AfriForum tree toe tot hofstryd oor grondbesetting

(Argieffoto)

Die burgerregtegroep AfriForum het gevra om as vriend van die hof op te tree om te argumenteer teen die Menseregtekommissie (MRK), die EFF en ander applikante se hofaansoek in die Kaapstadse hooggeregshof om sekere gemeenregtelike remedies teen grondbesetters ongeldig te laat verklaar.

Die aansoek is teen die Kaapstad-metro, die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, asook die nasionale polisiekommissaris gebring.

Die eerste gedeelte van die aansoek is op 25 Augustus 2020 aangehoor. Die hof het daarna die metro verbied om enige nedersettings te verwoes of mense van grond af te sit terwyl die land in ’n nasionale ramptoestand is – tensy hy ʼn hofbevel bekom. Indien sodanige uitsetting wel ingevolge ʼn hofbevel gedoen word, moet dit só gedoen word dat die waardigheid van die geraakte mense gerespekteer en hul besittings beskerm word. Die hof het die stad voorts beveel om boumateriaal terug te lewer, asook om R2 000 aan elke geraakte persoon te betaal.

Die Stad Kaapstad het reeds gesê hy gaan teen die uitspraak appelleer.

AfriForum sê die tweede gedeelte van die aansoek, waarby die organisasie nou betrokke wil raak, word op 7 Oktober aangehoor. Sou die aansoek slaag, sal die gemeenregtelike remedies van teen-spoliasie ongeldig en ongrondwetlik verklaar word in soverre dit voorsiening maak vir die sloop van wonings, hetsy bewoon of onbewoon.

Die organisasie sê dit sal verder beteken dat die slagoffers van grondbesetters vier hofbevele – en die regskoste daaraan verbonde – ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (PIE) moet bekom voordat hulle besetters van grond kan laat verwyder.

Die aansoekers vra die hof ook om te verklaar dat die afbreek van sekere wonings deur die metro sonder ’n hofbevel onwettig, ongeldig en onversoenbaar met die Grondwet is.

AfriForum sê hy gaan aanvoer dat die bepalings van PIE slegs in werking tree wanneer grond onwettig betree is en die besetters permanent op die grond woon. Die gewone gemeenregtelike remedies moet dus steeds geld in gevalle waar onwettige strukture in die proses is om opgerig te word of waar hierdie strukture nog nie bewoon word nie.

“Grondbesettings is nie net ’n bedreiging vir eiendomsreg nie, maar ook vir die oppergesag van die reg en vir algemene stabiliteit in die land. Individue kan nie toegelaat word om die reg op hierdie manier te omseil nie. Niemand mag toegelaat word om enige voordeel uit enige vorm van kriminele aktiwiteite te trek nie. Dit is wat hierdie aansoek sal bereik, sou dit slaag,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Die organisasie sê hy tree in hierdie geval in die belang van sy lede en in die openbare belang op.

“AfriForum beywer hom deurentyd vir die beskerming van eiendomsreg en aangesien dringende uitsettingsbevele ingevolge PIE nie maklik toegestaan word nie, sal hierdie aansoek volgens ons regmatige grondeienaars se regte onnodig skend,” sê Roets.

“Selfs al word ’n dringende uitsettingsbevel ingevolge PIE toegestaan, moet dit opgevolg word deur ’n tweede uitsettingsaansoek. Dit dwing ’n grondeienaar uiteindelik om vier hofaansoeke teen groot koste te bekom. By groot uitsettings moet private kontrakteurs verder teen ’n groot koste betrek word om die balju by te staan. Hierdie onnodige koste in gevalle waar gemeenregtelike remedies toegepas sou kon word, plaas ’n verdere las op grondeienaars om hul grond teen misdadigers te beskerm,” sê hy.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het vroeër gesê sou die MRK en EFF se aansoek slaag, die uitwerking daarvan op alle munisipaliteite en die land in sy geheel vernietigend sal wees.

Plato het gesê hofrolle sal oorval word deur aansoeke van grondeienaars wat dringend uitsluitsel benodig oor of ʼn spesifieke struktuur beset is, al dan nie.

Hy het ook gesê dit sal die stad se reg om grond teen besetters te beskerm, uitermatig beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

In hierdie land hoef jy, as jy ‘n sekere bevolkingsgroep is, vir niks te werk nie. Dit is jou reg om net van ander te vat, op jou agterent te sit en niks doen nie en ander, wat hard werk moet vir hulle sorg. Nou wil hulke diefstal wettig maak. Hoe laag kan mens daal! Dit is absolute komunistiese idiologie. Niemand mag meer hê as iemand anders nie. Ek dink dit kom neer op die boek:”Animal farm” as ek dit nie mis het nie.

Piet ·

Wat van julle werk saam en kry plek vir die mense om te bly?

Persheks Adri ·

Laat hulle by die regering se kaders se huise gaan plak! Dis oor hulle te sleg is om te werk

Kokerboom ·

Die kernoorsaak van probleem en beskuldigde no 1 bly die ANC regime wat doelbewus, moedswillig en op ‘n arrogante wyse voete sleep en NIE hul werk doen op ALLE vlakke van regering om grond te identifiseer, hersonering te doen, dienste te verskaf en behuisingsgeleenthede vie grondgrypers te skep.. Hul opereer met ‘n agterbakse politieke agende om land te destabiliser.

Pieter ·

Ag afriforum kry die blankes om wakker te skrik asb. Julle mors ons lede geld ons het te doen met n ANC terroriste organisasie

Kokerboom ·

Ek moet dit beam Pieter. Wat is fout met ons blankes? Ons word in die gesig gestaar deur ‘n lae intensiteit oorlogvoering. Afriforum moet asb hul bewusmakingsrol met groter intensiteit uitvoer

Erika ·

As Hierdie Grond besetting deurgevoer word is word die Reg op private eiendom ondermyn- Is ons nog nog stappie nader aan Kommunisme…
Dit was altyd so dat sekeres nie wil werk vir wat hulle het nie en verwag dat jy Alles verniet moet weggee… dikwels Vat hulle dit eenvoudig van jou af met geweld want konflik word mos met geweld uitgesorteer. om hulle selfsugtige sin te kry . thats the norm en Plaas aanvalle wat op minority gepleeg word is mos nie Prioriteit misdaad nie …..-Daar is n Dun lyn om iemand bloot te help versus Sy Pakkie vir hom te dra

Dirk Mostert ·

Die kiesers het in die 1994-referendum oorweldigend gestem om wat oor 350 jaar opgebou is sonder slag of stoot weg te gee. Wonder of FW de Klerk en Roelf Meyer nog dink hulle was dapper (soos sommige koerante beweer).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.