AfriForum verkla OUTsurance oor ‘Tshwane’-advertensie

'n Skermskoot uit een van OUTsurance se TV-advertensies waarin daar na Tshwane verwys word. Foto: YouTube

‘n Skermskoot uit een van OUTsurance se TV-advertensies waarin daar na Tshwane verwys word. Foto: YouTube

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn amptelike klag teen OUTsurance se gebruik van ‘Tshwane’ as pleknaam in ʼn TV-advertensie by die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde van Suid-Afrika (ASASA) ingedien.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die stap volg nadat OUTsurance nie voldoen het aan hulle versoek om die advertensie te onttrek nie.

Volgens Kriel is OUTsurance se gebruik van ‘Tshwane’ as pleknaam ʼn oortreding van die ASASA se kode wat misleidende advertensies verbied. Dit is volgens Kriel misleidend om na Pretoria of Centurion as ‘Tshwane’ te verwys, aangesien ‘Tshwane’ die naam van ʼn metroraad is, en nie ʼn pleknaam nie.

Kriel het gesê dat OUTsurance se gebruik van ‘Tshwane’ as pleknaam geen respek toon vir die sensitiwiteit wat by ʼn groot deel van hulle kliëntebasis oor die Pretoria naamkwessie bestaan nie.

“OUTsurance moet daarvan kennis neem dat 81% van die deelnemers aan die Tshwane-metroraad se vorige openbare deelnameproses, aangedui het dat ‘Tshwane’ nie as pleknaam geregistreer moet word nie,” het Kriel bygevoeg.

Die ASASA het volgens Kriel reeds in 2005, na AfriForum se klag teen die City of Tshwane-metroraad, beslis dat dit misleidend is om ‘Tshwane’ as pleknaam of geografiese naam te gebruik.

Volgens Kriel het die feite nie sedert die vorige uitspraak verander nie, en om ‘Tshwane’ as pleknaam te gebruik in die verwysing na Centurion (waar die advertensie vervaardig is), of Pretoria, is dus steeds misleidend.

Maroela Media het OUTsurance om kommentaar genader en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anita ·

Elke oggend luister ek na die diens op RSG en verlede week was daar 3 dae na elkaar ‘n diens uit ‘n Kerk in Tswane? ek was onder die indruk dat die net gebruik word vir die Munisipaliteit, is die kerke dan deel van die Munisipaliteit?

gaan die vroeg oggend dienste na.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.