AfriForum verteenwoordig Botswana-regering in hoëprofielsaak

Adv. Gerrie Nel (Foto: Verskaf)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag aangekondig sy private vervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel gaan die Botswana-regering verteenwoordig in ’n hoëprofiel geldwassery-en-bedrogsaak. Die saak waarby die Suid-Afrikaanse sakevrou Bridgette Motsepe-Radebe betrek word, hou verband met die beweerde diefstal van honderde miljarde rande om ʼn staatsgreep in Botswana uit te voer.

Motsepe-Radebe is pres. Cyril Ramaphosa se skoonsuster en die voormalige minister in die presidensie, Jeff Radebe, se vrou.

Adv. Stephen Tiroyakgosi, Botswana se direkteur van openbare vervolging (DOV), het Nel en adv. Phyllis Vorster van AfriForum se private vervolgingseenheid amptelik aangestel om die Botswana-regering in die saak te verteenwoordig.

Motsepe-Radebe is geïdentifiseer as ’n medeondertekenaar van twee bankrekeninge, ’n Absa- en Nedbank-rekening, wat meer as R150 miljard bevat het, wat na bewering van die Botswana-regering gesteel is om ’n “staatsgreep” voor die nasionale verkiesing in daardie land te finansier.

Daar is ook bewerings teen Motsepe-Radebe dat sy deur middel van die Avante-sekuriteitsmaatskappy miljoene pula, die geldeenheid van Botswana, gewas het om ’n opposisiekandidaat van Mokgweetsi Eric Keabetswe Masisi, Botswana se president, te finansier.

AfriForum se mandaat in dié saak is om die Botswana-regering se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer in dié saak van die Bank van Botswana wat oor bedrog en geldwassery handel.

AfriForum sê Tiroyakgosi het reeds op 25 September verlede jaar ’n versoek vir wedersydse regshulp aan die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) gerig, maar dié versoek het intussen “verdwyn”.

“Die feit dat Dirco oor nege maande geen terugvoer aan die DOV van Botswana gegee het nie, dui daarop dat die Suid-Afrikaanse regering onwillig is om ons kliënt met hul versoek te help. Ons sal ingryp en verseker dat ons kliënt die nodige samewerking van die Suid-Afrikaanse regering kry om geregtigheid te laat geskied,” het Nel gesê.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is vir AfriForum ’n voorreg om amptelik met die Botswana-regering te kan saamwerk.

“Dit is noodsaaklik dat ons as mede-Afrikane alles moontlik doen om bedrog en geldwassery uit te roei. Ons vasteland en die subvasteland het geweldige potensiaal wat gekortwiek word deur korrupte elite. AfriForum is daarom daartoe verbind om die Botswana-regering se hande te sterk in hierdie noodsaaklike stryd teen korrupsie,” sê Kriel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Ek wonder of die ANC en liberale joernaliste die Botswana regering nou van rassisme gaan beskuldig? Nogal n pluimpie in Afriforum se hoed omdat n ander Afrika land se regering van hulle hulp gebruik maak. En die fooi wat Afriforum hef, is natuurlik ook nie te versmaai nie. Wel gedaan!

Althes ·

Ek stem saam Afriforum. Te lank het korrupsie geseëvier en het hoë profiel persone in hul arrogansie gedink hul is onaantasbaar en sake manipuleer om hul te pas.

Ronel ·

Uitstekend vir AgriForum. Die Elite rykes van Suid Afrika moet besef hulle kan ook aan gekla word vir bedrog oor alle lands grense. ANC sorg altyd vir hulle skelms.4

koos10 ·

Sal hierdie die weg kan baan om SA burgers, wat uit SA gewens word, ‘n heenkome te gee?

Jaco ·

Baie mooi en baie edel van afriforum, maar hulle gaan nêrens kom nie:
1. Hulle verteenwoordiging van Botswana gaan deur ons anti-wit regering gesien word as sogenaamde “window dressing”, ‘n sogenaamde poging van ‘n “wit regse rassistiese organisasie om nie-rassig te wees. Hulle hou nie van wit mense nie. Punt. Watse mooi goed ons ook al doen, sal ALTYD afgeskiet word.
2. Na afloop van die hofsaak dan is Botswana dalk gelukkig, maar dan sit afriforum steeds met gevalle van wit mense wat ly onder regstellende aksie en BEE, wit armoede, ens ens. Afriforum behoort hulle nou eerder net te bepaal by sake wat ons eie mense se welstand raak. Sekerlik kan Botswana tog ook can die Internasionale Geregshof in Den Haag gebruik maak. Dis mos nou nie ‘n geval dat Botswana geen ander hulp kan kry nie.

Herman ·

Ons moet dalk nie die shampanje proppe te vroeg “pop” nie. Dis moeilik om weer terug te druk. Ek hou nie te min duimvas vir sukses.

marius ·

Dink enige iemand sy het dit alleen bewerkstellig ? Vermy onnodige rondslomp en kom haal hulle , almal.

J ·

Konfiskeer eers al haar bates en bevries al haar bankrekeninge! Ook die bates en bankrekeninge in die buiteland!

Trek haar paspoort terug!

Anders gaan daar GEEN bates wees om Botswana mee te vergoed … selfs al wen Gerrie en kie. die hofsaak.

Scalla ·

Weet sy dat doodstraf nog in Botswana bestaan vir ernstige oortredings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.