AfriForum versoek parlementêre verhoor oor plaasmoorde

(Argieffoto: pixabay)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag ’n formele skrywe aan die parlement gerig waarin die organisasie versoek dat ’n openbare verhoor oor plaasmoorde gehou word.

Luidens ’n verklaring is die skrywe gerig aan Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, nadat AfriForum ’n skerp toename in plaasaanvalle oor die afgelope twee maande opgemerk het.

Volgens Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, was daar in Augustus reeds agt plaasaanvalle en een plaasmoord.

Dít nadat daar 40 plaasaanvalle in Junie aangemeld is. Vyf moorde is gedurende dié aanvalle gepleeg. In Julie was daar ook 40 plaasaanvalle waartydens nege moorde gepleeg is.

“In die versoek aan Joemat-Pettersson vra AfriForum spesifiek dat organisasies wat by die stryd teen plaasmoorde betrokke is, die geleentheid gebied word om voorleggings oor potensiële oplossings aan die komitee voor te lê. Dit is veral nóú belangrik in die lig van die misdaadstatistieke wat verlede week bekendgemaak is, asook die stelling deur genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, dat plaasmoorde ’n groter prioriteit binne die SAPD moet geniet,” meen Roets.

Maroela Media het vroeër berig die jongste misdaadstatistieke toon dat 49 plaasmoorde gedurende die tydperk 1 April 2019 tot 31 Maart 2020 in Suid-Afrika gepleeg is.

Roets gee in die skrywe toe dat daar aangevoer kan word dat die getal mense wat op plase vermoor word maar ’n klein persentasie verteenwoordig van die algehele getal mense wat in Suid-Afrika vermoor word.

“Dié argument berus egter op ’n wanbegrip van statistieke, aangesien die plaasgemeenskap inderdaad ’n klein persentasie van die algehele getal Suid-Afrikaners uitmaak.”

Volgens Roets behoort die volgende feite in ag geneem te word wanneer plaasmoorde beoordeel word:

  • Die gereeldheid waarteen plaasaanvalle plaasvind, ook met inagneming van die grootte van die groep;
  • Die unieke vlak van brutaliteit en geweld wat tydens hierdie aanvalle gepleeg word;
  • Die rol wat die landbougemeenskap in Suid-Afrika speel, veral wat voedselproduksie en werksgeleenthede betref; en
  • Die feit dat boere so ver van hul bure en die naaste polisiestasies af woon.

“Daarom glo AfriForum dat plaasmoorde ’n groter prioriteit by die regering moet geniet, nie omdat boere op spesiale behandeling geregtig is nie, maar op gelyke behandeling.

“Ons pleidooi is vir gelyke behandeling vir boere omdat dit standaardpraktyk is om gefokusde teenstrategieë te ontwikkel in reaksie op unieke misdade wat verreikende gevolge het. Dit gebeur egter nie in die geval van plaasmoorde nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Ag afriforum kom met n plan ek is lid van julle hoekom weet ek nie. Al wat julle doen is praat en praat word wakker die ANC komuniste lag vir julle. Kry die blankes om tandpunt in te neem en kom met n plan.

PH ·

Dis sterk te betwyfel of die “regering” hoegenaamd aandag sal gee. Dis duidelik dat hierdie kwessie vér van hulle prioriteite is.
Maar dankie AfriForum.

Piet ·

Die regering sal se dis ‘n afname gemeet aan die vorige jaar en hulself op die skouer klop.

Jannie van Niekerk ·

Dit sal net by praat bly. Al die ANC en EFF parlementslede sal (net soos met die vorige bespreking oor plaasmoorde) sit en gesels en nie luister nie. Hulle is sonder uitsondering op die reël plaasmoorde goedgesind.

marius ·

Hou op met ware heer tegniek . Hierdie mense is ongenaakbaar .

Douw ·

Moorde op plase word gepleeg deur deeglik opgeleide “soldate”. Hulle is goed georganiseerd; maak gebruik van nagsig en is georganiseerd in taakgroepe wat elkeen n spesifieke funksie het en rol speel.
Sekere parlementslede sit en gesels as dit by gesprekke oor plaasmoorde gaan aangesien hulle lede van dieselfde partye wat die opleiding van hierdie soldate finansieel borg en bemagtig tot die “struggel! Die polisie gaan niks doen nie!!!! Hulle het dit mos al in die verlede bewys!!! Het julle vergeet!!!??
Hierdie kwessie sal n verlore stryd bly aangesien als onder n dekmantel beplan en georganiseer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.