AfriForum stig teenrassisme-eenheid

dr-frans-cronje-rassisme-eenheid-2017-09

Dr. Frans Cronje van die Insituut van Rasseverhouding het gesê die gemiddelde Suid-Afrikaners het nog ‘n goeie verhouding met mekaar en minder meningsverskille as wat gereken word. Cronje sal een van die raadgewers vir die eenheid wees. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag in een van sy mees omvangryke stappe nog om dubbele standaarde rakende die hantering van rassisme in die land hok te slaan ʼn nuwe eenheid bekendgestel wat rassisme en haatspraak sal vasvat.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wat die teenrassisme-eenheid gaan lei, het tydens die bekendstelling van die eenheid Maandag in Centurion beklemtoon dat AfriForum alle vorme van rassisme en haatspraak sal beveg, maar dat die eenheid ook standpunt gaan inneem teen dubbele standaarde met betrekking tot rassisme en haatspraak.

“Ons navorsing dui voortdurend daarop dat wit rassisme deurlopend aggressief veroordeel word, terwyl swart rassisme dikwels geïgnoreer, of in sekere gevalle selfs verdedig word. Om een vorm van rassisme te beveg en terselfdertyd ʼn ander vorm van rassisme te aanvaar, verdedig of selfs te bevorder, is op sigself ook ʼn vorm van rassisme.”

Verskeie rolspelers, wat hulle as raadgewers tot hierdie eenheid verbind het, het as sprekers by die bekendstelling opgetree en verskillende aspekte van wat die eenheid beoog, uitgelig. ʼn Verslag getiteld, “Confronting racism consistently”, is ook by die geleentheid bekendgestel.

Die temas wat die onderskeie raadgewers by die bekendstelling behandel het, sluit in:

  • Dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Instituut van Rasseverhoudinge (IRR), het aangedui dat hul navorsing herhaaldelik daarop dui dat die meerderheid mense van alle rasse in Suid-Afrika in vrede met mekaar wil saamleef, maar dat daar wel ʼn probleem by die ekstreme pole bestaan, waar rassisme aangehits word.
  • Die burgerregte-aktivis Rhoda Kadalie het in haar aanbieding beklemtoon dat ras toenemend in Suid-Afrika as politieke wapen gebruik word.
  • Adv. Mark Oppenheimer, spesialis in spraakvryheid en haatspraak, het die lyn tussen vryheid van spraak en haatspraak uitgelig en riglyne gegee vir die bevordering van spraakvryheid, terwyl haatspraak beveg word.
  • Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner, het die regsremedies wat tot ʼn mens se beskikking is om rassisme te beveg, uitgelê.

Roets het ook tydens die konferensie ʼn breë aksieplan vir hierdie eenheid uiteengesit. Dit sluit die volgende in:

  • Deelname aan gesprekke en ideevorming oor die kwessie;
  • Konsekwente veroordeling van rassisme;
  • Insameling en ontleding van data;
  • Voortdurende navorsing oor rassisme en haatspraak;
  • Siviele litigasie;
  • Strafregtelike klagtes;
  • Privaat vervolging; en
  • Internasionale bewusmaking.

Die eenheid sal deur AfriForum bedryf word en verskeie rolspelers sal deurlopend by die aktiwiteite van hierdie eenheid betrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink dit is ‘n bak plan. Ons almal glo al dat slegs blankes rassisties kan wees, en dit is bog.

Daleen ·

Is verheug dat daar standpunt ingeneem word oor die dubbele standaarde oor rassistiese- kwessies! baie dankie!

Eish ·

Wonderlik! Ons sien uit na hul resultaatgedrewe werk. Afriforum met nog n eerste, wat werk.

Koos1 ·

Afriforum, ek ondersteun julle idee, maar het ‘n problem met julle uitvoering in die algemeen.
Die Vervolgings Eenheid is ook geskep, maar al wat ons nog daarvan gehoor het is dat Adv, Nel nou in ‘n radio sepie speel.
Idees is baie goed maar sonder resultate, is dit geneig om maar by die agterdeur uit te loop.

Lynne ·

Lees asb Kallie Kriel se antwoord hierop in gister se Rapport!

John ·

Ek is baie bly daaroor en steun hulle 100%. Hoop nou net werklik dat die rasse aanvalle op blankes ook aangespreek en gestraf sal word. Penny Sparrow en soveel ander is al vervolg en beboet vir uitsprake op Facebook en Twitter en nog nie een persoon wat haatspraak teenoor minderhede gespreek het is aangepraat, aangekla of gestraf nie. Hulle tart minderhede openlik uit op Facebook, staan selfs reg met gewere of prentjies van ‘n koeëlwond in ‘n kind se kop, en niemand het nog iets aan hulle gedoen nie. Ook nie die studente met hulle rassistiese uitsprake, liedjies en t-hemde nie, hulle studeer nog almal rustig voort. As rassisme teenoor die meerderheid aangevat word, so ook teenoor die minderhede, ongelukkig stel die regeringsamptenare en ministers ‘n SWAK voorbeeld hiervan.

Johann ·

Askuus maar ek wil nog SIEN hoe die goedbedoelde eenheid funksioneer? Gaan weer n groot HOEHAA wees soos met Adv Gerrie? Jammer: maar dis net nog n koste eenheid met groot verwagtings en min op die tafel. En terugvoer oor die eenheid waarskeinlik soos met Adv Gerrie en sy span…..NIKS!!!!!!! Almal bly vra wat het geword van him en sy span? Hoekom word huidige blatante misbryik van regs prosesse nie aangevat nie…en en en en. Jammer ouens: julle het min van my aandag…

Alet ·

As mens stilbly wonder mense of jy dom is, As jy praat, wéét mense jy is onkundig. Dit is al so baie gesê dat Gerrie Nel net sake mag aanvat wat nié deur die staat vervolg gaan word nie. Hulle moet eers sién watter sake word nié vervolg nie en dit vat tyd. Ek is seker hy en Agriforum is baie slimmer met die wette as ons leke. En gun elke diertjie sy plesiertjie. As hy dit geniet om op die radio in Staal Burger te gaan speel op die radio (wat seker maar 5 of 10 minute episodes gaan wees), laat hy dit doen. Ek kan nie wág vir Staal Burger nie!

Pieter ·

Weet julle wie Johann is? Dalk ken hy die reg beter as Gerrie Nel? Moet nie vergeet nie (indien julle weet) dat die einste Gerrie as jong ambisieuse aanklaer onder Klaus von Lires und Wilkau verbete geveg het om Clive Derby-Lewis op te sluit! AF is op ‘n glibberige paadjie wat hom al meer van ons volk vervreem: nes die ou NP.

Callie ·

Johann, as jou aandag min oor die saak is moet dan nie kommentaar lewer nie. In die land is mense wat positief op die berig reageer, broodnodig. Kyk om jou en sien hoe word die blanke benadeel, met niemand wat vir hom opkom. Met hulle wat dit aan doe groot klok gaan hang kan dit baie help

DS ·

Wonderlike nuus. Kom ons gee hulle ‘n kans voor ons hulle net veroordeel.

Hanna ·

Gerrie Nel het voorwaar die reg op sy eie stokperdjies en wat hy in sy privaatheid doen is sy saak.
Ek sal bly wees as elke plaas moord n rassisme saak word. n Swart seun spring van n bakkie af en HOE HA hulle gaan tekere maar ons mense word vermoor en dit haal nie eers n nuuskanaal nie.

Staan Op! ·

Dis ‘n baie nodige inisiatief – hoop julle kan VINNIG ‘n voorbeeld maak van ‘n paar FB rasiste asook politici. Wat van die T-hemde van BLF? Dis pleinweg ‘n oorlogsverklaring teen eiendom eienaars.

Toppie ·

Teenrassisme- eenheid deur Afriforum, seker ‘n goeie ding maar ek wonder of dit nie bietjie laat is nie, want dit wil lyk of die einde in sig is vir die blanke Afrikaner en vernaamlik die blanke mans van SA. Almal probeer deesdae net die regte geluide maak, maak nie saak hoe ‘ n nasie of groep of belangrik die afrikaner vernietig word nie. Wit mans word opgesluit vir geringe oortredings terwyl boere vermoor en geroof word.

Troepie ·

Oo êh êh. Hier kom’n ding! Hierdie perd gaan sy ruiter nog afgooi.

Reinhardt ·

Uitstekend! Ek sien my bydraes gaan darm vir goeie werk!

SARIE VAN HEERDEN ·

Wishful thinking. Rassisme kon oor die hele wereld nie uitgeroei word nie. Dis iets eie aan die natuur van mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.