AfriForum takel TMPD se magsmisbruike

(Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Donderdag ’n omvattende veldtog teen die beweerde wangedrag en magsvergrype van sekere lede van Tshwane se metropolisiedepartement (TMPD) aangekondig. Dié burgerregteorganisasie staan tans ook twee slagoffers van beweerde magsmisbruike deur die TMPD by.

“Kymie du Toit en prof. André Thomashausen het onder beweerde wangedrag van sekere TMPD-lede deurgeloop en niemand is nog verantwoordbaar gehou nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid. “AfriForum het by hierdie sake betrokke geraak om toe te sien dat die betrokke TMPD-lede aan die pen ry om as voorbeelde te dien vir ander lede van die TMPD wat hul mag misbruik. Ons sal nie skroom om dié lede privaat te vervolg nie.”

Die veldtog bestaan uit drie dele. Die eerste aksie het behels dat AfriForum se privaat vervolgingseenheid ’n brief aan lt.genl. Johanna Nkomo, hoof van die TMPD, gestuur het waarin die burgerregteorganisasie versoek het dat:

* Nkomo ’n aangewysde taakspan aanstel om klagtes teen metropolisielede te ondersoek en wat lede van die publiek deurgaans kan ondersteun as hulle slagoffers van magsmisbruik deur TMPD-lede was;

* Nkomo ’n geskrewe onderneming aan AfriForum gee dat beamptes teen wie daar prima facie-bewyse van onreëlmatige optrede is sonder betaling geskors sal word; en

* skriftelike riglyne aan elke TMPD-beampte gekommunikeer word oor watter optrede gemagtig is en wat padgebruikers se regte is.

AfriForum het verder ’n stel handige wenke vir motoriste opgestel oor wat om te doen as hulle deur metropolisielede versoek word om omkoopgeld te betaal of deur beamptes se optrede geïntimideer voel. Dié riglyne is in Afrikaans, Engels en Sepedi beskikbaar.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê die organisasie het ook ’n klagteplatform op sy webtuiste bekendgestel waar lede van die publiek klagtes teen TMPD-lede aan AfriForum kan stuur, asook direk aan Nkomo. Dié platform is spesifiek op wangedrag deur lede van die TMPD gemik, maar mense in ander dele van die land wat klagtes oor metropolisielede het, kan hierdie inligting ook via die platform deel.

“AfriForum het groot waardering vir metropolisie wat hul werk pligsgetrou doen en padgebruikers se veiligheid probeer verseker, maar veroordeel die beweerde gevalle van magsmisbruik en wangedrag deur sekere TMPD-lede ten sterkste,” voeg Cameron by. “Die burgerregteorganisasie het dié veldtog van stapel gestuur om motoriste en padgebruikers se veiligheid te help verseker deur toe te sien dat die vrot appels in die TMPD verhoed word om die publiek verder te terroriseer.”

AfriForum het in sy brief aan Nkomo geëis dat die TMPD-lede in Du Toit en Thomashausen se voorvalle – teen wie daar klagtes by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ingedien is – sonder vergoeding geskors word hangende die ondersoek. “Indien dit nie gebeur nie, sal AfriForum genoop wees om die hof te nader om die TMPD te dwing om hul plig na te kom en te verseker dat die publiek teen hierdie tipe optrede beskerm word,” het Cameron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

daniel ·

Dit wil voorkom asof die TMPD se lede aangemoedig word om rassisties op tree teenoor witmense.

Michael 1 ·

Dit is hoe die departemente werk geen verantwoordbaarheid en alles is n challenge, dankie Afriforum dat julle hulle uit hulle gemaksone haal.

Kokerboom ·

Puik Afriforum. Ruk hul in die bek en bring tot verantwoording. Magsvergrype met belastingbetalersgeld is onaanvaarbaar. Dit toon ook swak beheer bestuur en vlak van opleiding deur Lt Genl Nkomo en haar hoogsbetaalde bestuur.

Francois ·

Jammer maar ek kan nou al se niks gaan hiervan kom want die hoofte beskerm hulle comrades

Michael 1 ·

My opinie is Afriforum moet n nuwe projek begin ,projek onafhanklike tuisland ,dan koop ons n provinsie of n gedeelte en begin van vooraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.