AfriForum vra dat KZN tot rampgebied verklaar word

Die KwaMashu-winkelsentrum in KwaZulu-Natal. (Foto: Twitter)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n skrywe aan die KwaZulu-Natalse premier gerig rakende die situasie wat tans binne dié provinsie heers en het aangedui dat die huidige toedrag van sake die verklaring van ’n rampgebied en dringende ingryping van die provinsiale regering regverdig.

AfriForum meen dat dit duidelik is dat die onluste, met gepaardgaande geweld en vandalisme, wat reeds oor die afgelope vier dae plaasvind nie onder beheer is nie. Ingevolge artikel 40 van die Wet op Rampbestuur is die premier (voorsitter van die uitvoerende gesag) hoofsaaklik verantwoordelik vir die koördinering en bestuur van provinsiale rampe wat in die provinsie voorkom. Die situasie met betrekking tot die onluste wat tans aan die orde van die dag is, sorteer volgens AfriForum onder die definisie van ’n ramp, soos beskryf in die Wet.

“Met die eerste tekens moes die munisipaliteite hul rampbestuursplanne geaktiveer het,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslikeregeringsake. “Met die situasie wat geëskaleer het, moes die provinsiale departement meer toegetree het en die situasie verder bestuur het. Die provinsiale rampbestuursplan moet geïmplementeer word aangesien die verkryging van bykomende finansiering van kardinale belang is.”

Mostert verduidelik dit sal die vermoë bied om dienste te verkry wat ’n meer voldoende toegeruste werkmag het asook private sekuriteitsmaatskappye om die onluste te onderdruk, eiendomme en die lewensbestaan van die burgers wat met hierdie krisis gekonfronteer is, te beskerm.

“Alhoewel burgers hulself mobiliseer in hierdie tyd om hul onderskeie gemeenskappe te beveilig weens die staat se onvermoë om dit te doen, verskoon dit nie die staat om hulle pligte te versuim nie,” voeg Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, by. “Addisionele ondersteuning en hulpbronne moet beskikbaar gestel word om die chaos die hoof te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anel ·

Watter rampbestuurplan? Het hulle ooit do iets en weet hulle dasrvan? Ek vra maar net.

Cherokee ·

Vanmiddag meer as ‘n uur gery aan minder as 7 kilometer na Riverside in Durban-Noord, om een van die min oop winkelsentrums te besoek. Oponthoude deur versprerrings in die pad. Toe ons uiteindelik die mall bereik, en na die rye mense in die strate kyk, het ons terug gery na een oop Spar winkel naby ons woning, waar brood gerantsoneer word soos in een brood per kliënt. Moes buitendien meer as ‘n uur wag todat ‘n nuwe besending brood gebak is. Beplanning het het dit een brood in my vrou se trollie en een in myne gemaak. Die rakke was leeg en ons kon slegs die nodigste in die trollie pak.

Gisteraand het ons ‘n vergadering in die straat gehou waar bemanning vir versperrings en patrollies gereël is.

Snowball ·

KZN gaan nooit weer dieselfde wees nie. Dit lyk soos ‘n oorloggeteisterde gebied. Simpatie en sterkte vir almal wat nou daar van dag tot dag moet leef met hierdie spanning, ongerief en bedreigings. Ek sien daar is privaat individue wat brood en ander nodige voorraad soos medisyne vanaf Gauteng en ander plekke bymekaar maak en deurvat. Ek weet van een wat dit per vliegtuig gaan doen. As inwoners van KZN moet hoop op provinsiale rampbestuurplanne en hulp gaan hulle tevergeefs wag. Gewone burgers gaan moet hande vat en steun verskaf.

Nozi ·

Hulle het gister al van Lanseria af opgestyg met baie kos voorraad na KZN. Ek weet van omtrent 7 KingAirs wat gesponser was en vlieeniers het gratis die vlugte gedoen. My kind was een van die wat gister en vandag genomineer het om gratis vlugte na KZN te doen.

Tiptol ·

As dit nie ‘n rede is om dit ‘n rampsgebied te verklaar nie, dan weet ek nie. Hulle wil maar net nie erken dat die hele land nou onder die anc se bestuur ‘n rampsgebied is nie.

Jack ·

Solidariteit maak soos die Indiers van gauteng en sorg dat ons mense kos kry deur dit aan te ry onder eie beskerming. Sapd kan en sal niks doen nie. Vir die ramptoestand sal daar eers n kommissie aangestel moet word.

Frik ·

Danksy hierdie ANC-narre wat hulleself voorhou as ‘n regering moes die hele Suid-Afrika al lankal as ‘n rampgebied verklaar geword het.

Kokerboom ·

Ek deel nie jul optimisme Afriforum. Maar dankie dat jul probeer. Word waardeer
Kan winkelsentrums, hospitale skole klinieke dws belangrike punte vir gemeenskapsvoortbestaan nie maar as nasionale sleutelpunte hanteer word. Net voorstel! Kan ‘n nasionale beleid ook aanvaar word dat GEEN betogings op hoofroetes geduld sal word?

Harley Davidson ·

Dit is soos om ‘n pleister op ‘n besering te plak wat eintlik ‘n operasie benodig gebruik julle vermoë om te verhoed dat dit weer gebeur en dat daar planne in plek is om te verseker dat dit nie weer kan gebeur nie.( Soos ‘n onafhanklike tuisstaat met bevoegde leiers en polisie)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.