AfriForum: ‘Watergehalte ’n tikkende tydbom’

Argieffoto

Argieffoto

“Ons is uiters besorg oor die swak bestuur deur waterreguleerders in Suid-Afrika.” Só sê Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, nadat die langverwagte Bloudruppel- (drinkwater) en Groendruppel- (rioolafvalwater) verslag vir 2013, geëvalueer is.

“2014 was ’n tragiese jaar waarin gemeenskappe as gevolg van besmette drinkwater gesins- en familielede verloor het. In Bloemhof is drie babas dood, en in Sannieshof 13. Hierdie sterftes kon voorkom gewees het indien die Blou- en Groendruppel-verslag betyds vrygestel is.”

Kleynhans het gesê die manier waarop water in Suid-Afrika gereguleer word, vir al sy burgers ’n bedreiging inhou. “In 2013 is 152 munisipaliteite en 1 009 drinkwaterstelsels geëvalueer. ’n Skokkend lae 25% van die munisipaliteite met Bloudruppel-status en baie min, indien enige, gemeenskappe is van probleme met die gehalte van drinkwater in kennis gestel. Privaat nywerhede word krimineel met waterbesmetting en nalatigheid verbind, maar die regering beskerm steeds sy mense en laat hulle skotvry wegkom, terwyl ander Suid-Afrikaners die gevolge van hulle nalatigheid moet dra.”

In die 2013 Bloudruppel-opsomming dui die departement van water en sanitasie aan dat die Bloudruppel-eveluaring nie ten doel het om swak of hoërisiko-drinkwaterdienste en watergehalte te kriminaliseer nie. Dit dien eerder om die waterdienste-instellings in die land te waarsku oor die vlak van die risiko wat betrokke is by hulle waterdienste en die gehalte van die water wat aan die burgers van Suid-Afrika gelewer word.

“Drink- en rioolwater wat nie doeltreffend behandel word nie, hou effektief beduidende gesondheids-, omgewings- en voedselsekerheidsrisiko’s vir gemeenskappe regoor Suid-Afrika in. Nalatigheid ten opsigte van beplanning, die aanstelling van personeel, begroting, bestuur en die instandhouding van infrastruktuur veroorsaak geweldige besoedeling van ons waterhulpbronne,” het Kleynhans gesê.

AfriForum het in Junie 2014 ’n PAIA-aansoek ingedien om toegang tot die inligting te verkry, maar het eers op 20 Januarie 2015 ’n antwoord ontvang. Die burgerregte-organisasie het gesê dit lyk asof die inligting doelbewus voor die 2014-verkiesing van die publiek weerhou is, en tot op hede is die publiek nog nie in kennis gestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annemarie

Watergehalte raak almal, ryk én arm. Al kan jy skoon drinkwater bekostig, bedreig ander toksiese stowwe bv swaar metal een afval van nywerhede ons watergehalte op ‘ n lewensbedreigende skaal. Hierdie stowwe beland weer in ons almal se kos wat ons eet, ook in die politici en ander apatiese en onbekwame amptenare s’n. Wanneer gaan iemand wakker skrik?

SNEL

Goeie aarde, die land val uitmekaar uit!!! Is daar ooit n stelsel waarmee nie drama is nie? Ek stem, wanneer gaan iemand in n hoë stoel wakker skrik of gaan iemand iets daaraan doen? Daar gaan nog baie sterf van die swak watergehalte en toestand. Dis die water wat gebruik word op landerye vir ons groente en vrugte en so tref die situasie absoluut almal van ons.

Drieks

Mense sluit aan by Afriforum. Ons kan saam deur hulle die regering tot verantwoording roep.
Ons moet die land deur hofsake regeer……….