AfriForum waarsku en gee wenke oor veldbrande

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Hoë temperature, lae humiditeit en sterk winde wat kenmerkend van die laat wintermaande is, word vir die komende weke voorspel en sal voortduur tot en met die eerste goeie reënval. Hierdie toestande skep ʼn uiters hoë moontlikheid vir veldbrande.

AfriForum waarsku dat dit veral in die noordelike gedeelte van die land, wat nou in hul droë seisoen is, kan voorkom. Provinsies wat geraak word, is die Noord- en Oos-Kaap, die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal.

Weens die hoë brandgevaar, is wegholveldbrande ʼn algemene verskynsel wat verliese aan duisende hektaar weiding en ekonomiese skade vir boere tot gevolg het.

AfriForum het ʼn opsommende gids saamgestel oor hoe om gereed te maak en te wees wanneer jou omgewing deur ʼn veldbrand geteister word. Dit sluit onder meer in hoe om voorsorg te tref, sowel as jou oorlewing tydens en ná ʼn veldbrand.

Punte wat in die gids uitgewys word, en waaraan mense nie dadelik dink nie, is om altyd belangrike dokumente in ’n brandvaste kluis te bêre en wagwoordbeskermde digitale afskrifte te maak. ʼn Ander belangrike voorsorgmaatreël is om jou persoonlike beskermende toerusting (PBT), soos ʼn N95-gasmasker wat rookdeeltjies filtreer, gereed te hou vir ingeval jy in ʼn huis vasgekeer is of moet help om die veldbrand te bestry.

Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum, sê aangesien die brandgevaar hoog is en die gras droog is, versprei brande baie vinnig en is die vlamme se hitte baie warm. “Die voorpunt van ʼn vuur se spoed kan 4 km/h oorskry en die vlamme kan tussen vyf en 15 meter hoog wees.

“Dít kan verlies aan eiendom veroorsaak en selfs tot die dood van mense en diere lei, aangesien veldbrande gevaarlik en onvoorspelbaar is. Daar moet dus meer gedoen word om elke Suid-Afrikaner van die gevaar van veldbrande bewus te maak,” sê sy.

Volgens AfriForum is daar veral groot uitdagings met veldbrande in landelike gemeenskappe. ʼn  Nuwe tendens wat kop uitsteek, is dié van stropers wat ʼn veldbrand veroorsaak om diere in ʼn sekere rigting te dwing. Honde word dan losgelaat om hierdie diere in die spesifieke rigting aan te jaag, wat dit gevolglik makliker maak vir die jagter om die diere te jag.

ʼn Ander oorsaak van veldbrande is asgate waarin vullis gebrand word, terwyl ander oorsake selfs kwaadwillig kan wees.

Kyk hier en hier na nog riglyne oor wat om voor, tydens en ná veldbrande te doen.

  • Die word, jagters is ná publikasie met stropers vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Grootste fout om in met voertuie in ongebrande veld te staan. Vra vir my hoe amper het ons veldbrandbakkie amper afgebrand as die wind draai.

Grassie ·

Dit is nie “jagters” wat in hierdie berig genoem word nie, dit is plunderende uitvaagsels.

Frank ·

Ja, asseblief tog, dis nie jagters nie, dis WILDDIEWE.
Veldbrande maak sy eie wind, kan ongelooflik vinnig beweeg.
Dis tans Rooityd, jy mag nie meer enigsins veld aan die brand steek vir voorbrand, gemors brand ens ens, tensy jy spesiaal aansoek rig. Maar…… wanneer jy reeds ‘n veldbrand het, steek jy windaf veld aan die brand, beheersd.

Du Preez de Villiers ·

Die word, jagters is ná publikasie met stropers vervang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.