AfriForum verkla Mantashe en Duarte by die polisie oor OB

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, nadat hy die klagtes aanhangig gemaak het. Foto: Verskaf

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, nadat hy die klagtes aanhangig gemaak het. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, sowel as Jesse Duarte, die adjunk sekretaris-generaal, aanhangig gemaak.

AfriForum sê die klagtes spruit uit die reeks beledigings wat vroeër die week tydens ’n mediakonferensie deur Mantashe en Duarte aan die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, toegesnou is.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê artikel 9(1)(a), saamgelees met artikel 11(1) van die Wet op die Openbare Beskermer (23 van 1994), bepaal uitdruklik dat dit ’n misdaad is om die Openbare Beskermer te beledig. “Artikel 12(4) bepaal dat enige persoon wat ingevolge die betrokke wet skuldig bevind word aan ’n misdaad, gestraf sal word met ’n boete van nie meer as R40 000, of gevangenisstraf van nie meer as 12 maande nie, of beide.”

Roets sê van die beledigings wat deur Mantashe aan Madonsela toegesnou is, sluit die volgende in:

• dat Madonsela haar magte as Openbare Beskermer en haar kantoor misbruik en dat haar gedrag “verkeerd” is;
• dat Madonsela haar verslae aan die media uitlek en dat sy aandag soek;
• dat Madonsela haar soos ’n politikus gedra en haar werk nie behoorlik doen nie;
• dat Madonsela en die EFF deel van ʼn “anti-majoritarian offensive” is wat ten doel het om die ANC en die demokrasie te verswak;
• dat Madonsela nie belangriker as die Parlement en die kabinet is nie, al ag sy haarself as sodanig;
• dat Madonsela die regering ondermyn en dat sy haar kantoor as verhewe bo die Grondwet ag.

Roets sê Duarte het terselfdetyd die volgende beledigings teenoor Madonsela gemaak:

• dat Madonsela ’n populis is en dat sy optree asof sy verhewe bo die Grondwet en die Parlement is;
• dat Madonsela blameer moet word vir die vertrouensbreuk wat tussen haar kantoor en die ANC bestaan;
• dat daar fout is met Madonsela se houding.

Roets sê dat die werklike aanval op die demokrasie nie deur Madonsela plaasgevind het nie, maar deur die ANC, by monde van sy leierskap.

“Die Openbare Beskermer is juis deur die Grondwet bemagtig om hoëvlak politici tot orde te roep wanneer hulle hul mag misbruik. Met hierdie aanval stuur die ANC ’n boodskap uit dat hy nie in staat is om ’n verantwoordelike regerende party te wees nie,” het Roets gesê.

“Demokrasie gaan oor die beskerming van regte, nie die stoomroller van die meerderheidsparty se standpunte, ten koste van die res nie.”

Roets het bygevoeg dat die hoë vlakke van ongemak met Madonsela as ’n bevestiging beskou moet word dat sy haar goed van haar taak kwyt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

snip ·

hier gaan niks van kom. die zuma bende gaan dit ook net onder die mat invee…..kyk maar

Thys Human ·

Maar as Madonsela deur Duarte en Mantashe en kie beledig en teen die wet in aangeval is, kan sy mos self teen hulle optree en klagtes le^. Hoekom moet Afriforum dit doen?

En julle moet maar versigtig wees met kommentaar rondom die kwessie. Daar is toenemend wrewel binne die ANC teen Afrikaners met die dat Basson van Beeld so verwoed te kere gaan. En nou klim Afriforum en Maroela ook op daardie “Zuma moet waai”-perd – so ewe lekker saam met Madonsela, die Malemas en die Copes.

Ek sien vanoggend ‘n berig elders dat die Parlementere komitee oor die Nkandla-kwessie vandag vergader en die dinge begin bekyk. Sou dit nie “wetlik” en parlementer wees om te sien wat die komitee gaan se^ en doen nie? Dis seker voorspelbaar dat die ANC sy meerderheid daar gaan gebruik, maar as hy dit doen teen alle feite in, gaan dit eers sleg lyk vir hulle.

Duarte is natuurlik volkome korrek as sy se^ dat Madonsela nie bo die Parlement verhewe is nie. Maar nou wil julle haar daaroor in die hof aankla!! Goeie genugtig!

Ek staan by my ou standpunt: Indien Zuma op korrupte wyse geld “gesteel” of bekom het en dit kan bo alle twyfel bewys word, moet hy aangekla en tronk toe gestuur word. Maar tot hede is daar nie ‘n krieseltjie bewys dat hy dit wel gedoen het nie – al wat daar is is Madonsela se verslag wat reguit se^ Zuma het nie gesteel nie, maar sekere goed soos die Kraal en die swembad verkry weens onbehoorlike toepassing van sekuriteitswette. Dis mos nie korrupsie nie – en duidelik betwisbaar.

Ek stel voor julle bedink julle standpunte weer mooi. Julle kef nou net saam met ‘n klompie gevaarlike mense!

Thys Human ·

Nou toe nou! My kommentaar wat krities was van Afriforum se optrede is net weg!

Pas Maroela nou ook Naspers se beleid van sensuur op kritiek toe?

Thys Human ·

Ek het hierdie vraag oor my kommentaar hier geplak kort nadat dit weggevat is blykbaar vir moderering en kort voordat dit weer geplaas is. Dit is nou hierbo so hierdie opmerking kan maar verwyder word, maar hoe doen ek dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.