AfriForum stig fonds vir medaljewenners

Die sowat 5 000 goud, silwer en brons medaljes by vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio is uit herwinde elektroniese toestelle vervaardig. (Foto: Geoffroy van der Hasselt/AFP)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag ’n medaljefonds vir die wenners van die Olimpiese en Paralimpiese Spele bekendgestel. Dit volg ná verskeie berigte dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) oor te min of geen fondse beskik om medaljewenners met prestasiebonusse te vergoed nie.

Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag het tydens die Olimpiese Spele goue en silwer medaljes verower. Die Paralimpiese Spele word van 27 Augustus tot 5 September gehou.

Barry Hendricks, president van Saskok, het egter Maandag in ʼn verklaring die mediaberigte as onwaar bestempel en gesê Schoenmaker en Buitendag, asook die medaljewenners van die Paralimpiese Spele in Tokio, sal wel bonusse ontvang. Die komitee wil hom egter nog nie tot ʼn bedrag verbind nie.

AfriForum het egter nie op hom laat wag nie en die fonds, wat deur hulle bestuur word, is Dinsdag deur die sanger Adam Tas op Twitter voorgestel. Dié organisasie het die eerste skenking van R50 000 aan die fonds gemaak en moedig die publiek, sakeondernemings, organisasies en maatskappye aan om die fonds te ondersteun.

“Dit is skokkend dat die owerheid en Saskok ons atlete in die steek laat. Die feit dat Adam Tas en talle ander AfriForum-lede ons versoek het om in te gryp, is weereens tekenend van ’n kragtige selfdoengemeenskap wat intree waar die owerheid misluk,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, sê hoewel Saskok gesê het hy sal die wenners met prestasiebonusse vergoed, kon hierdie situasie verhoed gewees het indien Saskok in die laaste paar jaar beter met hul fondse te werk gegaan het. “Wanbesteding is nie net ’n Saskok-probleem nie. Talle sportlui ly onder die onverantwoordelikheid van komitees en federasies wat veronderstel is om na hul belange om te sien,” sê Peters.

“Benewens die feit dat atlete Suid-Afrika op eie koste by die Spele moes verteenwoordig, word hul harde werk ook nie beloon nie. Nathi Mthethwa se uitlatings dat ons demografie nie voldoende verteenwoordig word nie, slaag nie as ’n mens in ag neem hoeveel talentvolle atlete sou kon deelneem as hulle finansiële ondersteuning gekry het.”

Peters meen wanbesteding moet uitgeroei word as ons wil hê dat talentvolle en minderbevoorregte atlete op die wêreldverhoog moet deelneem. “’n Span behoort nie volgens ’n spesifieke demografie saamgestel te word nie; dit begin by die beskikbaarstelling van gelyke geleenthede, geriewe en afrigting vir jong sportlui.”

Skenkings sal tot 15 September vanjaar aanvaar word, waarna dit aan atlete oorhandig sal word. Mense wat tot die fonds wil bydra, kan dit in AfriForum se rekening inbetaal met “MEDALJE” as verwysing.

Die DA het intussen gevra dat Saskok dringend voor die parlement moet verskyn. Die party versoek dat Saskok die parlement moet inlig oor Team South Africa se prestasie by die Olimpiese Spele. Saskok moet ook sy voorbereidingsplan en finansiële model vir die Spele in Parys in 2024 en Los Angeles in 2028 uiteensit en sê hoe hulle beplan om huidige en toekomstige atlete te ondersteun.

Volgens Tshepo Mhlongo, die DA se woordvoerder oor sport, beklemtoon die debakel oor die prestasiebonusse weer eens die uitdagings wat Saskok ervaar ten opsigte van sportontwikkeling, finansiële bestuur en ondersteuning vir atlete.

“Die prestasie van Suid-Afrika tydens die Olimpiese Spele vanjaar was nie gelykstaande aan die vorige jare se prestasies nie, maar ons moet die omstandighede in aanmerking neem waaronder ons atlete moes oefen en voorberei vir die Spele weens die Covid-19-pandemie, inperkingsregulasies en reisbeperkings.

“Die realiteit is dat die atlete nie die skuld vir Saskok se haglike finansiële probleme kan kry nie en dat hulle nie daarvoor gestraf moet word nie. Saskok moet self daarvoor verantwoordelikheid neem.

Hy sê hoewel Saskok geen aanspraak kan maak op die glorie van hierdie medaljewenners nie, moet die volgende generasie atlete op Saskok kan staatmaak vir hul volle ondersteuning en ontwikkeling.

Maatskappye en organisasies wat by AfriForum se fonds betrokke wil raak, kan [email protected] e-pos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Spyker ·

Nooi net ook vir Mthetwa om teenwoordig te wees by die oorhandiging

Lourens CFG ·

Nee wat, stuur hom eerder koue bokveld toe.
Geen verniet dekking vir hom nie.

Samuel ·

Dit is skokkend dat Saskok en by implikasie, nie ons sportmanne-en vroue ondersteun nie. Hulle is té behep met demografie. Het Saskok dan géén geld begroot vir die Olimpiese atlete nie? Ook nie vir die oorspronklike spele verlede jaar nie??

Catherina ·

Emigreer kinders. Julle sal in ander lande waardeer word en goed beloon word. RSA is n grap

Vrijburger ·

Skandalig dat SA sportmense die land moet gaan verteenwoordig op hul eie onkoste!

Suzette ·

Ja want as ons nie self nie sal niemand nie. Wonder of dieselfde sou gegeld het as bv die aflosspan ‘n goud of silwer los geslaan het.

marius ·

Dis verkeerd , want die skelm spul sit agter hul kloue en grinnik .

Stephen ·

Suid Afrika is net n mislukking op elke vlak. Wel gedaan Afriforum. Julle is n voorbeeld vir die nuttelose ANC Regering

efjy ·

As ek reg onthou is daar in die verlede ‘n motor (of twee) geborg vir ‘n wereld rekord wat gebreek word, maar dit sal darem seker nog gebeur.

Frederik C ·

Synde SASKOK geen bydraes maak nie, het die atlete eintlik die medaljes vir hulself gewen, en nie vir die land nie.

Elmarie ·

Wonderlike idee MAAR ek sou sê hul moes wag met dit. Nou gaan SASKOK eenvoudig sê maar hul het niks geld nie so Afriforum moet dan maar gee en so draai hul hul uit hul belofte

Anel ·

Nou wat doen die lot by SASKOK om die masiewe salarisse te verdien?

Lourens CFG ·

Weet jy hoe BAIE moeite dit is om kantoor toe te gaan vir ‘n dag?
Eish, moeg net van dink daaraan.

Kobus ·

Atlete wat voortaan wen moet liefs nie die vlag en nasionale klere dra nie. Neem as individu deel.

Kobus ·

@Elmarie.Stem saam. Dis net wat SASKOK wil he. Nou kan hulle saam met die agbare afwesige minister van Sport en Kultuur aan meer redes/verskonings dink om nie te betaal nie. So takel hulle ons af. Wat ‘n skande. Sou wou sien dat die twee dames die “bonus” weier want die glorie van hulle prestasies is daarmee heen

Oomniklaassevriend ·

Maar as die medalje wenners hoofsaaklik van kleur was – dan sou daar geld gevind word.

annie ·

Eerste keer wat ons hoor van AfriForumSport. Goeie idee om ons mense aan te moedig want niemand anders sal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.