AfriForum verwelkom buitelandse teenstand teen voorgenome grondonteiening

(Foto: pixabay)

Die burgerregtegroep AfriForum het die Nederlandse regering se besluit om ʼn mosie oor grondonteiening te aanvaar, verwelkom.

Die mosie spreek hom sterk uit teen die stappe wat gedoen word om die onteiening van grond sonder vergoeding in Suid-Afrika moontlik te maak.

ʼn Meerderheid van die lede van die Tweede Kamer in die Nederlandse parlement het ten gunste van die mosie gestem en daardeur opdrag aan die Nederlandse regering gegee om deur bilaterale en ander internasionale prosesse duidelik standpunt daaroor in te neem.

AfriForum het gesê hy verwelkom ook dat die mosie duidelik verklaar dat sodanige rasgebaseerde onteiening sonder vergoeding, strydig met menseregte en bepalings van onder meer die Universele Verklaring van Menseregte en die Afrika-Handves van Menseregte is.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, het gesê AfriForum het sedert 2017, toe die ANC besluit het om met ʼn proses van onteiening sonder vergoeding te begin, kommer oor die gevolge van so ’n menseregtevergryp onder die aandag van senior politici en amptenare in onder meer Europa, Brittanje, die VSA en strukture van die VN gebring.

Die Nederlandse parlementslid, Martijn van Helvert. (Foto: Facebook)

Die Nederlandse parlementariër wat die mosie ingedien het, Martijn van Helvert, is een van diegene wat sedertdien deurlopend van inligting in dié verband voorsien word.

Die mosie is maar die jongste voorbeeld van toenemende buitelandse teenkanting teen pogings om onteiening sonder vergoeding te wettig en toe te pas. Verlede jaar het dit byvoorbeeld aan die lig gekom dat Nederland en vier van Suid-Afrika se ander vernaamste handelsvennote (die VSA, Brittanje, Duitsland en Switserland) ’n memorandum aan die Suid-Afrikaanse president gestuur het waarin kommer oor onder meer die beleidsonsekerheid oor eiendomsregte uitgespreek is, het Bailey gesê.

Volgens Bailey is die mosie toevallig in dieselfde week dat meer getuienis in die ondersoek na staatskaping aangehoor is teen Bruce Koloane, wat tans die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland is.

In 2017 het die sogenaamde #GuptaLeaks-ondersoekspan beweer dat Koloane sy posisie as ambassadeur misbruik het om sakeooreenkomste vir die omstrede Gupta-familie te beding.

Ten spyte hiervan, is geen ondersoek skynbaar deur die regering teen hom onderneem nie en dien Koloane steeds in dié sensitiewe posisie, wat weinig kan doen om Nederlandse vertroue in die Suid-Afrikaanse regering te bevorder.

“Die ekonomiese welstand en stabiliteit van Suid-Afrika raak nie net alle inwoners van die land nie, maar ook buitelandse beleggers en sakevennote. Dit help nie om te wag tot menseregtevergrype plaasvind nie. Standpunt moet betyds ingeneem word daarteen, veral wanneer ’n land reeds in ’n ekonomiese krisis verkeer, soos wat met Suid-Afrika die geval is,” het Bailey gesê.

Sy het gesê burgerlike instellings soos AfriForum speel ʼn belangrike rol om korrupsie en selfvernietigende beleide, soos dié van onteiening sonder vergoeding, onder buitelandse politieke en handelsvennote se aandag te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan du Bruyn ·

Sluit aan by Afriforum!!!!. Dit is die regte ding om te doen.

Manie van Worcester ·

Absoluut, wonder waar die klomp nou is wat gese het die video van Van Helvert sal niks te weeg bring, dinge het nou begin roer. Baie dankie Afriforum en laat ons nie VF+ vergeet, ook hulle doen baie. Mense asb ondersteun Afriforum deur aan te sluit en maak hulle hand sterk so ook met VF+

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.