AfriForum vat hande met gemeenskap in Noordoos-Kaap

iNkosi Zwelothando Mabandla en iNkosazana Thembela Mabandla-Lingani teken ‘n ooreenkoms met AfriForum. (Foto: Verskaf)

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla het Woensdag ’n historiese ooreenkoms vir wedersydse erkenning en samewerking onderteken. Mabandla is die hoofman van die AmaBhele kaJamangile- tradisionele gemeenskap in die Noordoos-Kaap.

Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum, sê die doel van die ooreenkoms is om ʼn blywende verhouding te vestig en te handhaaf om ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling te bevorder.

Dit volg nadat AfriForum en dié kantoor in Desember verlede jaar tydens ’n vergadering by Mqokolweni Great Place naby Maclear (Nqanqarhu) in die Oos-Kaap ooreengekom het om op die gebied van landbou-ontwikkeling saam te werk en ’n erkenning- en samewerkingsooreenkoms te vestig.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit die eerste amptelike ooreenkoms van vele wat die organisasie met ander gemeenskappe wil onderteken.

“Terwyl AfriForum onbeskaamd daarvoor werk om vir Afrikaners ’n toekoms aan die suidpunt van Afrika te help vestig, besef ons ook dat dit baie belangrik is om ter wille van ons kinders se toekoms ook wedersydse erkenning en respek tussen kultuurgemeenskappe te help kweek.”

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, tydens die mediakonferensie. (Foto: Verskaf)

Kriel sê daar is op politieke vlak baie mense wat polariserend te werk gaan, maar dat dié soort ooreenkomste ʼn baie sterk teenwig bied.

“Dit sal aan die meerderheid mense wat in ʼn vreedsame naasbestaan glo ʼn alternatiewe roete van wedersydse erkenning en respek bied.”

Die ooreenkoms behels onder meer samewerking op die gebied van landbou-ontwikkeling, die bevordering van interkulturele versoening en dialoog en die bevordering van gemeenskappe wat selfvoorsienend is. Dit het ook ten doel om kulturele identiteit en erfenis te bewaar, moedertaalonderrig te bevorder en eiendomsreg te beskerm.

“Wanneer ons ons geskiedenis bestudeer, ontdek ’n mens ons het voorouers gehad wat verstaan het dat goeie verhoudings tussen kultuurgemeenskappe ’n voorvereiste is vir voorspoed op lang termyn. Dit is uit daardie ervaring wat ons put vir die formalisering van hierdie verhouding. Ons glo ons gemeenskappe sal in die toekoms floreer as ons wys optree en saamwerk op gebiede van wedersydse belang en besorgdheid,” sê Uys.

Hy sê die ooreenkoms is onder meer op beginsels soos wedersydse erkenning en respek, vreedsame naasbestaan, respek vir die diversiteit van bestuursliggame, gebruike en praktyke geskoei, insluitend dié wat verband hou met grondgebruik en grondeienaarskap.

Ander beginsels sluit in die voorreg van kultuurgemeenskappe om hul eie sake te bestuur en hul eie instellings te stig en in stand te hou sonder inmenging van die staat of enige ander entiteit, aanvaarding van mekaar se identiteit, permanensie en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe en vryheid van godsdiens asook godsdienstige en kulturele praktyke.

“Die ondertekening van hierdie ooreenkoms is ’n belangrike bousteen in die proses om ons visie te verwesenlik om selfstandige gemeenskappe te bou wat aan mekaar verantwoordbaar is en wat voedselsekerheid en landelike ontwikkeling prioritiseer,” sê Bhelekazi Mabandla, hoof van die koninklike diplomatieke diens van die koninklike Jamangile kaMabandla-familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dries ·

Hierdie is om goeie buurskap te bevorder. Afriforum en Solidariteit bly ons toekoms. Bou verhoudinge met alle minderheidsgroepe en ons sal gehoor word

Wakkerslaper ·

Ek hoor wat jy sê, maar het ons waaragtag niks uit die geskiedenis geleer nie? ….Dingaan, KODESA? Ek wonder maar net…

Wakkerslaper ·

Het ons niks uit die geskiedenis geleer nie…? Dingaan, KODESA…. ek wonder maar net. Is ons volk wraggies so naïef…?

annie ·

AfriForum verander in ‘n welsynsorganisasie. Word wit ledegeld nou omkoopgeld vir goedgesindheid.

Bart-Man ·

Is daar dalk n moontlikheid dat n soortgelyke ooreenkoms met die Zulu koning gemaak word.?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.