AfriForum waarsku al jare oor waterkwaliteit

Lambert de Klerk en Dewet Ungerer versamel watermonsters. (Desember 2020) (Foto: AfriForum)

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hy is nie verbaas oor die huidige cholera-uitbreking in Gauteng en die Vrystaat nie. Dié organisasie is al etlike jare besig met verskeie hofaansoeke en strategieë oor die kwaliteit van water in die land en die gebrekkige rioolstelsel wat daartoe bydra.

“AfriForum het al drie verskillende hofaansoeke in Parys gedryf omdat die water ongeskik is vir menslike verbruik,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake. “Die departement van water en sanitasie (DWS) en die munisipaliteit is dus die afgelope drie jaar reeds bewus van hierdie kwessie, maar is nie bereid om dit op te los nie.”

Lambert sê die DWS het in samewerking met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in hierdie dorp toegetree, maar is onwillig om die probleem te takel. Dít nadat AfriForum al in 2020 ’n werkbare plan verskaf het om die waterwerke weer op standaard te kry.

“Hammanskraal naby Pretoria gaan nou gebuk onder ’n cholera-uitbreking. AfriForum dryf al sedert 2011 ’n hofsaak teen die Tshwane-metro omdat die Rooiwal-rioolwerke grotendeels wanfunksioneel is en die Apiesrivier besoedel. Dié rivier vloei verby die Temba-watersuiweringsaanleg, wat die Hammanskraal-gemeenskap van water voorsien.”

Besoedeling in die Vaalrivier (Augustus 2018) (Foto: AfriForum)

Hy meen die groot probleem is die DWS se onvermoë om op te tree. “Hulle is van mening dat die munisipaliteit nog ’n kans gegun moet word of dat Cogta verantwoordelikheid moet aanvaar. Ongelukkig is die verskillende regeringsfere en departemente te bang om met mekaar te verskil.

“Die DWS is ook nie konsekwent in sy optrede en besluitneming nie. Terwyl dié departement die een dorp se waterkrisis probeer oplos, wil hy ’n ander dorp se waterkrisis in die hof beveg. Dit is duidelik dat ’n politieke agenda daaragter skuil.”

Gemeenskapslede wat vermoed dat die water in hul betrokke dorp besmet is, word aangemoedig om AfriForum te kontak. AfriForum sal die nodige toetse doen om te verseker dat die water op standaard is.

“Ons was by een van die gemeenskapsvergaderings in Parys waar die munisipaliteit dit moet fasiliteer en terugvoer gee aan die verskeie gemeenskapsorganisasies. Die tegniese bestuurder kon geen antwoorde verskaf nie – hy het ook nie geweet waar sy personeel is wat die vergadering moes bywoon nie. Hy het ook erken dat die plan wat hulle nou in Parys implementeer die een is wat AfriForum drie jaar gelede beskikbaar gestel het,” sluit De Klerk af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

En die leier van gespuis otken greeld dat die regering n mislukte regering js. Niemand is so blind as die een wat nie wil sien nie, en ook nie kan sien nie.

Manie ·

Tot nou toe was SA grotendeels sulke tipe uitbrake wat gereeld in ander Afrika lande voorkom, gespaar, maar ek is bevrees dat die besoedeling van riviere en damme wat drinkwater moet voorsien, asook die regering se onvermoë om dit reg te stel, nog baie sterftes gaan veroorsaak.

skurweberg ·

Dit is duidelik dat die hofregstelsel in SA misluk het. Daar is nou soveel sake wat oor jare steeds sloer waarvoor daar bewyse is dat AfriForum oplossings. aangebied het, maar geignoreer is. Mense gaan dood, entiteite stort in duie, miljoene word aan hofsake spandeer. Iets Anders sal nou gedoen moet word, voordat “tegnokrasie” totaal oorneem en ‘n Robot sal sê “skuldig of onskuldig”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.