AfriForum steun wysigingswetsontwerp op Rampbestuurwet

Marnus Kamfer.

AfriForum het Donderdag kommentaar op die voorgestelde wysigingswetsontwerp op Rampbestuur gelewer. Dié burgerregteorganisasie verwelkom die wysigingswetsontwerp met ope arms en benadruk dat dit so gou moontlik goedgekeur moet word omdat dit in openbare belang is.

Die wysigingswetsontwerp op Rampbestuur is in Oktober opgestel deur dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, en sal as ’n private lede- wetsontwerp gepubliseer word. Die wetsontwerp het ten doel om die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 te wysig ten einde die duur van ’n ramptoestand te wysig.

Maroela Media het vroeër berig die wetsontwerp is daarop gerig om die magsmisbruik, ondemokratiese misbruik van staatsmag, aantasting van gewone Suid-Afrikaners se menseregte en gebrek aan verantwoordbaarheid van die regering tydens ’n ramptoestand, soos wat die land tans met die koronavirus-grendelstaat beleef, stop te sit.

Basies poog die wetsontwerp om ʼn herhaling te voorkom van die huidige situasie wat reeds sedert Maart in Suid-Afrika heers, met die regering wat na hartelus regulasies uitvaardig sonder demokratiese parlementêre insette en sonder parlementêre verantwoordbaarheid. Boonop laat die huidige Rampbestuurwet die regering in praktyk toe om vir ʼn onbepaalde tydperk – teoreties dus vir ewig – op hierdie wyse te regeer al is dit geheel en al strydig met die kernwaardes van die grondwetlike demokrasie.

Al wat die regering hoef te doen om voort te gaan om só per dekreet te bly regeer is om telkens aan te kondig dat die ramptoestand vir nog ʼn maand verleng word, soos die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, dan ook klokslag doen. Sy het twee weke gelede weer die land se ramptoestand weens Covid-19 met nóg ʼn maand (tot 15 September) verleng.

Belangstellende individue en groepe wat kommentaar op die wetsontwerp wou lewer, het tot Donderdag kans gehad om dit te doen.

Volgens Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum, kom die woord “lockdown” (inperking) nie in die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 voor nie, en ook in geen ander nasionale statuut of wetgewing nie. “En tog het dié nuwe woord – wat ’n reeks van voortdurend veranderende maatreëls en stelsels behels – verweef geraak met die uitvoerende gesag se reaksie op die Covid-19-pandemie,” het Kamfer gesê.

“Die wysigingswetsontwerp sal dié ongrondwetlike toedrag van sake regstel. In wese is dit daarop gemik om ’n mate van oorsig aan die nasionale regering terug te gee en om die uitvoerende gesag se magsoorskryding te beperk wat oor die afgelope 18 maande – sedert die aankondiging van ’n nasionale ramptoestand – vanselfsprekend geword het.”

Volgens Kamfer is dit bykans twee jaar lank al die alleenreg van ’n onverkose, dog uitgekose groep mense om te besluit of basiese regte en vryhede geniet mag word. “Die gevolglike moeras van regulasies en mikrobestuur het ’n nypende impak op Suid-Afrika gehad.

“Die wysigingswetsontwerp sal die Wet op Rampbestuur met grondwetlike prosedures belyn wat betref noodtoestande, wat aan die beginsel van die skeiding van mag voldoen en behoorlike oorsig bewerkstellig.”

Die DA het ook vroeër die jaar aangedui hy beoog om vanjaar konsepwetgewing voor te berei om die Rampbestuurswet te wysig om ʼn toekomstige inperking onder parlementêre beheer te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jackie ·

Die ANC beheer die parlement met hul meerderheid en ANC lede mag nie teen Luthulihuis se besluite in die parlement stem nie. Al wat gaan gebeur is dat daar sal meer rompslomp en bekgevegte wees om dieselfde resultaat te verkry.

JM ·

Hoog tyd dat die ANC sowel as Nkosazana Dlamini-Zuma verban word na ‘n eiland in die Middellandse See! Hulle het nog net skade aangerig in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.