AfriForum versterk sy #DieWêreldMoetWeet-veldtog

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse burgerregteorganisasie AfriForum het ’n beroep op internasionale media gedoen om te erken dat minderheidsgroepe in Suid-Afrika ernstig bedreig word deur diskriminerende beleidstellings, gewelddadige plaasaanvalle en -moorde, grondbesettings en haatspraak.

Dit volg nadat ’n artikel getiteld “How Tucker Carlson Reshaped Fox News – and Became Trump’s Heir” onlangs in die New York Times gepubliseer is. Dié artikel verwys minagtend na AfriForum en sy veldtogte om die wêreld bewus te maak van plaasmoorde en dat die regering eiendomsreg in Suid-Afrika bedreig.

AfriForum het gevra dat die koerant sekere feitefoute met betrekking tot Suid-Afrika regstel, maar is deur die publikasie in kennis gestel dat hulle besluit het om nie AfriForum se reaksie op die artikel te plaas nie.

In die lig van spesifiek internasionale nuusblaaie se oënskynlik onverskillige houding, versterk AfriForum sy #DieWêreldMoetWeet-veldtog om die wêreld bewus te maak van die situasie in Suid-Afrika. Die veldtog sluit die publikasie van bygewerkte, gedetailleerde verslae oor die situasie in Suid-Afrika in, asook internasionale bewusmakingstoere en projekte in samewerking met internasionale rolspelers.

Amptelike data wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vrygestel is, dui daarop dat ongeveer twee plaasaanvalle per dag en ongeveer twee plaasmoorde per week oor ’n tydperk van twee dekades in Suid-Afrika aangemeld is. Grondbesettings het ook ’n daaglikse werklikheid in Suid-Afrika geword, met meer as 1 000 sulke invalle slegs in die Wes-Kaap in minder as ’n jaar. Meer as 100 wette verskans tans rassekategorisering en diskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika. Tydens die Covid-19-pandemie het die Suid-Afrikaanse regering byvoorbeeld aangekondig dat die staat by voorkeur ondernemings in swart besit sal ondersteun – ’n beleid wat selfs deur die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gekondoneer is.

Ernst Roets (Foto: Reint Dykema)

Ondanks hierdie werklikhede het AfriForum kennis geneem van internasionale nuusblaaie wat verkeerde inligting of regeringspropaganda oor die lot van minderhede in Suid-Afrika versprei in ’n oënskynlike poging om in hul eie plaaslike politieke arenas houe aan hul opponente uit te deel. Die onlangse artikel in die New York Times is ’n voorbeeld hiervan. Daarin word beweer die pleidooi dat die Suid-Afrikaanse regering plaasmoorde moet prioritiseer, is die werk van “neo-Nazi”-randgroepe.

AfriForum het meer as 300 000 lede wat maandeliks tot sy werk bydra, meer as 10 000 vrywilligers wat aktief betrokke is by sy plaaslike takke en veiligheidsnetwerke in gemeenskappe, en meer as 200 werknemers. Die organisasie het herhaaldelik ferm standpunt ingeneem teen wit nasionalisme en die vernietigende optrede van sekere randgroepe.

Ten spyte daarvan het AfriForum met kommer kennis geneem van bepaalde internasionale nuusblaaie se smeerveldtogte wat sy veldtogte afmaak as die werk van randgroepe wat nie ernstig opgeneem behoort te word nie. Die organisasie het ook opgemerk dat sommige van hierdie nuusblaaie nie bereid is om artikels te plaas om vals bewerings reg te stel nie en ook nie diegene wat verkeerd uitgebeeld is, wil toelaat om op daardie vals berigte te reageer en hul standpunt te stel nie.

“Dit is hoekom dit vir AfriForum so belangrik is om aan te hou om die waarheid oor Suid-Afrika te vertel,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum. “Ons veldtog is daarop gerig om bewustheid te kweek en saam met geloofwaardige rolspelers te werk om die lot van minderheidsgroepe in Suid-Afrika te verbeter. Ons verwag nie van die internasionale gemeenskap om Suid-Afrika se probleme namens ons op te los nie. Ons dring egter daarop aan dat die internasionale media die waarheid moet vertel, foute regstel en objektief verslag doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frank ·

Wens ek kon meer maandeliks bydra tot Afriforum se saak. Hulle doen goeie werk

Marius ·

Die wêreld, veral amerika en brittanje was die grootste rolspelers in ons land se ondergang en het verseker dat ons land in die gemors is waarin ons tans is. Hoekom sal hul omgee oor dit wat nou gebeur ? Ons is op ons eie.

Jean ·

As hulle nou omgee beteken dit hulle bewys hulle is en was verkeerd

Sarel ·

Lieg & bedrieg maar nog steeds soos al die jare en word deur Regerings ondersteun…

Alfred E Neuman ·

Net so min wat ons belangstel wat in Mongolië aangaan, net so min gee die res van die wêreld om wat in Suid Afrika aangaan.

Jack ·

Die wêreld stel nie meer belang in SA nie.Wat hier gebeur is van min belang.Daar is verskeie redes hiervoor maar ek dink hoofrede is dat hulle gesien het SA is niks anders of beter as ander Afrika lande nie.Die reenboognasie waarin gehoop en gesaai is was net nog ‘n Afrika mislukking.Dieselfde tendens en geen toekom en geen hoop.Hongersnood kom en die korrupte regering maak en breek soos hulle wil. Almal kyk weg.

piet ·

Sodra ons net by die volle waarheid bly en nie goed opblaas dat dit slegter lyk nie want dan word jy net uitgevang. Soos laaskeer toe Afriforum in Amerika was, gegewens gegee het wat oordrewe was, as ek reg onthou is daar gese (of dis wat ek gelees het in elk geval) dat meer as ‘n 100 plaasmoorde per jaar gepleeg word. Nou ons weet dis om en by 60 per jaar so hoekom dit 100 maak?

Annie Webb ·

AfriForum weet presies hoeveel plaasaanvalle en -moorde gepleeg word. Wat was jou “feitebron” vir dié vals aanklag?

Bart-Man ·

Die wêreld sien wit Suid-Afrikaners as die grootste rasiste. Maar ons het geen slawe gehad nie, ook niemand in konsentrasiekampe gesit nie.

JohanR ·

Dink net hoe die ANC sou kon aan gegaan oor 28 jaar as AfriForum en Solidariteit nie van tyd tot tyd hulle brieke aangedraai het in die oopenbaar en in die hof?

Althes ·

Dankie Afriforum vir jul voortgesette deursettingsvermoë. Met baie geloof en gebed en daadwerklike optrede verander dinge na positiewe kant.
Ons word geteiken, geviktimiseer, onderdruk en teen ons gediskrimineer terwyl ons 30 jaar gelede jong mense was wat niks te doen gehad het met die politieke bestel nie. Ons was ook nie bevoorregte wittes nie.
Ons kinders word ook gestraf.
Ongelukkig het is dit enkele gevalle wat wit mense dom goed aanvang en eintlik jul goeie werk kaap. Sulke gevalle word aan massiewe groot klokke gehang en totaal uit verband geruk.

Maria ·

Om te help, versprei inligting oor die wonderlike werk van Afriforum

Swerwer ·

As jy nie ‘n Kommunis is om vier die Kommunis stem nie, vergeet om enigiets regtekry. Kyk wie die lande is wat inligting verdraai en daar sal gesien word dit is almal wat kommunisme steun en dus liewer glo wat die huidige regering kwytraak as die werklikheid. In die lewe sal dit nie reggestel kan word nie want ‘n kommunis is sienende blind en horende doof. Voor ons volk nie weersaamstaan, ons God aanbid, en die Geloftes van ons Voorvaders teenoor ons God nakom nie is daar wynig hoop

Andries ·

Die politieke debat in Amerika is giftig en bitter. My raad aan Afriforum is om hulle verhoë uiters kieskeurig uit te kies. ek stel voor dat hulle hul wend tot landbougroepe / boereverenigngs waar hulle miskien groter simaptie sal geniet wat ietwat meer a-polities is. Dié kan dan op hul beurt hulle verteenwoordigers vra om standpunt in te neem.

Annie Webb ·

Ek volg die VSA-nuus nou reeds ‘n paar jaar nougeset. Daar is nie iets soos media wat polities onbetrokke is nie (soos in SA ook). Die Durham-ondersoek het pas ontbloot presies hóé betrokke die hoofstroommedia was by die sg. “Russiagate” en ander pogings om pres Trump uit die pad te kry sodat die korrupte “Washington swamp” se tweeparty-koalisie ongehinderd kon voortgaan om voordeel te trek uit die Chinese mark eerder as om hul eie mense se belange te dien. En dit sluit Reuters in, waar ons SA media hulle “buitelandse nuus” kry. AfriForum gaan baie moeilik werklike simpatie in die VSA kry, almal is te bang vir “rassisme” op hierdie stadium. Hou liefs by die VN se regte vir minderheidsgroepe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.