AfriForum vra kommentaar van kiesers oor Suid-Afrikaanse verkiesing in buiteland

stemSuid-Afrikaanse kiesers wat geregistreer het om in die buiteland te stem, sal Woensdag hulle kruisies vir die 2014-nasionale verkiesing kan trek.  AfriForum het kiesers weer herinner om beide hulle Suid-Afrikaanse paspoorte en identiteitsdokumente of slimkaarte met hulle na die stempunte te neem.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, is die stemreg van Sid-Afrikaners buite die grense ʼn kwessie wat AfriForum na aan die hart lê.  Om die rede was AfriForum as vriend van die hof in die grondwethofsaak van 2009 ten gunste van hulle deelname betrokke en is ook deelgeneem aan voorleggings aan die portefeuljekomitee van binnelandse sake in 2013 om hierdie kiesers se belange te bevorder.

“Dit is jammer dat daar so min stempunte in die buiteland is, veral in groot lande soos Australië, Kanada en die VSA.  AfriForum besef dat afstande, tyd en reiskoste talle mense gaan weerhou daarvan om te stem.  Ons het egter ook begrip vir die finansiële las wat elke aanvullende stempunt meebring.  Om die rede hou AfriForum aan met gesprekke met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) om te probeer verseker dat bekostigbare en betroubare opsies soos elektroniese stemme teen die volgende verkiesing moontlik sal wees,” het Bailey gesê.

AfriForum het waardering vir die wyse waarop die OVK inligting oor die registrasie- en stemproses aan kiesers in die buiteland bekendgemaak het.  AfriForum se Wêreldwyd webwerf, nuusbriewe en Facebook-groep, asook politieke partye, internet radiostasies soos TunaRadio in Nieu-Seeland, sowel as ander belange- en sosiale groepe vir Suid-Afrikaners buite die land het die inligting ook wyd versprei.  “Ons neem kennis van die klag dat almal nie geweet het dat ʼn VEC 10-vorm ingedien moes word nie, maar glo voornemende kiesers het ook ʼn verantwoordelikheid om hulleself van die vereistes te vergewis en die OVK-webwerf en -dienssentrum het die inligting maklik toeganklik gemaak,” het Bailey bygevoeg.

“Omdat AfriForum dit steeds meer toeganklik vir Suid-Afrikaners buite die landsgrense wil maak om aan nasionale verkiesings deel te neem, wil ons graag hoor van die goeie of slegte ervarings wat kiesers op 30 April 2014 ervaar, asook van kiesers in die buiteland wat deur omstandighede buite hulle beheer weerhou is daarvan om vanjaar te stem.  Inligting kan gestuur word aan [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frik Lotz ·

Dis te danke aan VF Plus dat mense in buiteland kan stem. Hopelik sal meerderheid van hul VF Plus stem. Dankie VF Plus!

Shannon ·

Meeste sal DA stem. Nes 20 jaar terug.
Watter aard verskuiwende gebeurtenis kan ons te wagte wees indien hulle VF stem Frik ? New and improved wigte en teen wigte ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.