ondersoek word en geregtigheid geskied.

“Die feit is dat verskeie nasionale knelpunte by hierdie saak ter sprake is. Boere en mense in landelike gebiede word daagliks met die werklikheid van plaasmoorde, grondbesettings, dreigemente van onteiening, toenemende misdaadsyfers en ʼn ondoeltreffende polisiediens gekonfronteer.

“In hierdie omstandighede is dit onafwendbaar dat soortgelyke tragiese voorvalle op plase sal afspeel.”

Curlewis stem saam dat die gebeure ʼn tragedie is en sê op grond van die getuienis wat beskikbaar is, lyk dit of daar geen werklike rede is waarom borgtog nie aan Simpson toegestaan kan word nie.

Simpson boer reeds sedert 1975 op sy plaas in die streek en voorsorgmaatreëls is getref om sy eie veiligheid en dié van sy gesin te help verseker, sou borgtog aan hom toegestaan word.

ʼn Skuur op Simpson se plaas is verlede week, ná sy eerste hofverskyning, aan die brand gesteek en die polisie is in groot getalle by die hof ontplooi om ʼn skare wat daar saamgedrom het in bedwang te hou.

Curlewis sê die dood van elke Suid-Afrikaner bly tragies, maar daar kan nie toegelaat word dat rassisme, of bewerings van rassisme, die regsproses beïnvloed nie. Hy benadruk wel dat daar in hierdie stadium geen aanduiding is dat die hof op enige manier beïnvloed is deur die gebeure buite die hof nie en dat die regsproses tot dusver vlot verloop.

Volgens hom blyk dit dat Simpson vanuit suiwer regsbeginsels ʼn volwaardige verweer teen die aanklagte teen hom sal hê indien dit deur die hof aanvaar word en onomwonde deur selfoonvideogetuienis gestaaf word.

Dit lyk boonop ook nie of Simpson enigsins die opset gehad het om ʼn moord te pleeg nie.

Benewens die moordklag staan Simpson ook tereg op ʼn aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Die haelgeweer waarmee die skoot afgevuur is, behoort wel aan hom, maar die aanklag is aanhangig gemaak omdat sy sogenaamde wit vuurwapenlisensiekaart glo verval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Wat is die opdrag as die polisie aangeval word of iemand hul wapens wil afneem hoed ? Antwoord dit twaksel .

Diline

Rassisme gebeur tot in die howe! Hoop AfriForum kry dit reg om hierdie boer te help, niemand ander sal of wil nie.

Sarel

Bheki Cele verkkasr dat jy jouself nie mag verdedig nie

Pieter

Die anc land se regstelsel is om van op te gooi. Sit met landroste en regters wat so dom is soos grond.Dag vaar die staat as die saak af gehandel is dit gaan hier oor politiek en die sleg landros laat dit toe.

AW

Sterkte