AfriForum stel noodwaterplan in Kaapstad in werking

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

AfriForum het Donderdag aangekondig dat dié burgerregte-organisasie ʼn plan bewerkstellig het om hulp te verleen aan inwoners van Kaapstad wat te midde van die erge droogte in die provinsie deur die naderende Dag Zero in die gesig gestaar word.

AfriForum het in ʼn verklaring gesê die droogte wat eintlik die hele land in ’n wurggreep het, het die organisasie genoop om met ’n waterplan vorendag te kom.

Luidens die verklaring is die eerste fase van die waterplan die oprigting van noodwaterpunte in Kaapstad, wat ten doel het om weerlose mense in die gemeenskap van water te voorsien sou Dag Zero aanbreek.

Die eerste waterpunt gaan by AfriForum se susterorganisasie Solidariteit Helpende Hand se skenkingskantoor in Kaapstad opgerig word.

Daar word drie waterpunte in Kaapstad beplan. Die eerste waterpunt is ’n 10 000 liter-tenk wat Maandae tot Saterdae water aan mense in die omgewing gaan voorsien. Die tenk word gevul met waterskenkings wat aan SANS 241-standaarde voldoen.

Die volgende twee waterpunte sal elk 20 000 liter water daagliks kan lewer. AfriForum-takke sal ook waterontsmettingsprodukte versprei in gebiede waar daar ʼn risiko van waterbesoedeling is. Plastiekbottels kan ook na dié waterpunte geneem word vir herwinning.

“Bykomend tot dié projek werk AfriForum ook baie nou saam met Water Shortage South Africa (WSSA) om die waterkrisis die hoof te bied. Gemeenskappe moet aan hul dorpe se waterbestuur begin deelneem om beurtwater in die toekoms te vermy en op ’n meer onafhanklike wyse volhoubare watertoevoer te verseker,” het Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

Volgens Benoit le Roy, uitvoerende hoof van WSSA, is dié organisasie tans besig om gebottelde mineraalwater by meer as 24 waterpunte in Gauteng in te samel. Dié water word geskenk deur individue, godsdienstige instellings en maatskappye. Die water word deur vrywilligers ingesamel en met geborgde vervoer na Kaapstad geneem en onder mense in waternood versprei.

“Ons het die afgelope twee weke meer as 100 000 liter water per week na Kaapstad gestuur om weerlose persone te help. Die WSSA glo dat Kaapstad inderdaad ’n groot krisis het: Slegs 50 liter water per persoon per dag in ’n moderne wêreldstad met Dag Zero wat soos ’n swaard oor die stad hang. Ons het daarom besluit om weer met AfriForum saam te werk om die weerloses in ons gemeenskap meer doeltreffend by te staan,” het Le Roy gesê.

Volgens Pawson word AfriForum se landswye takstrukture ingespan om water in te samel, terwyl die Kaapstad-tak die waterpunte gaan bestuur. AfriForum se omgewingsake-afdeling gaan die volhoubaarheid van waterbronne en skenkings moniteer en watergehalte verseker.

“AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling gaan ’n gesamentlike operasiesentrum oprig om waterpunte te beveilig en risiko-ontleding te doen. AfriForum se plaaslikeregeringsafdeling sal met munisipaliteite skakel om hulle op hoogte van die organisasie se aktiwiteite te hou,” het hy gesê.

Volgens die verklaring is AfriForum se teenkorrupsie-eenheid ook besig om wanbesteding in die nasionale departement van water en sanitasie te ondersoek. Strafregtelike klagte sal teen die rekenpligtige beampte van dié departement ingedien word indien die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree is. “Dit sou onaanvaarbaar wees as die departement belastinggeld wanbestee terwyl droogtehulp geweier word,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring is AfriForum se noodwaterplan reeds in die verlede in onder meer Calvinia, Kroonstad, Senekal, Biesiesvlei en Paulpietersburg in werking gestel toe watertoevoer daar beperk was. In hierdie gevalle het AfriForum skoon drinkwater aan die gemeenskap voorsien, terwyl die regering aangespreek is en meer volhoubare langtermyn- waterprojekte geïmplementeer is.

Enige persoon wat ’n finansiële bydrae tot AfriForum se noodwaterfonds wil maak of meer inligting wil bekom, kan AfriForum se webblad by www.afriforum.co.za besoek. Persone wat ander bydraes wil maak, soos die beskikbaarstelling van store met vurkhysers, vragmotors, die aanry van water of ’n waterbron soos ’n boorgat, kan AfriForum direk by 086 10 200 30 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Antoinette ·

Ek verstaan nie wat maak van jou weerloos. Almal is inwoners van Kaapstad of dan Wes-Kaap. Almal het nie water nie. Wanneer kwalifiseer jy vir weerloos om ook te kry!!!! My word!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.