AfriForum, Tshwane-metro onderteken samewerkingsooreenkoms

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en Pretoria-burgemeester Cilliers Brink (Foto verskaf)

’n Nuwe era van gemeenskapsfederalisme is vandag ingelui met die ondertekening van ’n unieke vyfjaarmemorandum van verstandhouding.

Dié memorandum, wat vandag in ’n openbare park in Valhalla, Centurion, onderteken is deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die Tshwane-munisipaliteit, moedig nou op ’n amptelike wyse wedersydse steun en gemeenskapsbetrokkenheid in die aanpak van uiteenlopende ooreengekome projekte in Pretoria aan.

Cilliers Brink, burgemeester van Pretoria, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag prakties gestalte gegee aan die vennootskap en self hande vuilgemaak in die opknapping van Furmanpark, Valhalla. Hulle het boonop geen gras oor die saak laat groei nie en self ingespring om gras in dié openbare parkie te sny.

Met die ondertekening van die memorandum kom AfriForum en die Tshwane-metro onder meer ooreen om, in die gees van samewerkende regering en ontwikkeling, uitdagings ten opsigte van beveiliging en beskerming van eiendom en die omgewing in die stad se gemeenskappe te takel. Die metro stel dit in die memorandum ook duidelik dat dit die steun verwelkom van organisasies, soos AfriForum, wat die instandhouding van infrastruktuur, die beveiliging van gemeenskappe en die volhoubare omgewingsbestuur vir toekomstige generasies wil bevorder.

Die behoefte aan groter gemeenskapsbetrokkenheid in die instandhouding en beskerming van infrastruktuur en die lewering van basiese munisipale dienste het in die afgelope paar jaar dringend geword weens toenemende druk op infrastruktuur en dienslewering in dié metro. AfriForum en die Tshwane-metro hoop dus om deur middel van dié memorandum hierdie uitdagings meer doeltreffend die hoof te bied.

Dienste en projekte wat deel vorm van die fokus van die betrokke partye se samewerking sluit onder meer in:

  • die bevordering van gemeenskapsgebaseerde vullisverwyderings- en skoonmaakaksies;
  • grassnyprojekte;
  • verwydering van indringerplantspesies;
  • die identifisering van onwettige stortingsterreine;
  • gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe;
  • verhoogde sigbaarheid, monitering en aanmelding van verdagte aktiwiteite aan die munisipaliteit; en
  • bystand ten opsigte van die ontmoediging van grondbesetting.

“Ek wil AfriForum namens die stadsraad van Tshwane bedank vir hul volgehoue steun aan ons stad, bystand met die beskerming van ons infrastruktuur en die beveiliging van ons gemeenskappe,” sê Brink. “Hierdie memorandum van verstandhouding sal nou ons gewaardeerde verhouding formaliseer en help om ons werksverhoudinge voortaan te verbeter.”

Dié soort samewerking vorm deel van die Tshwane-metro se totale gemeenskapsbenadering, waar die stad daarna streef om met ondernemings, die burgerlike samelewing en gemeenskappe saam te werk om dienslewering te verbeter en vennootskappe tussen verskeie belanghebbers oor die hele Tshwane-metro heen te formaliseer.

Die stad moedig alle ondernemings, gemeenskappe en inwoners aan om saam met die metro te werk om ’n stad te bou waarop alle inwoners trots kan wees. Daarbenewens het die stad onlangs die Gemeenskapsopheffingsgebied-inisiatief (CUP) afgeskop. Die CUP-inisiatief is daarop gemik om inwoners, ondernemings en gemeenskappe by te staan om ’n formele ooreenkoms met die stad aan te gaan vir die instandhouding en verbetering van openbare infrastruktuur in hul residensiële, sake- en industriële gebiede.

Volgens Kriel is die memorandum wat vandag met die Tshwane-metro onderteken is, ’n belangrike stap in AfriForum se strewe na die afwenteling van mag na gemeenskapsvlak en die vestiging van gemeenskapsgebaseerde federalisme.

“Georganiseerde gemeenskappe wat na die belange van hul eie gemeenskappe omsien, skep ’n nuwe realiteit waarbinne ’n selfdoenkultuur nie net aangemoedig word nie, maar ook kan floreer. Beperkte hulpbronne noodsaak dit dat kundigheid en energie vanuit die plaaslike gemeenskappe optimaal en tot voordeel van die gemeenskap gebruik word,” verduidelik Kriel.

“Deur hierdie benadering neem gemeenskappe die toekoms in hul eie hande en vervul as’t ware die rol van ’n de facto vierde regeringsfeer en neem self die verantwoordelikheid om hul eie gemeenskappe te verbeter. Dit is ’n beproefde praktyk wat baie suksesvol elders in die wêreld toegepas word, en vandag het AfriForum en die Tshwane-metro ’n reusesprong in die toekoms ingeneem om inwoners van dié metro te betrek by die vestiging van ’n moderne en suksesvolle gemeenskapsgebaseerde stad,” benadruk Kriel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

In beginsel is daar niks verkeerd met hierdie inisiatief nie. Maar daar is vrae. Doen Afriforum en die werkers die werk vrywillig en sonder vergoeding. Of word die werkers deur Afriforum vergoed. Indien die metro betaal, begroot die metro vir die uitgawes en word dit behoorlik te boek gestel. Betaal Afriforum en die werkers belasting op die vergoeding. Wat gebeur met metro werkers wat betaal word om die werk te doen. Wat gaan gebeur indien die koalisie tot ‘n val kom en vervang word met die ANC/EFF. Is hierdie inisiatief beperk tot sekere buurte en gaan dit uitgebrei word. Gemeenskapselfbeskikking klink romanties, maar daar is praktiese implikasies.

Lettie ·

Baie dankie vir jul insette om ons stad fraai te hou. Ons sal dorp vir dorp self daardeur kom. Gló net.

Co ·

Pragtig, maar waar doen mens aansoek om betrokke te raak in jou streek?

Anton ·

Baie dankie Afriforum! Sonder julle en Solidariteit sou ons mooi land al n totale ashoop gewees het.

kaplyn ·

Uitstekende projek soos altyd. Afriform julle moet egter maar gedurig agter julle rug kyk. Daar is ‘n paar Kaapse republiekeine wat julle haat en heel moontlik alles in die stryd sal werp om die projek tot niet te maak. Maar beur voorentoe met die “ons sal self” projek en snoer al die teenstanders se monde en rugstekery. Die meerderheid ondersteun julle egter.

Braham ·

Net vir Republikein van Wes Kaap: Tswane betaal nie ‘n sent nie. Dit is die gemeenskap wat vrywillig hulle areas skoonhou en opknap. Ook nie almal is lede nie, maar mense wat omgee vir hulle areas. Dit is ‘n inisiatief wat deur Afriforum ondersteun word. Alle implemente en onkostes word deur Afriforum verskaf vir die goeie daad. Sou die ANC /EFF om een of ander rede oorneem, sal dit ons glad nie stop om aan te gaan om na ons areas te kyk en te versorg nie. Hierdie is nie polities gedrewe nie, maar hardwerkende en gewillige inwoners wat omgee. Dus sien ek glad nie praktiese implikasies nie. Ons almal is vry om te doen wat goed is. Wens daar is meer sulke organisasies wat omgee.

Republikein in die Wes Kaap ·

kaplyn, jy praat lekker vir iemand wat in die buiteland woon. Beantwoord net my geldige vrae. Hier word geen detail gegee nie. Gaan die huidige amptenare afgedank word? Dis ‘n vyf jaar ooreenkoms. Ek waarborg jou ‘n ander koalisie sal dit opskeur. Het die Raad dit goedgekeur? Dit gaan nie oor haat nie, solank daar net deursigtigheid is sonder gevolge. Kom terug na jou vaderland en help gras sny.

Republikein in die Wes Kaap ·

Braham, waar ‘n politikus betrokke is is daar nie iets soos ‘n gratis ete nie. Maar ek gaan hierdie artikel beslis stoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.