AfriForum stel vullisterreinouditprojek bekend

Hatherley-vullisterrein in Mamelodi Foto: Rozier van Tonder, AfriForum

Hatherley-vullisterrein in Mamelodi Foto: Rozier van Tonder, AfriForum

AfriForum het vandag sy nasionale vullisterreinouditprojek by die Hatherley-vullisterrein in Mamelodi bekend gestel. Tydens die geleentheid is lede van die media toegelaat om in samewerking met Chris Boshoff, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake, ’n oudit op dié vullisterrein te doen. Dié oudit is aan die hand van die minimum vereistes gedoen waaraan ’n vullisterrein moet voldoen.

“Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (art. 59 van 2008), moet ʼn vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. AfriForum het hierdie vereistes in 25 vrae verwerk en gebruik dan dié vrae om die vullisterreinoudit te doen,” het Boshoff verduidelik.

Die oudit op die Hatherley-vullisterrein toon dat dié terrein aan slegs 36% van die minimum vereistes voldoen. Mediese afval word byvoorbeeld onwettig gestort, wat moontlik tot ondergrondse waterbesoedeling kan lei. Daar vind ook geen rehabilitasie en kompaksie plaas nie en die vullis waai maklik na omliggende areas. “Ons het ook opgemerk dat dierkarkasse en bene onwettig gestort word. Daar is geen toegangsbeheer by die hekke nie en die heining word nie in stand gehou nie. Om alles te kroon, wei daar diere op dié terrein en is daar families met kinders wat op die terrein woon,” het Boshoff bygevoeg.

Volgens Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, word 90% van alle Suid-Afrikaanse vullis in vullisterreine gestort, terwyl slegs 10% van vullis herwin word. Pawson voer verder aan dat die uitslae van hierdie oudit bewys dat ondoeltreffende bestuur en gebrekkige opleiding van munisipale beamptes hoogty vier en dat die regering nie genoegsaam vir toekomstige vullis beplan nie.

“In die volgende drie weke gaan AfriForum vullisterreine in dié areas oudit waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Die resultate gaan dan in ’n verslag opgeneem word en aan Edna Molewa, minister van omgewingsake, oorhandig word. Molewa het reeds aangedui dat sy ’n samewerkingsooreenkoms met AfriForum wil sluit,” het Pawson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lance ·

Wys jou net hoe uit beheer alles is in die land ….dit moet nou eers breek of iemand moet siek raak of beseer raak …..DAN sal hulle daaraan dink om iets te doen ….dis n joke

Lida ·

Sindelikheid en higiene is nie deel van die meerderheid SA ners nie . Hulle sal nie verander nie.

John ·

Die besoedeling van ondergrondse water vind op ‘n groot skaal plaas agv vullishope wat te na aan dorpe en stede aangele word. Boorgatwater is gevolglik nie geskik om groente-tuine mee nat te gooi nie maar dit word wel gedoen. Vee drink ook die water. Eet ons giftige vleis? En drink ons melk wat besmet is met gevaarlike kieme?

Popeye ·

Edna Molewa word dus hierdeur gehelp om haar werk hopelik reg te doen? Wie kry die krediet hiervoor aan die einde? Goeie inisiatief Solidariteit, Geluk!

ELIZE C ·

Dankie vir die inisiatief. Kan daar groot asb ook gekyk word na die vullis-stortings terrein reg langs die N4, op die ‘hoeke’ van die N4 en die Shosanguwe kruising. Die stank is ondraaglik, bloot om daar verby te ry, daar is geen heining van ‘n dag oud nie, daar is plakkershutte al om die rand van die terrein, en klaarblyklik ook geen kompaksie nie, want die gemors waai tot oorkant die snelweg, dit lyk aan daardie kant al net so sleg en soos ‘n klein stortings-terrein op sy eie.

Johan ·

Afri forum, kom doen asb `n oudit in Rustenburg.Julle moet net gewapen wees.

Koos ·

Die regering bestuur niks effektief nie behalwe korrupsie dit floreer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.